Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
DA besluit binnekort oor virtuele kongres

Die DA se federale raad sal einde Julie besluit of die party ’n virtuele federale kongres sal hou om sy nuwe permanente leiers te verkies.

John Steenhuisen, tussentydse leier van die DA. Foto: Argief

Greg Krumbock, DA-LP en voorsittende beampte vir die beplande federale kongres, het Vrydag gesê dat ’n voorlopige datum van 31 Oktober vir die kongres oor twee dae voorgestel is.

“Ons het ongelukkig die uitdaging van die staat van inperking en veilige afstande wat ten alle tye by byeenkomste gehandhaaf moet word. Daarom moet daar nou oorweeg word om die kongres dalk virtueel te hou.”

Volgens Krumbock sal die DA egter op 31 Julie ’n vergadering van sy federale raad hou.

“ ’n Voorstel vir ’n virtuele vergadering sal op die vergadering ter tafel gelê word waar die sowat 150 afgevaardigdes daaroor sal besluit.

“As hulle dit goedkeur, sal dit beslis van 31 Oktober tot 1 November plaasvind. As daar gestem word om ’n fisieke federale kongres te hou, sal ons dit weens die huidige inperking tot volgende jaar moet uitstel.”

Die party wou aanvanklik sy beleidskongres op 4 en 5 April hou en sy federale verkiesingskongres op 30 en 31 Mei. Albei is egter weens die Covid-19-pandemie en die staat van inperking gekanselleer.

Die federale verkiesingskongres sou gehou word om ’n nuwe federale leier te verkies ná Mmusi Maimane se bedanking as leier en DA-lid.

Krumbock sê hoewel John Steenhuisen, tussentydse DA-leier, John Moodey, Gautengse DA-leier, en Mbali Ntuli, DA-LPW in die KwaZulu-Natalse wetgewer, reeds vroeër vanjaar aangedui het dat hulle om die toppos in die DA sal meeding, is niemand in dié stadium nog amptelik vir enige van die beskikbare leierskapposte benoem nie.

Sowat 2 075 afgevaardigdes word vir die federale kongres verwag, wat dit een van die grootste federale kongresse tot dusver maak.
Greg Krumbock

Die poste waarom afgevaardigdes by die federale kongres sal besluit, is dié van die federale leier, federale voorsitter en drie federale adjunkvoorsitters.

“Die benoemings vir die poste open op 1 September. Die benoemingsproses sal op 10 Oktober sluit. Enige kandidaat wat kwalifiseer, sal om die pos aansoek kan doen. Ons sal daarom eers ná die sperdatum ’n finale benoemingslys hê.”

Krumbock sê dat sowat 2 075 afgevaardigdes vir die federale kongres verwag word. “Dit maak dit een van die grootste federale kongresse tot dusver.”

Ingevolge ’n grondwetlike wysiging wat op die laaste federale kongres aanvaar is, mag tot 45% van die afgevaardiges nie verkose openbare amptenare wees nie.

“Dit beteken gewone DA-lede op takvlak sal ’n baie beduidende stem by die federale kongres hê. Dit sal die kongres baie meer demokraties maak.”

Volgens Krumbock sal die DA se federale raad op sy eerste sitting ná die federale kongres ook ’n nuwe voorsitter en twee adjunkvoorsitters verkies. Hierdie vergadering vind gewoonlik onmiddellik ná die federale kongres in dieselfde saal plaas.

Die pos van voorsitter van die federale raad word nou deur Helen Zille beklee.

Mike Moriarty, DA-voorsitter in Gauteng, het Donderdag aangekondig hy sal sy naam ook in die hoed vir dié pos gooi.

Meer oor:  Da  |  Helen Zille  |  John Steenhuisen  |  Mike Moriarty
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.