Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Cyril ‘stel land nie gerus oor onteiening’

Herhaalde waarskuwings oor die onherstelbare skade wat ’n gepeuter aan art. 25 van die Grondwet – wat onteiening sonder vergoeding moontlik sal maak – tot gevolg kan hê, bly op dowe ore val.

So het dr. Annelie Lotriet, voorsitter van die DA se parlementêre koukus, Woensdag in die parlement met die debat oor pres. Cyril Ramaphosa se staatsrede gewaarsku.

“Die president het die land verseker dat onteiening sonder vergoeding op so ’n manier gedoen sal word dat dit nie die ekonomie en voedselsekuriteit in die gedrang sal bring nie,” het Lotriet gesê.

Dr. Annelie Lotriet

Maar dit is nie wat gebeur nie.

“Sedert die begin van hierdie proses het sake en verbruikersvertroue tot ’n rekord-laagtepunt verswak. Die aantal landbougrond-transaksies het oor die land heen afgeneem.

“Private vaste beleggings toon geen vordering nie en onlangs is die Landbank deur Moody’s tot rommelstatus afgegradeer.

“Sy motivering daarvoor is die onsekerheid wat onteiening sonder vergoeding tot gevolg sal hê.”

Lotriet wou by Ramaphosa weet wat word van verbande wat op eiendom geregistreer is en sonder vergoeding onteien word.

“Soos dit blyk uit kommentaar vanuit die banksektor, gaan die persoon wat die verband uitgeneem het steeds daarvoor verantwoordelik wees. Met ander woorde, die staat kan jou eiendom onteien en jy moet steeds betaal,” sê Lotriet.

“Die gevolge hiervan, nie net op die individu nie, maar op die finansiële sektor, is baie groot.

“Daar is tans R1 600 miljard se verbande op residensiële, kommersiële en landbou-eiendom deur banke toegestaan.

“Die Landbank kan R53 miljard verloor. Dit kan die banksektor ’n dodelike knou toedien.

“Daar kan nie van ekonomiese groei sprake wees as daar nie beleidsekerheid is nie,” het sy gewaarsku.

“Die president en die ANC-regering se bontpratery en Orwelliaanse dubbelpratery oor wat die wysiging moet wees, bied nie beleidsekerheid nie.

Daar kan nie van ekonomiese groei sprake wees as daar nie beleidsekerheid is nie.

“Ons het nou die 18de Grondwetlike Wysigingswetsontwerp. Hiervolgens word voorsiening gemaak vir nul-rand-vergoeding en dat wetgewing gebruik sal word om die omstandighede te bepaal vir wanneer daar onteiening sonder enige vergoeding is. Dit opsigself is uiters problematies, aangesien grond nie slegs landbougrond is nie, maar enige grond insluit, sowel as enige verbeterings wat daarop aangebring is.

“Voorts word die goedkeuringsdrempel verlaag na ’n gewone meerderheid in die parlement.

“Maar, nog meer problematies is die aankondiging deur die president self ná die lekgotla van die ANC se nasionale uitvoerende komitee dat die ANC ’n wysiging wil aanbring wat die besluit oor die bedrag van vergoeding in die hande van die uitvoerende gesag sal laat.

“Dit beteken dat die howe se rol verklein word. Die argument wat aangevoer word, is dat die howe die proses vertraag. Derhalwe moet een van die mees fundamentele grondwetlike menseregte in die hande van ’n minister gelaat word.

“As iemand nie tevrede is nie, kan hy of sy eers ná die proses die howe nader om hersiening. Hersiening van die administratiewe proses, of hersiening van die substantiewe skending van ’n grondwetlike reg? Ons weet nie en u, mnr. die president, sê nie.”

Lotriet sê die Grondwet is onomwonde ten gunste van die beskerming van eiendomsregte en daarom moet vergoeding billik en regverdig wees.

“Die besluit van die president en die ANC dat die howe se rol as finale arbiter verminder word deur dit te beperk tot hersiening, verwyder die beskerming teen misbruik wat die Grondwet aan alle Suid-Afrikaners bied. Die rol van die howe word dus vervang met die arbitrêre diskresie van politici en die burokrasie.”

* Hierdie berig is aangepas sedert dit aanvanklik gepubliseer is.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.