Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
DA byna in bed met groep wat Trump help wen

Die DA het in 2018 amper in die bed geklim met Cambridge Analytica (CA), die skakelmaatskappy wie se truuks op Facebook gehelp het om pres. Donald Trump in 2016 verkies te kry en vroeër daardie jaar Britte help oortuig het om vir Brexit te stem.

Mmusi Maimane by ’n DA-optog in Augustus 2017, toe hy nog met Cambridge Analytica onderhandel het. Foto: Felix Dlangamandla

CA het groot sukses in verkiesings behaal deur miljoene Facebook-gebruikers se persoonlike data op onregmatige wyse te bekom.

Luidens dokumente wat in Rapport se besit is, het Mmusi Maimane, destyds DA-leier en nou hoofaktivis by die One South Africa Movement, in 2017 met CA se uitvoerende hoof, Alexander Nix, vergader oor hoe dié maatskappy die DA in sy verkiesingsveldtog in 2019 kon help. Dit was twee jaar nadat die eerste onvleiende berigte oor CA se bedrywighede verskyn het.

Eers toe Jonathan Moakes, destyds verkiesingsbestuurder van die party, vir Maimane in Februarie 2018 op die “reputasierisiko” en hoë koste van CA se veldtog wys, het Maimane die plan laat vaar. Luidens ’n voorlegging wat CA in Augustus 2017 vir Maimane gedoen het, sou die veldtog die DA tussen $300 000 en $350 000 gekos het – destyds tussen R3,9 miljoen en R4,6 miljoen.

CA het verkiesings wêreldwyd suksesvol beïnvloed deur gebruikers van Facebook met pasgemaakte inligting – soms kru propaganda – te bombardeer. Die propaganda is sekuur geteiken deur die voorkeure van Facebook-gebruikers te “oes” met die app This is Your Digital Life, wat deur 270 000 mense wêreldwyd afgelaai is. CA het ook die persoonlike data van al hierdie mense se Facebook-vriende bekom – ’n geraamde 87 miljoen mense.

Maimane is gewys op ‘reputasie­risiko’.

Facebook het in 2019 met die Amerikaanse federale handelskommissie ooreengekom om ’n boete van $5 miljard te betaal oor sy aandeel in die petalje, terwyl CA in Mei 2018 ontbind het nadat verskeie fluitjieblasers na vore gekom het.

In hul voorlegging aan die DA het CA duidelik gemaak dat hulle dieselfde teikengehoorontleding wat so goed gewerk het in die VSA en Brittanje wou gebruik om die DA in 2019 te help. “Deur ’n mengsel van kwalitatiewe en kwantitatiewe navorsing sal die teikengehoorontleding ’n unieke insig in Suid-Afrika se kiesers gee, wat bestaande en poten­siële DA-ondersteuners insluit,” lui die voorlegging.

Die DA is ’n ryk databasis belowe oor Suid-Afrikaners se “sosiale gedrag, openbare mening en houdings- en gedrags­reaksies op politieke partye en kandidate”.

CA sou dan ’n “plaaslike strategie ontwikkel wat insigte gee oor hoe om met die bevolking op streeksvlak in verbinding te tree, met die regte boodskap, op die regte tyd, op die oortuigendste manier moontlik”.

In Maimane se notas vir die DA se veldtog vir 2018, getiteld Critical Focus for 2018, beskryf hy Nix as “baie indrukwekkend”. “Ek het ’n baie produktiewe vergadering met CA gehad,” lui Maimane se notas. Dit is in Rapport se besit.

“Ek glo hulle is die beste in wat hulle doen en kan baie waarde toevoeg tot ons as party. Hul aanbod was indrukwekkend vanuit die perspektief dat hulle pas ’n verkiesing bestuur het in Kenia en ’n paar ander lande in Afrika wat soortgelyke ervaringe as ons het.”

CA het in 2017 vir pres. Uhuru Kenyatta met groot sukses uitgebeeld as iemand wat “sterk optree teen terreur” en boonop ’n goeie mens is, terwyl Raila Odinga, Kenyatta se opponent, as “bloeddorstig” uitgebeeld is.

CA het ook in 2016 gehelp om die Filippynse sterkman Rodrigo Duterte verkies te kry deur hom as “sterk en beslissend” te skets. Duterte word van kru menseregtevergrype beskuldig.

Luidens dokumente wat in Januarie uitgelek het, het CA in sowat 68 lande gewerk.

Indien die DA voortgegaan het om saam met Cambridge Analytica te werk, sou dit ongemaklike vrae geopper het vir ’n party wat in 2017 so hard gewerk het om die Britse skakelmaatskappy Bell Pottinger tot ’n val te help bring.

Bell Pottinger is in 2016 ontmasker as die agentskap wat die “witmonopoliekapitaal”-veldtog namens die Gupta-broers gevoer het deur valse Twitter-profiele te gebruik.

Die Britse vereniging vir skakel- en kommunikasiemaatskappye het Bell Pottinger in September 2017 vir vyf jaar geskors.

Die DA-LP Phumzile van Damme was die eerste openbare amptenaar in Suid-Afrika wat die gevaar van CA aan die groot klok gehang het.

By die DA-kongres in April 2018 het Van Damme in ’n toespraak gesê dat kennis geneem moet word van wat met CA gebeur.

“Vra die maatskappy voorheen bekend as Bell Pottinger wat gebeur wanneer jy Suid-Afrikaners probeer manipuleer,” het van Damme gesê.

Maimane het nie op Rapport se navrae gereageer oor waarom en wanneer hy téén CA se betrokkenheid by die DA besluit het nie.

Meer oor:  Mmusi Maimane  |  Jonathan Moakes  |  Verkiesings  |  Propaganda  |  Da
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.