Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Jiba kap terug na Cyril
KYK ONDER VIR DIE JONGSTE VERWIKKELINGE IN DIE STORIE

Pres. Cyril Ramaphosa het advv. Nomgcobo Jiba en Lawrence Mrwebi, onderskeidelik nasionale adjunkdirekteur van openbare vervolging en hoof van die gespesialiseerde handelsmisdaadeenheid, in die pad gesteek.

Vroeër is oor die uitgelekte verkorte verslag oor die geskiktheid van die advokate in die nasionale vervolgingsgesag (NVG) vir hul poste berig.

Nomgcobo Jiba
Nomgcobo Jiba Foto: Netwerk24
Adv. Lawrence Mrwebi Foto: Argief

Ramaphosa het die kommissie van ondersoek onder leiding van oudregter Yvonne Mokgoro gelyk gegee oor die twee amptenare se onbevoegdheid.

Die advokate was geskors hangende die kommissie se ondersoekwerk.

Jiba, wat ook in ‘n stadium as die nasionale direkteur van openbare vervolging waargeneem het, word daarvan beskuldig dat sy by die NVG na oudpres. Jacob Zuma se belange omgesien het en hom en mense naby aan hom beskerm het. Sy en Mrwebi het ten nouste saamgewerk.

Luidens die verslag het haar besluite as adjunkdirekteur, “wat almal op hersiening geneem is”, asook die kritiek van die howe teen haar, “skande oor die NVG gebring”.

 “Mrwebi se optrede was openlik strydig met wat van ’n persoon in sy posisie verwag word. Dit is daarom duidelik dat hy versuim het om sonder begunstiging en vooroordeel op te tree,” lui die verslag verder.

 Albei advokate se prokureurs het bevestig dat hulle vertoë aan die president gerig het oor waarom hy hulle nie behoort af te dank nie. Amos Vilakazi, Mrwebi se prokureur, het vroeër aan Netwerk24 gesê die kommissie se bevindinge “slaan ons kliënt dronk - veral in die lig van die verontskuldigende getuienis wat voor die Mokgoro-kommissie geplaas is”.

13:08 

Maak my gevoelens saak? vra Jiba laggend

“Hoe voel ek? Maak my gevoelens saak?” het Jiba, vorige nasionale adjunkdirekteur van openbare vervolging, laggend gevra, voordat sy Netwerk24 na haar prokureur verwys het vir kommentaar.

Jiba het pas verneem dat sy deur pres. Cyril Ramaphosa in die pad gesteek is.

Jiba is daarvan beskuldig dat sy by die NVG na oudpres. Jacob Zuma se belange omgesien het en hom en mense naby aan hom beskerm het.

Sy en Mrwebi het ten nouste saamgewerk.

Anton van Dalsen van die Helen Suzman-stigting sê die stigting verwelkom die president se besluit. “Die Mokgoro-verslag was so breedvoerig dat die president eintlik nie ‘n ander keuse gehad het as om die twee advokate af te dank nie.”

Van Dalsen benadruk egter ook dat die besluit nou na die parlement verwys word.

“Ons is van mening Jiba en Mrwebi moet niks met die NVG te doen hê nie."

Luidens 'n verkorte weergawe van die verslag wat Netwerk24 het, moet die parlement binne 14 dae van die president se besluit in kennis gestel word.

Sedert die boodskap ontvang is, het die algemene vergadering 30 dae tyd om die president se besluit te bekragtig, of die teendeel te besluit.

As die vergadering besluit om Jiba en Mrwebi uit die poste te verwyder, moet Ramaphosa hulle verwyder.

Andersyds moet die president hulle weer in hul poste aanstel.

Jiba en Mrwebi is intussen geskors.

Lawson Naidoo van die Council for the Advancement of the South African Constitution (Casac) het by navraag gesê die storie met Jiba gaan so ver terug as 2015.

“Hoewel die kommissie nie strafregtelike bevindings gemaak het nie, lê dit dalk gronde vir die NVG om strafregtelike vervolging te oorweeg. Dalk word die 2015-besluit om die (strafregtelike) klagte teen haar terug te trek, weer hersien.”

Genl.maj. Johan Booysen, oudhoof van die Valke in KwaZulu-Natal, is in 2012 van rampokkery aangekla nadat hy daarvan beskuldig is dat hy ’n moordbende in die provinsie bedryf het.

Jiba het die vervolging gemagtig. 

Regter Trevor Gorven het in November 2014 in die hooggeregshof in Durban die vervolging ter syde gestel omdat daar volgens hom geen rasionele verduideliking ter ondersteuning van Jiba se aantygings teen Booysen was nie. 

Jiba, wat intussen waargeneem het as nasionale direkteur van openbare vervolging (NDOV), is toe deur adv. Mxolisi Nxasana as NDOV vervang.

Toe sy teen die Gorven-uitspraak wou appelleer, het Nxasana met ’n ondersoek na Jiba se optrede teen Booysen begin.

Sy het in Julie 2015 in die streekhof in Pretoria op aanklagte van meineed en bedrog verskyn, maar adv. Shaun Abrahams, wat op sy beurt vir Nxasana vervang het, het die klagte teen Jiba teruggetrek.

Volgens Naidoo is dit deel van die proses om die NVG se aansien in die oë van die publiek te herstel.

“Die finale besluit oor die afdanking lê egter by die parlement,” sê hy.

Oproepe en boodskappe na die president se woordvoerder bly sedert Donderdag onbeantwoord.

13:49

Dadelik afgedank

Die presidensie sê pres. Cyril Ramaphosa het advv. Jiba en Mrwebi se ampsbekleding met onmiddellike effek beëindig.

“Die ondersoek wat gegrond is op die kritiek en ernstige aantygings teen hierdie twee amptenare op verskeie forums, die howe inkluis, het kritiese vrae oor hul bevoegdheid en geskiktheid vir hul poste gevra. Die president is ook besig om die vertoë deur advv. Jiba en Mrwebi in reaksie op die verslag te publiseer, sowel as die president se briewe aan die amptenare wat hulle van sy besluit inlig.”

Luidens die verklaring het oudregter Yvonne Mokgoro, wat die ondersoek na die amptenare se bevoegdheid gelei het, op 10 April met die president oor die bevindings in haar verslag vergader.

Luidens dié verslag is Jiba en Mrwebi ongebevoeg vir hul poste en is Ramaphosa aangeraai om hulle af te dank.

Die president het gevolglik die verslag met die geïmpliseerde amptenare gedeel en hulle uitgenooi om vertoë te rig.

Nadat hy die vertoë ontvang het, het hy albei in kennis gestel dat hy hul ampsbekleding met onmiddellike effek beëindig. Hulle was intussen nog geskors.

Ramaphosa het die Mokgoro-kommissie in Oktober verlede jaar op die been gebring. Hy wou met die ondersoek bepaal of Jiba haar diskresie na behore gebruik het ten opsigte van die uitvoering van strafregtelike verrigtinge namens die staat. Hy wou hê die ondersoek moet bepaal of Jiba hofprosesse gerespekteer het soos dit van ’n senior lid van die NVG verwag word.

Verder moes die kommissie vasstel of Mrwebi geskik is om as aanklaer sy werk te doen, in die besonder in sy hoedanigheid as ’n spesiale direkteur van openbare vervolging.

Onder die bekendes wat voor die kommissie getuig het, is adv. Willie Hofmeyr, ook ’n adjunk- nasionale direkteur van die NVG, adv. Glynnis Breytenbach, voorheen ’n senior aanklaer van die NVG en nou die DA se woordvoerder oor justisie, lt.genl. Anwa Dramat, voormalige Valke-hoof, en genl.maj. Johan Booysen, voormalige hoof van die Valke in KwaZulu-Natal.

In die verklaring benadruk die presidensie dat die ondersoek nié ‘n kommissie van ondersoek of ‘n tugverhoor was nie. “Dit was eerder ‘n interne proses om die president te adviseer oor die geskiktheid van die twee senior amptenare in hoë posvlakke in die nasionale vervolgingsgesag.”

Die presidensie haal ‘n paragraaf uit die verslag aan wat lees dat die staat “beskerming kan bied waar wette nie gerespekteer word nie”.

Lees die volle verslag hier.

14:27

ANC verwelkom besluit

Die ANC verwelkom pres. Cyril Ramaphosa se besluit om advv. Jiba en Mrwebi op aanbeveling van die Mokgoro-ondersoek af te dank.

“Die beslistheid van die president weerspieël die ANC se toewyding om ons land en sy instellings te vernuwe,” lui ‘n verklaring Vrydagmiddag.

“Die ANC hou vol dat vernuwing as ‘n regverdige proses gesien moet word, nie as ‘n sensasionele geleentheid nie. Die ANC-beheerde regering het verskeie kommissies, soos Mokgoro, op die been gebring, selfs al beskadig dit die reputasies van individue wat hulle met die ANC assosieer.

“Dit mag dalk nie ‘n maklike pad wees nie, maar die ANC het gekies om die land, die mense en hul behoeftes eerste te stel,” aldus die verklaring.

14:32

'Skande'

David Lewis, uitvoerende direkteur van Corruption Watch, sê:

“Ons is ingenome dat hierdie skandvlekke op ons grondwetlike demokrasie uit die hoë amp verwyder is. Hulle het skande oor die nasionale vervolgingsgesag (NVG) gebring, hul beroepe in onguns gebring en hulle het hul beduidende magte erg misbruik deur misdadigers te beskerm en verskeie ander onskuldige mense te vervolg. Heelwat van hul optrede was misdadig van aard en ons moedig die NVG aan om afsluiting te bring aan die ongure aangeleentheid deur die vervolging van Jiba en Mrwebi te prioritiseer.”

14:56

'Betaal vir jul sondes!'

Advv. Jiba en Mrwebi “moet betaal vir hul sondes”, sê Cope, nadat dié advokate deur pres. Cyril Ramaphosa afgedank is.

“Cope verwelkom (die president se) optrede om die advokate af te dank, maar afdanking is nie genoeg nie. Hulle moet volle verantwoordelikheid vir hul optrede aanvaar,” lui die party se verklaring.

Cope sê hy verwag dat daar teen die twee amptenare opgetree sal word. “Ons sê ons kan nie toelaat dat hulle gaan sonder om te betaal vir al die verkeerdhede wat hulle begaan het nie.”

15:26

DA reageer oor Snake en Snail

Die DA het Vrydag ook die president se aankondiging verwelkom om die “problematiese duo, advv. Nomgcobo Jiba en Lawrence Mrwebi – of "Snake" en "Snail" – die kodename wat Bosasa-hoofde hulle na bewering gegee het”, af te dank.

Die DA beweer die Bosasa-hoës het Jiba en Mrwebi groot bedrae geld betaal om hulle teen vervolging te beskerm.

“Dié twee het bygedra tot die kaping van die nasionale vervolgingsgesag (NVG)… Dis danksy hulle en hul medepligtiges dat ons nog nie enige suksesovolle staatskaping-, Bosasa- of Zuma-vervolgings gesien het nie, lui die DA-verklaring deur adv. Glynnis Breytenbach, DA-LP en voormalige senior aanklaer, wat ook in die Mokgoro-ondersoek getuig het.

“Waar dit kom by Snake en Snail, is Ramaphosa gedruk (om die besluit te neem). Hulle moes lankal afgedank word.”

15:51

NDOV reageer

Die president se besluit om advv. Jiba en Mrwebi af te dank, “het maande se onsekerheid by die nasionale vervolgingsgesag (NVG) beëindig”, sê adv. Shamila Batohi, nasionale direkteur van openbare vervolging.

“Dit (die besluit) het die NVG verlig van sekere probleme wat baie negatief op die organisasie se geloofwaardigheid en reputasie ingeweeg het, kwytgeskel. Hierdie bied die moontlikheid van ‘n nuwe pad wat die NVG moet loop.”

Sy sê verder dat die besluit op ‘n belangrike tyd in Suid-Afrika se geskiedenis plaasgevind het waar almal op soek is na regverdigheid wat moet geskied.

16:38

Jiba kap terug

Adv. Nomgcobo Jiba as destydse nasionale adjunkdirekteur van openbare vervolging, wat Vrydag weens onbevoegdheid deur die president afgedank is, wil sy besluit op hersiening laat neem om haar “naam en die nalatenskap van my professionele toewyding as ‘n aanklaer van meer as 27 jaar te herstel”.

Jiba het Vrydag in ‘n verklaring gesê sy is Donderdagaand van die president se besluit om haar uit haar pos te verwyder, in kennis gestel.

“Die (Mokgoro-) ondersoek en die president is verkeerd om my optrede weens die sake oor Mdluli en die spioenasiebande te betig. ‘n Kalm en streng hersiening van die getuienis sal bekend maak dat die appelhof korrek was toe dit bevind het daar is niks verkeerd met my betrokkenheid in die sake nie.”

Jiba en haar kollega, adv. Lawrence Mrwebi, voorheen hoof van die gespesialiseerde handelsmisdaadeenheid, is destyds van die rol van advokate geskrap weens die terugtrekking van strafregtelike klagte teen Richard Mdluli, geskorste hoof van die polisie se misdaadintelligensie-eenheid. Hul status is egter deur die appèlhof herstel en albei het na die NVG teruggekeer.

Jiba sê sy het by die Mokgoro-ondersoek gepleit om aanbevelings te maak wat die onafhanklikheid van die NVG versterk en is teleurgesteld dat hy daarin versuim het. “Daar is verskeie elementêre en groot foute in die uitspraak deur die ondersoek, wat ‘n hersieningsaansoek in die hooggeregshof sal ten toon stel.

“Die president het vir my gesê ek is ongekwalifiseerd om my land in enige posisie in die staatsdiens te dien. Ek kan die president verseker dat ek nie van my regte, soos aan alle landsburgers toegeken om hierdie fantastiese land volgens my roeping te dien, gestroop sal word nie.”

Sy sê haar aanstelling “was op ‘n manier geskiedkundig", want sy is die eerste swart Afrika-vrou wat as ‘n waarnemende direkteur van openbare vervolging aangestel is, die eerste beroepsaanklaer met vervolgingservaring en ook die eerste aanklaer wat uit die pos van adjunkdirekteur verwyder is.

“Die teleurstellende uitkoms van die ondersoek en die president se besluit sal nooit my hardverdiende ervaring kan uitvee nie en my ware stories al eendag in beter terme in die anale van Suid-Afrikaanse aanklaergeskiedenis vertel word.

“Die Ondersoek se bevindinge is uitermate onregeverdig teenoor my en ek aanvaar dit nie as ‘n finale verklaring van my lewe nie.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.