Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Cyril wou hom nie op NUK-vergadering hê, sê Ace
Ace Magashule, geskorste sekretaris-generaal van die ANC.

Ace Magashule, geskorste sekretaris-generaal van die ANC, was Saterdagoggend langer as ’n uur deel van die vergadering van die party se nasionale uitvoerende komitee (NUK) voordat hy uitgeskop is.

Hy het in ’n onderhoud met Eyewitness News (EWN) gesê sy teenwoordigheid is bespreek.

“Die NUK het kennis geneem van my appèl (teen die tydelike skorsing) en beslis sekere prosesse moet nou plaasvind.

“Daarna is ek toegang tot die Zoom-vergadering geweier.”

Die ANC-leier, pres. Cyril Ramaphosa, was sterk gekant teen sy teenwoordigheid, het Magashule aan News24 gesê oor die vergadering wat hy voor sy skorsing belê het.

Hy sê die NUK tree onregverdig teenoor hom op en hy hou vol hy is steeds sekretaris-generaal en sal aangaan om dié rol te vertolk.

Hy sal ook steeds ’n aktiewe rol in die ANC speel.

“Omdat ek appèl aangeteken het, kan ek steeds aktief in die ANC wees en dit is wat ons takke, ons streke, ons provinsies en die Suid-Afrikaanse publiek moet besef,” het Magashule aan EWN gesê.

In die brief waarin hy oor sy skorsing ingelig is, is hy daarop gewys dat hy nie aan aktiwiteite van die party mag deelneem terwyl hy geskors is nie.

Kenners het vandeesweek gesê omdat die NUK die een is wat opsystaan-opdrag gegee het, kan Magashule nie na die NUK appelleer nie.

Hy kan slegs appelleer na die volgende nasionale konferensie, wat einde 2022 plaasvind.

Magashule het voor die NUK-vergadering met ANC-amptenare en die ANC-vroueliga vergader.

Die kwessie oor sy posisie sal na verwagting een van die vernaamste besprekingspunte wees op die NUK-vergadering wat tot Maandag duur.

Die gemoedere op die vergadering loop glo hoog soos te verwagte was.

Volgens inligting wat uit die vergadering gelek het, het Magashule se ondersteuners hul hakke ingeskop.

Hulle is ongelukkig oor die manier waarop Magashule hanteer word. Daar is onder meer gevra dat ’n spesiale raadsvergadering later vanjaar gehou word.

Die faksie in die ANC wat Magashule en die radikale ekonomiese transformasie (RET) steun, meen die NUK het nie daarin geslaag om besluite wat die party se vorige nasionale konferensie in 2017 by Nasrec, Johannesburg, geneem het, tot uitvoering te bring nie.

News24 berig daar is langer as ’n uur gedebatteer oor of oudminister Bongani Bongo, nou ’n gewone ANC-LP, wat ook strafregtelike klagte in die gesig staar, opsy moet staan.

Die SAUK berig dr. Zamani Saul, premier van die Noord-Kaap, en ’n ondersteuner van Ramaphosa, het vroeër die dag op ’n streeksvergadering van die ANC in dié provinsie gesê die huidige chaos in die party is goed omdat hy besig is om homself van binne te reinig.

“Daar sal uiteenskeurings en chaos wees. Wat ons nou nodig het, is gefokusde leierskap,” het Saul gesê.

“Ons het nou iemand nodig om die skip in die regte rigting te stuur.

“Ons doen ’n beroep op ANC-lede om die opsystaan-resolusie te steun sodat dié lede wat strafregtelik aangekla is, opsy moet staan.

“Opsy staan beteken nie jy is skuldig nie.

“Die ANC se beeld het skade gely en ons verloor kiesers in verkiesing op verkiesing,” het Saul gesê.

Meer oor:  Nuk  |  Anc
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.