Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Cyril terug op historiese balkon 30 j. ná Mandela se vrylating

Pres. Cyril Ramaphosa gaan Dinsdag, 30 jaar ná Mandela se vrylating uit die Victor Verster-gevangenis, terug na die balkon van die Kaapstadse stadsaal waar hy langs Nelson Mandela gestaan het toe Madiba sy eerste openbare toespraak gelewer het.

Ramaphosa gaan egter dié keer sy eie toespraak lewer, ter herdenking aan Mandela en “die geboorte van ’n nasie”.

Twee dae later sal Ramaphosa sy derde staatsrede lewer.

Oudpres. Nelson Mandela en sy vrou, Winnie, kort nadat hy uit die Victor Verster-gevangenis vrygelaat is. Foto: Allan Tannenbaum//Time Life Pictures/Getty Images

Die Nelson Mandela-stigting, wat die herdenking reël, sal drie geleenthede in die Wes-Kaap hou. Die tema is gebou rondom “die nuwe tronke van Afrika”. Dié “tronke” verwys na: werklike tronke, “plekke waar groot getalle mense gevange gehou word en herstellende geregtigheid nie plaasvind nie”; virtuele tronke, “wat tekenend van ons lewe is, soos misdaad wat mense in hul huise vasgekluister hou”; en die tronke van die bewussyn “waarin mense hulself bewustelik in ’n bepaalde opvatting oor hulself afsonder”.

Die dag begin met ’n reünie van die oorspronklike verwelkomingskomitee wat wesenlik deel was van Madiba se vrylating uit die tronk. Dit begin om 08:00 by die Drakenstein-gevangenis (voorheen die Victor Verster-gevangenis). Om 12:00 is daar ’n lesing in die Kaapstadse stadsaal, wat gelewer word deur Leymah Gbowee, 2011 se mede-Nobelpryswenner vir vrede. Daar sal ook ’n paneelbespreking wees waaraan Danai Mupotsa, skrywer van Feeling and Ugly, en Opal Tometi, medestigter van Black Lives Matter, deelneem.

Ramaphosa se toespraak op die stadsaal se balkon begin om 14:30.

Ramaphosa het ’n integrale rol in Mandela se vrylating gespeel en was deel van die oorspronklike verwelkomingskomitee.

Volgens die stigting is die herdenking ’n uiters geskiedkundige geleentheid wat die nalatenskap van Mandela en die swaar verkreë vryheid waarvoor hy geveg het, vier.

* Maxine Bezuidenhout, woordvoerder van die verkeersdiens in Kaapstad, het gesê verkeersbeperkings vir paaie rondom die stadsaal en die parade is van krag. Geen voertuie mag Maandagoggend sedert 01:00 voor die stadsaal, tussen Parade- en Corporationstraat, stop nie.

Darlingstraat is ook reeds afgesper tot net twee enkelbane. Vanaf Maandag om 18:00 sal Darlingstraat tussen Laer Plein- en Buitenkantstraat gesluit wees vir verkeer tot ná die geleentheid Dinsdagmiddag (wat volgens die amptelike program tot 16:30 duur).

Geen parkering sal ook in Corporation- en Paradestraat toegelaat word nie. Die metro het ’n beroep op motoriste gedoen om alternatiewe roetes te gebruik.

Meer oor:  Nelson Mandela  |  Cyril Ramaphosa  |  Kaapstad  |  Mandela-Vrylating  |  Stadsaal
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.