Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
‘Cyril versterk belangrike portefeuljes’

Die omvangryke kabinetskommeling deur pres. Cyril Ramaphosa is nie soseer gedoen om sy politieke posisie in die ANC te verbeter nie; dit gaan eerder daaroor om belangrike portefeuljes in sy kabinet te versterk.

Dit is die reaksie van prof. Dirk Kotzé, politieke ontleder aan Unisa, nadat Ramaphosa Donderdagaand verrassende skuiwe in sy kabinet aangekondig het.

Politieke ontleders beskou die skuiwe as oorwegend positief, hoewel daar vrae is oor enkele ministers wat steeds poste in die uitvoerende gesag beklee.

Die DA, die IVP en die vakverbond Cosatu het egter hul misnoeë uitgespreek omdat te veel ou, onbekwame ministers in die kabinet hul poste behou, hoewel heelparty van hul rondgeskuif is.

Cosatu het in ’n verklaring gesê hy is teleurgesteld dat Ramaphosa dieselfde ou ministers, “wat hulself onbevoeg bewys het om die land se probleme reg te maak, herwin het”.

Dit was ’n groot verspeelde geleentheid om ’n regte verbintenis te wys tot verantwoordbaarheid omdat van die ministers wat die swakste presteer, dit reggekry het om aan hul poste vas te klou.
John Steenhuisen

Die IVP sê hoewel hy die wysigings verwelkom, is daar nie genoeg “nuwe bloed” om die kabinet in die aangesig van die land se verskeie uitdagings te stroomlyn en om die uitvoerende gesag op te kikker nie.

John Steenhuisen, DA-leier, sê die enigste klein positiewe aspek van die kabinetskommeling is die bedanking van dr. Zweli Mkhize as minister van gesondheid na aanleiding van die Digital Vibes-skandaal.

“Dit was ’n groot verspeelde geleentheid om ’n regte verbintenis te wys tot verantwoordbaarheid omdat van die ministers wat die swakste presteer, dit reggekry het om aan hul poste vas te klou,” sê Steenhuisen.

Een van die verrassende aanstellings is dié van Enoch Godongwana, voorsitter van die nasionale uitvoerende komitee van die ANC se subkomitee oor ekonomiese transformasie, as die minister van finansies, nadat Ramaphosa die bedanking van Tito Mboweni aanvaar het.

Die parlement sal ook nou ’n nuwe speaker moet kies nadat Thandi Modise as minister van verdediging en militêre veterane aangestel is.

Dr. Piet Croucamp, politieke ontleder aan die Noordwes-Universiteit, beskou die aanstellings as positief omdat Godongwana die ekonomiese agtergrond het en omdat Modise uit die geledere van Umkhonto we Sizwe, die ANC se destydse militêre vleuel, kom.

“Godongwana se aanstelling sal tot ’n beter verhouding tussen die vakbonde en die ANC enersyds, en die regering lei. Hy is ’n plesierige karakter met ’n indrukwekkende intelligensie en van goeie statuur,” sê hy.

“Wat verdediging betref, was Modise die regte keuse omdat jy ’n sterk vrou soek wat die bul by die horings kan pak noudat die weermag ook betrokke is in Mosambiek,” sê Croucamp.

Wat verdediging betref, was Modise die regte keuse omdat jy ’n sterk vrou soek wat die bul by die horings kan pak noudat die weermag ook betrokke is in Mosambiek.
Dr. Piet Croucamp

Volgens Kotzé is daar nie meer baie Zuma-ondersteuners in die kabinet oor nie en het Ramaphosa dus die oorgrote meerderheid van sy skuiwe gemaak om belangrike portefeuljes te versterk om die Covid-19-pandemie te oorkom en om die ekonomie aan die gang te kry.

“Ministers wat afgeskaal is, sluit in Lindiwe Sisulu, wat gedemoveer is na die portefeulje vir toerisme, en Stella Ndabeni-Abrahams, voormalige minister van kommunikasie en digitale tegnologie, wie se liggie nou dof skyn. Dit is duidelik dat Ramaphosa aandag wil gee aan die regruk van die SAUK,” sê Kotzé.

Ontleders meen ook die aanstelling van dr. Joe Phaahla as minister van gesondheid was ’n logiese skuif omdat hy voorheen adjunkminister was en die ervaring het.

grafika

Meer oor:  Kabinetskommeling
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.