Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Cyril stuur Marthinus Australië toe

Marthinus van Schalkwyk, voormalige minister van toerisme en eertydse premier van die Wes-Kaap, is Suid-Afrika se nuwe hoëkommissaris in Australië.

Die 59-jarige Van Schalkwyk, wat die laaste paar jaar Suid-Afrika se ambassadeur in Athene, Griekeland, was, het Dinsdag in Canberra, die Australiese hoofstad, sy geloofsbriewe aan sir Peter Cosgrove, dié land se goewerneur-generaal, oorhandig.

Van Schalkwyk, wat ambassadeur in Athene geword het nadat hy in 2014 in ’n kabinetskommeling deur oudpres. Jacob Zuma uit sy kabinet gelaat is, is deur pres. Cyril Ramaphosa gevra om die Suid-Afrikaanse hoëkommissaris in Australië te word.

Hy het saam met Ramaphosa in Zuma se kabinet gedien.

Ambassadeurs na Statebondslande word hoëkommissarisse genoem.

Van Schalkwyk, die laaste leier van die eertydse Nuwe Nasionale Party (NNP) wat deel van die ANC geword het, het ook in die kabinet van oudpres. Thabo Mbeki gedien. Hy het ook as minister van omgewingsake gedien.

Marthinus van Schalkwyk, Suid-Afrika se nuwe hoëkommissaris in Australië, het Dinsdag in Canberra sy geloofsbriewe aan sir Peter Cosgrove, dié land se goewerneur-generaal, oorhandig.Foto: Verskaf

Van Schalkwyk het uit Canberra gesê hy sien baie uit na sy werk in Australië.

“Australië is ’n baie belangrike handelsvennoot van Suid-Afrika en daar is ook noue samewerking op die gebied van navorsing en ontwikkeling, soos die SKA-teleskoop-projek waarvan ons twee lande die gesamentlike gashere is.

“Dan is die Suid-Afrikaanse gemeenskap in Australië naas dié in Brittanje die grootste,” sê Van Schalkwyk.

Marthinus van Schalkwyk, Suid-Afrika se nuwe hoëkommissaris in Australië. Foto: Verskaf

Hy sien ook daarna uit om Suid-Afrika by onder meer rugby- en kriekettoetse te verteenwoordig wanneer die Springbokke en die Proteas daar speel.

“Ek is baie opgewonde. Vrydag speel die Bulle hier in Canberra ’n Superrugby-wedstryd teen die Brumbies en ek sal dié wedstryd beslis bywoon,” sê dié oudleerling van die Hoërskool Pietersburg en ’n deurwinterde Blou Bul-ondersteuner.

Van Schalkwyk, wat ’n meestersgraad in politieke wetenskap en ’n BProc-regsgraad aan die eertydse Randse Afrikaanse Universiteit (RAU) in Johannesburg verwerf het, was in sy dae as Wes-Kaapse premier (2002-2004) ’n ere-visepresident van die WP-rugbyunie.

“Saterdag se inhuldiging van pres. Ramaphosa in Pretoria sal die eerste inhuldiging in meer as 30 jaar wees wat ek nie bywoon nie,” sê Van Schalkwyk.

Hy was vir 24 jaar lank ’n parlementslid.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.