Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Cyril skaar hom by Gordhan

Pres. Cyril Ramaphosa het hom by Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings, in sy hofstryd met adv. Busisiwe Mkhwebane, openbare beskermer (OB), geskaar.

Die presidensie het Woensdag in ’n verklaring bevestig dat ’n eedsverklaring by die hof ingedien is ter ondersteuning van Gordhan se aansoek om Mkhwebane se regstellende optrede teen die minister ter syde te laat stel en dat Ramaphosa binne 30 dae dissiplinêr teen Gordhan moet optree.

Mkhwebane het luidens haar verslag bevind dat Gordhan vir die parlement gelieg het oor ’n ontmoeting met die Gupta-familie en dat hy ’n rol gespeel het in die stigting van die sogenaamde geheime spioenasie-eenheid by die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID).

Tugstappe voortydig

Ramaphosa voer aan dat dit “voortydig” van hom sal wees om gepaste dissiplinêre stappe teen Gordhan te doen terwyl daar ’n regshersiening van Mkhwebane se verslag hangend is.

Ons het nooit die amp van die OB gebruik om die doelstellings van staatskaping te bevorder nie.

“Dit is alles kwessies waaroor die hooggeregshof in Pretoria in die minister se hoofhersieningsaansoek moet besluit,” lui die verklaring.

Onder die omstandighede, sê die president, sal dit voortydig wees vir hom om “gepaste dissiplinêre optrede” teen Gordhan in te stel terwyl sy hersieningsaansoek nog hangend is en die twispunte oor die geldigheid van die ondersoek na en bevindinge teen Gordhan, asook die omvang van die president se “dissiplinêre” magte oor Gordhan, nog onopgelos is.

'OB se amp is nooit misbruik'

Mkhwebane het in haar beantwoordende eedsverklaring op Gordhan se hofaansoek, waarmee hy haar verslag oor die geheime eenheid ter syde wil laat stel, ontken dat sy ’n agent vir staatskaping is. Dít nadat Gordhan in hofstukke aangevoer het dat Mkhwebane die staatskapingprojek aanhelp deur hom te teiken.

“Net vir volkome duidelikheid: Ek en my amp het nie in korrupte bedrywighede betrokke geraak nie. Ons is nie korrup omdat ons teen die aansoeker bevind het nie. Ons het nooit ons heilige Grondwetlike magte gebruik om partydige politieke belange of korrupsie te bevorder nie,” sê Mkhwebane in haar hofstukke.

“Ons het nooit die amp van die OB gebruik om die doelstellings van staatskaping te bevorder nie.”

Julius Malema, leier van die EFF wat gesê het dat sy party ook by die hofstryd betrokke sal raak, het Woensdag tydens Ramaphosa se begrotingswetsontwerpstemming beweer dat hy ’n slagoffer van die geheime eenheid by die SAID was.

“Die geheime eenheid en sy politieke hoofde is grotendeels aan die spits van ’n mediasameswering en faksie wie se rol dit is om enigeen op te hang wat teen die vorming van die eenheid of sy aktiwiteite praat,” sê Malema.

“Ek het ’n slagoffer van die eenheid geword. Ek het in 2010 na hulle gegaan en aan hulle ’n dokument gegee wat al hierdie inligting bevat. Daarna het al my probleme begin.”

Ivan Pillay, voormalige adjunkkommissaris van die SAID, het Maandag ook hofstukke ingedien waarin hy aandui dat hy die OB se verslag ter syde wil laat stel. Die OB het bevind dat Gordhan onregmatig ’n vervroegde pensioenpakket aan Pillay uitbetaal het.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.