Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
DA: 'Abrahams het 10 dae om oor Zuma te besluit'
Adv. Shaun Abrahams Foto: Daily Sun
Mmusi MaimaneFoto: Daily Sun

Adv. Shaun Abrahams, nasionale direkteur van openbare vervolging (NDOV), het tien dae om te besluit of korrupsie-aanklagte teen pres. Jacob Zuma heringestel sal word of nie.

Dít is die ultimatum wat die DA Vrydag aan Abrahams gestel het nadat Zuma se appèl in die appèlhof in Bloemfontein misluk het.

Zuma en die nasionale vervolgingsgesag (NVG) het geappelleer teen ’n bevinding van die hooggeregshof in Pretoria rakende die spioenasiebande-sage en of hy wel op aanklagte van beweerde korrupsie, bedrog, geldwassery en afpersing moet tereg staan.

Mmusi Maimane, DA-leier, het in ’n verklaring wat hy op ’n mediakonferensie in Pretoria ná die hofuitspraak voorgelees het, gesê hy sal aan Abrahams skryf en aandring daarop dat Zuma so gou moontlik aangekla word en voor ’n hof gebring word.

Dit bied volgens Maimane aan Abrahams “ ’n goue geleentheid om sy onafhanklikheid te wys en om voort te gaan met hierdie vervolging, soos beplan, en om aan Zuma ’n hofdatum te gee”.

“Abrahams moet ons binne 10 dae antwoord. Die klagte is reeds geformuleer en die bewyse is gereed. Ons wag nou vir ’n hofdatum.”

Volgens Maimane vermoed die DA Zuma sal vars voorleggings aan die NVG wil doen oor waarom die klagte teen hom laat vaar moet word.

“Dit is egter onnodig omdat hy reeds geskrewe en mondelinge voorleggings gedoen het oor presies waarom dieselfde klagte in 2009 laat vaar moes word, en daardie voorleggings is verwerp.”

Maimane sê hoewel elkeen die reg het om die howe te nader, is die betrokke aangeleentheid ’n eenvoudige een en benodig dit geen verdere bespreking nie.

“Ons doen ’n beroep op Zuma om op te hou om staatsgeld te mors deur lang appèlaansoeke en om te aanvaar dat hy op klagte van korrupsie verhoor sal word.”

Die DA skat dat die belastingbetaler tot dusver reeds R30 miljoen aan regskoste vir Zuma in hierdie aangeleentheid moes betaal.

* Die NVG het by navraag gesê hy neem kennis van die hofuitspraak. Hy sal eers kommentaar lewer nadat hy die uitspraak bestudeer het, berig Sarel van der Walt.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.