Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Cyril ‘soek ’n plan’ vir ’n dagga-boerdery

As pres. Cyril Ramaphosa se ministers almal hul nuwe prestasie-ooreenkomste nakom, sal regstellende aksie op bestuursvlak in die private sektor skerp toeneem, die land reeds oor ’n jaar mediese dienste deur die Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) begin aankoop en driekwart van wanfunksionerende munisipaliteite binnekort skoon oudits kry.

Dlamini-Zuma moet kyk na slim-stede.
Mantashe moet kyk na Eskom se reserwemarge.
Didiza moet baie vorder met grondherverdeling.

Standbeelde vir militêre veterane, kommersiële daggaplantasies en nuwe kernkragsentrales is ook deel van die ooreenkomste.

Ramaphosa het Donderdagaand in sy staatsrede bekend gemaak prestasie-ooreenkomste is met elk van sy 28 kabinetsministers gesluit. Alles is aanlyn beskikbaar sodat Jan en alleman kan kyk of ministers hul werk doen.

Een teiken wat beloof om baie kommentaar te ontlok is dat Thulas Nxesi, minister van indiensneming en arbeid, moet sorg dat minstens die helfte van die middel- en senior bestuurders in die land teen 2024 swart Afrikane is. Op die oomblik is dit 23,5% op senior bestuursvlak en 43,2% op middelbestuursvlak, lui die 2020-verslag van die kommissie vir billike indiensneming.

Nxesi moet ook toesien dat 98% van alle aansoeke om werkloosheidsversekering en kraamvoordele binne agt dae goedgekeur of afgekeur word.

Minstens 50% senior bestuurders moet swart wees.

Die prestasie-ooreenkomste mik enersyds om dienslewering op grondvlak drasties te verbeter, korrupsie hok te slaan en te sorg dat ministers vrae beantwoord in die parlement en andersyds om te verseker dat ANC-beleid in werking gestel word. Die prestasie-ooreenkomste is omvattende dokumente met volledige besonderhede van die teikens wat die onderskeie ministers moet haal.

* Dr. Nkosazana Dlamini-Zuma, minister van samewerkende regering en tradisionele sake, moet toesien dat minstens 158 van die 210 munisipaliteite wat verlede jaar gekwalifiseerde ouditverslae ontvang het, teen 2024 ’n skoon oudit van die oudit-generaal kry.

* Dlamini-Zuma moet ook saam met Thoko Didiza, minister van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling, teen einde volgende maand reeds drie stede identifiseer wat teen einde 2024 herontwerp en toegerus sal wees as “slim-stede”.

* Gwede Mantashe, minister van minerale bronne en energie, moet toesien dat die land teen 2024 kontrakte onderteken het vir die bou van kernkragsentrales wat 2 500 megawatt kan opwek.

Mantashe moet ook sorg dat Eskom se reserwemarge vir elektrisiteit styg van die huidige 4,3% tot 15% teen 2024. Die marge van 15% word internasionaal as die minimum reserwe bestempel om ’n stabiele kragnetwerk te bedryf sonder die gevaar van beurtkrag.

Mantashe moet ook toesien dat ’n afsonderlike transmissiemaatskappy teen 2024 uit Eskom ontbondel en in bedryf gestel is.

Mboweni moet sorg dit word al hoe makliker om sake te doen.
Zulu moet maatskaplike toelaes vermeerder.
Mbalula moet spoorvrag vermeerder.

* Didiza se prestasie-ooreenkoms vereis ook dat sy voor einde vanjaar ’n plan vir die verbouing van dagga gefinaliseer en goedgekeur het.

Sy moet ook dramatiese vordering maak met die herverdeling van grond: Sy moet toesien dat 9 miljoen ha van grond in staatsbesit teen 2024 herverdeel is.

Daarvan moet 250 000 ha reeds vanjaar aan boere beskikbaar gestel word vir voedselproduksie.

Didiza moet ook toesien dat landbou-uitvoer vanjaar reeds met 4% toeneem.

* Stella Ndabeni-Abrahams, minister van kommunikasie en digitale tegnologie, moet toesien dat die land teen Maart 2024 oor ’n gelisensieerde vyfde-generasie (5G)-spektrum beskik.

* Barbara Creecy, minister van bosbou, visserye en omgewingsake, moet sorg dat 30% van die vullis wat op vullishope gestort word, teen 2024 “herlei word” vir hersirkulering en hergebruik.

* Tito Mboweni, minister van finansies, moet toesien dat Suid-Afrika teen 2024 onder die 50 lande ter wêreld is waar dit die maklikste is om sake te doen, volgens die Wêreldbank se indeks. Die land lê 84ste.

Hy moet ook toesien dat konsepwetgewing vir die stigting van ’n staatsbank teen volgende maand gereed is.

* Dr. Zweli Mkhize, minister van gesondheid wat op die oomblik heeltyds besig is om entstof vir Covid-19 te bekom, sal ’n dramatiese verskuiwing in die land se gesondheidstelsel teweeg moet bring. Want teen 2022-’23 moet die komende NGV gesondheidsdienste begin aankoop en teen 2030 moet 90% van die land se gesondheidsdienste deur dié kanaal aangekoop word.

* Lindiwe Zulu, minister van maatskaplike ontwikkeling, moet toesien dat die getal maatskaplike toelaes van die huidige net meer as 18 miljoen teen 2024 vermeerder word met minstens 2,3 miljoen.

* Ebrahim Patel, minister van handel en nywerheid, moet toesien dat daar teen einde vanjaar wysigings aan die Maatskappywet gereed is wat voorsiening maak daarvoor dat werkers kan deelneem aan die korporatiewe beheerstruktuur van die maatskappye waar hulle werk.

* Fikile Mbalula, minister van vervoer, moet sorg dat 10% van die vrag wat per pad vervoer word, teen 2024 per spoor vervoer word. En élkeen wat op Gauteng se e-tol-hoofweë ry, moet teen 2024 daarvoor betaal.

* Dlamini-Zuma, wat berug is daarom dat sy haar min steur aan parlementêre vrae deur parlementslede, moet volgens haar ooreenkoms sorg dat sy 95% van die vrae beantwoord.

Dit verskil van ander ministers, wie se ooreenkoms vereis dat hulle 100% van die vrae beantwoord wat deur parlementslede aan hulle gestel word.

* Nosiviwe Mapisa-Nqakula, minister van verdediging en militêre veterane, moet toesien dat drie monumente vir gevalle militêre veterane teen 2024 opgerig word.

Meer oor:  Cyril Ramaphosa  |  Ministers  |  Kabinet
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.