Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Cyril wil self besluit wat jy vir jou grond kry

Ná maande se pogings om die kwessie van onteiening sonder vergoeding te skik, het pres. Cyril Ramaphosa die afgelope week die knuppel in die hoenderhok gegooi deur te sê dat hy en sy kabinet die mense is wat moet bepaal hoeveel geld – indien enige – ’n boer mag kry indien die staat sy plaas vat.

Ramaphosa se uitspraak – wat deur sommige opposisielede beskryf word as “skrikwekkend” – kom enkele dae voordat die spertyd vir openbare kommentaar oor die wysiging van art. 25 van die Grondwet Vrydag sluit.

Soos die voorstelle tans staan, gaan art. 25 van die Grondwet gewysig word om te beveel dat nasionale wetgewing die spesifieke omstandighede moet uitstippel “waar ’n hof mag besluit dat die vergoedingsbedrag (vir onteiende grond) nul is”.

Vir Ramaphosa en die ANC is dié voorstel – wat maande lank deur ’n parlementêre subkomitee tussen lede van alle politieke partye uitgehamer is – skielik nie meer genoeg nie.

'Skrikwekkend’ dat howe gesystap kan word in besluit oor onteiening van grond.

“Ons is bemoedig dat die lekgotla (van die ANC se nasionale uitvoerende komitee) besluit het om die aanbeveling te steun dat die mag om die kwantum van vergoeding te bepaal vir grond wat onteien word, in die uitvoerende gesag moet setel,” het die president Maandag, ná afloop van die vergadering, gesê.

Dr. Mathole Motshekga, voorsitter van die parlementêre ad hoc-komitee oor art. 25 het gister probeer vure doodslaan deur te sê die komitee se voorstelle kan nie verander net op grond wat die ANC sê nie.

“Dis wel wat die ANC voorstel. Ons weet nie wat ander partye gaan voorstel nie. Hoewel die ANC die meerderheid is, werk ons nie so nie. Ons is ’n veelpartyparlement.

“Ons moet luister na wat alle politieke partye in die parlement sê.”

Vroeër die week het hy egter die ANC-posisie teenoor die televisiekanaal eNCA verdedig deur te sê: “Ons ervaar die hofprosesse as veeleisend, hulle neem tyd, dit vereis hulpbronne. Maar die uitvoerende gesag is ’n demokratiese regering, gekies deur die mense van Suid-Afrika, en hulle moet regeer.

“Ons sluit nie die rol van die howe uit nie, ons gee net nie die howe die eerste geleentheid om (oor vergoeding) te besluit nie, want dit sal nog 25 jaar neem, en die mense van Suid-Afrika kan nie nog 25 jaar wag vir die kwessie om opgelos te word nie.”

Opposisiepartye en burgerlike en landbou-organisasies verwerp die Ramaphosa-voorstel eenparig.

Dr. Leon Schreiber, die DA se skaduminister oor die staatsdiens en administrasie sê die kwessie is bitter ernstig.

“Dit gaan nou nie eens meer oor die mag om eiendom te konfiskeer nie, dit gaan nou oor die oppergesag van die Grondwet. As jy sê die hof is nou nie meer die oppergesag met betrekking tot iets wat in die handves van menseregte is nie, dan ondermyn jy die hele grondwetlike bestel.”

Enoch Godongwana, die ANC se hoof van ekonomiese transformasie, sê ingevolge die ANC-voorstel sal die minister van openbare werke voorstelle vir onteiening aan die kabinet voorlê, waar daar ook oor die vergoeding besluit sal word.

In gevalle waar die grondeienaars ontevrede is, kan die hof genader word om ’n beslissing te maak. Hy sê die detail gaan in die onteieningswet uitgestippel word; nie in die Grondwet nie.

Die landbou-organisasie Agri SA sê dit is kritiek belangrik dat enigiemand wie se regte geskend word deur onteiening volle toegang tot die howe moet hê.

“Dis ál beskerming as jy teen die magtige staat te staan kom. Jy moet volle toegang tot die hof hê dat jy enige aspek van onteiening in die hof kan toets,” sê Annelize Crosby, Agri SA se hoof van grondsake.

Sy sê “hersiening” is nie volle toegang tot die hof nie.

“Met hersiening kan die hof net gaan kyk na die spesifieke besluit. Dit is beperkte toegang tot die hof.

“Die onus gaan uit en uit berus op die persoon wat benadeel is om hof toe te gaan om die besluit op hersiening te neem.

“Dit kos uiteraard geld wat baie mense nie het nie.

“Ons is dus absoluut gekant teen enige beperking van jou toegang tot die hof,” sê Crosby.

Enoch Godongwana sê die ANC-voorstel is daarop gemik om grondhervorming te versnel.

Dit spruit uit die ervaring van die grondherstelprogram wat ons byna 100 jaar gaan neem.

“Dis te lank.”

Helen Zille, voorsitter van die DA se federale raad, het gesê dis ’n “skrikwekkende voorstel” wat wys die ANC het geen respek vir die oppergesag van die reg en die skeiding van magte nie.

“Dit moet beveg word met alles wat ons het.”

Dr. Leon Schreiber van die DA voeg by dat dit herinner aan wat oudpres. Robert Mugabe in Zimbabwe gedoen het.

Dr. Annelie Lotriet, voorsitter van die DA se parlementêre koukus, sê ook by die opstel van wetgewing moet die toekoms in gedagte gehou word.

“Jy maak nie ’n wet vir ’n spesifieke tyd of minister nie, jy kyk altyd na die toekoms. Jy moet versigtig wees om daardie soort mag aan die uitvoerende gesag te gee.”

Sy sê dit skep ’n omgewing waarin verdere korrupsie en wanadministrasie gaan gedy.

Die VF Plus het dit bestempel as ’n “dwase besluit” wat ’n streep trek deur die huidige openbaredeelnameproses.

“Die voorgestelde konsepwetsontwerp waaroor tans kommentaar gelewer word, maak nog steeds uitdruklik voorsiening vir die rol van die howe.

“Die VF Plus sal dié besluit op elke wyse moontlik teenstaan en sal dit nie net in die konstitusionele hof beveg nie, maar ook internasionaal,” het dr. Corné Mulder, die party se lid op die ad hoc-komitee, Vrydag gesê.

Mkhuleko Hlengwa, IVP-woordvoerder, sê volgens die voorstelle word die magte van howe wat bestaan uit onafhanklike juriste en arbiters geneem en geplaas in die hande van ’n “politieke windmeul”.

“Ons waarsku teen roekelose besluite oor onteiening van grond. Dis presies hoekom ons die wysiging van art. 25 teenstaan omdat ons fundamenteel glo die Grondwet in sy huidige vorm is voldoende om aan die verwagtinge van grondhervorming en -verspreiding te voldoen.”

Cope sê die ANC beskik nie oor die mag om so ’n besluit te neem nie.

“Ons gaan dit beveg tot in die hoogste hof,” sê Dennis Bloem, Cope se woordvoerder.

Die EFF het gister gesê die bespreking oor wie die vergoeding bepaal, is misplaas en val buite die mandaat van die parlementêre ad hoc-komitee oor die wysiging aan art. 25 van die Grondwet.

Floyd Shivambu, adjunkleier van die EFF, sê die ad hoc-komitee se mandaat is om art. 25 te hersien en aan te pas om onteiening in openbare belang sonder vergoeding moontlik te maak en wyd sienings daaroor te verkry, en om grondwetlike wysigings voor te stel. Die EFF-voorstelle verwerp vergoeding geheel en al en stel voor dat alle grond, minerale bronne en water aan die staat behoort.

Meer oor:  Cyril Ramaphosa  |  Annelize Crosby  |  Grondonteiening  |  Agri Sa  |  Grondwet  |  Art. 25
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.