Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
DA: Baie lae standaard as Dlamini ‘fantastiese’ werk doen

Die ANC se maatstaf van waaraan jy moet voldoen, is uiters laag as Bathabile Dlamini, minister van vroue in die presidensie, se werk vir vroue as onder meer “fantasties” beskou word het die DA Vrydag gesê.

Dié reaksie van Refiloe Nt’sekhe, DA-woordvoerder, kom nadat pres. Cyril Ramaphosa gesê het Dlamini verrig “fantastiese en goeie werk”.

Dié opmerking het op die sosialemediaplatform Twitter wyd reaksie uitgelok.

Dít was nadat Ramaphosa Donderdagaand in ’n wydlopende onderhoud met Xolani Gwala op 702/Cape Talk-geselsradio gesê het dat Dlamini “fantastiese en goeie werk” verrig het. Volgens hom het sy die “maatstaf hoër gestel het” om die saak van vroue te bevorder en hoe die land moet begin om geweld wat op geslag gegrond is te hanteer, veral gedurende die veldtog van 16 dae van geen geweld teen vroue en kinders.

Bathabile Dlamini
Bathabile Dlamini

Gwala wou by Ramaphosa weet of hy steeds gelukkig is met Dlamini ondanks die uitspraak van die konstitusionele hof dat sy persoonlik verantwoordelik is vir 20% van die regskoste in verlede jaar se debakel met die Suid-Afrikaanse agentskap vir maatskaplike sekerheid (Sassa) en die feit dat die DA haar teenwoordigheid in sy kabinet in die hof uitdaag.

Ramaphosa het geantwoord dat hy Donderdagmiddag ’n eedsverklaring onderteken het in dié saak waarin die DA vra dat hy Dlamini in die pad moet steek. Die kwessie gaan in die hof geargumenteer word en die regters sal besluit of die benadering wat hy in dié verband geneem het die regte een was, het Ramaphosa geantwoord.

Nt’sekhe het in ’n verklaring gesê Dlamini het “verskriklike” werk vir die vroue van Suid-Afrika gedoen het.

“In ag genome Dlamini se vorige en huidige rekord as minister blyk dit uiters irrasioneel te wees vir Ramaphosa om haar in die kabinet te behou en selfs minder rasioneel vir hom om te sê dat sy fantastiese werk doen,” lui Nt’sekhe se verklaring.

Theo Venter, politieke ontleder aan die Noordwes-Universiteit, het Ramaphosa se opmerkings as “suiwer politieke skadebeheer” bestempel en gesê dit is duidelik daarop gemik om ’n beeld te probeer skep van eenheid in die ANC en dat die kabinet saamwerk.

“Waar sy nou is (minister van vroue in die presidensie) is sy só geplaas dat sy min skade kan doen. Sy word goed beheer deur dr. Nkosazana Dlamini-Zuma, minister in die presidensie belas met evaluering en monitering. In ’n ‘mindere’ portefeulje kan sy waarskynlik haar deel doen, maar by maatskaplike ontwikkeling wat sy ’n totale mislukking en die howe het ook so daaroor bevind.”

Ralph Mathekga, politieke ontleder, vind dit “baie vreemd” dat Ramaphosa gesê het Dlamini doen “fantastiese” werk.

Hy glo dié uitlating “ontbloot” Ramaphosa omdat hy wag vir die hof om ’n besluit te maak oor Dlamini eerder as om self teen haar op te tree. “Ek dink dit is ’n erkenning dat hy nie op grond van moraliteit of etiek wil optree nie, maar bloot wag om op te tree op grond van wetlikheid.”

Meer oor:  Bathabile Dlamini  |  Presidensie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.