Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
DA bekyk ooreenkoms met EFF in Jhb

Die DA se samewerkingsooreenkoms met die EFF in Johannesburg is onder die loep ná die DA-burgemeester, Herman Mashaba, se bedanking Maandag.

Helen Zille. Foto: Peter Abrahams

Helen Zille, nuutverkose voorsitter van die DA se federale raad, en die federale leierskap beplan om Woensdag hieroor te vergader.

Zille het Maandag per e-pos verskeie vrae beantwoord nadat sy Sondag stof in die oë van haar teenstanders – Athol Trollip, DA-voorsitter, Thomas Walters, adjunkvoorsitter van die federale raad, en Mike Waters, DA-LP – geskop het om tot dié pos verkies te word.

Die 68-jarige Zille sê haar belangrikste taak is om te bepaal wat die omvang van die werk – in al sy fasette – is wat sy moet doen en om die resolusies van die federale raad toe te pas.

Sy het onderneem om in “haar baan bly” nadat haar teenstanders gesê het sy kan nie. “Ek het ’n sterk persoonlikheid, almal weet dit. Maar ek weet ook hoe om by my werk te gehou en ’n posbeskrywing getrou na te kom,” sê sy.

Mashaba het minder as 24 uur ná Zille se verkiesing sy bedanking as burgemeester van Johannesburg aangekondig. Hy sê Zille se verkiesing is ’n “oorwinning vir diegene in die DA wat lynreg in stryd is met my eie oortuigings en waardestelsel”.

Zille het in reaksie hierop gesê Mashaba het hom by die DA aangesluit toe sy nog die partyleier was en dat hy die waardes en beginsels van die party onderskryf het. “Dit het nie verander nie. So Herman moes verander het. Miskien het dit gebeur deur sy noue verbintenis met die EFF.

“Totdat ek verkies is, het ons dieselfde waardes in die grondwet van die DA onderskryf. Hy was meer regs as ek – maar ons het albei in nierassigheid, die oppergesag van die reg en ’n markekonomie geglo. Ek glo steeds in daardie beginsels. Vra asseblief waarin hy nou glo, want dit moet iets anders wees,” sê Zille.

Die federale raad het ook die naweek die verslag van die hersieningspaneel onder leiding van Ryan Coetzee, DA-strateeg en voormalige DA-LP, bespreek. Na wat berig word beveel hy hierin aan dat die leierskonferensie vervroeg word en dat Mmusi Maimane hom nie weer vir die leierskap beskikbaar moet stel nie.

Op die vraag oor die moontlikheid van ’n skeuring in die party is, het Zille gesê die DA is ’n party van behoorlike prosesse en die oppergesag van die reg.

Zille het daarop gewys dat die raad die naweek verskeie resolusies aanvaar het. Een daarvan is om ’n vroeë verkiesingskongres in 2020 te hou. “Mmusi het alle reg om hom weer verkiesbaar te stel en die kongres sal die besluit neem.”

Nóg ’n resolusie waarop besluit is, is dat die party ook aanstaande jaar ’n beleidskongres sal hou. “Die beleidskongres is uiters belangrik. Die DA neem inderdaad beleid ernstig op en dit is tyd vir ’n in-diepte debat oor die formulering van kernbeleid.”

Op die vraag oor die moontlikheid van ’n skeuring in die party is, het Zille gesê die DA is ’n party van behoorlike prosesse en die oppergesag van die reg.

“Ons het sterk interne instellings en sal besluite neem oor alle beleidskwessies. As daar, nadat al daardie besluite geneem is, mense is wat nie die DA se beleid kan aanvaar nie, kan hulle sekerlik vry voel om ’n alternatiewe politieke tuiste te soek.”

Solly Malatsi, DA-woordvoerder, het Maandag gesê die hersieningsverslag moet eers na die partystrukture versprei word voordat dit ’n dokument vir eksterne gebruik word.

Trollip het by navraag gesê hy “het nie kommentaar” op die uitslag van die verkiesing nie, terwyl Waters gesê het hy is “ekstaties oor dié nuwe begin vir die DA.”

Meer oor:  Da  |  Eff  |  Herman Mashaba  |  Helen Zille  |  Johannesburg  |  Bedanking
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.