Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
DA dien 94 000 voorleggings teen dié onteiening in

Die DA het Vrydag die voorleggings van 94 000 mense wat teen onteiening sonder vergoeding gekant is, by die parlement ingedien.

Elkeen van dié voorleggings dien as ’n individuele voorlegging, sê dr. Annelie Lotriet, voorsitter van die DA se parlementêre koukus.

Op sy beurt het die VF Plus die handtekeninge van 95 000 mense wat dié party se petisie teen die verandering van art. 25 van die Grondwet (om dié onteiening moontlik te maak) onderteken het, aan die parlement oorhandig.

Voorts het 23 internasionale dinkskrums en voorspraakgroepe met die samewerking van die Vryemarkstigting ’n openbare brief aan pres. Cyril Ramaphosa geskryf waarin hulle hul teenkanting teen onteiening sonder vergoeding uitspreek.

Landbou-organisasies het ook hul kommentaar by die parlement ingedien.

Die openbare proses vir kommentaar op die wysiging van die Grondwet sluit Saterdag.

Dr. Mathole Motshekga, voorsitter van die parlementêre ad hoc-komitee wat die verandering aan die Grondwet ondersoek, het vroeër gesê die insette van die publiek sal nié geïgnoreer word nie.

Die ANC en die EFF steun die verandering, hoewel daar met die ANC se nasionale konferensie in Desember 2017 groot tweespalt oor dié kwessie was.

’n Plaastoneel in die Vrystaat. Foto: Charles Smith

Lotriet sê in ’n verklaring die DA het ook sy eie voorlegging ingedien.

“Uit die oorweldigende reaksie is dit baie duidelik dat Suid-Afrikaners benoud is oor die trefkrag wat die wysiging (van die Grondwet) op die toekoms sal hê.”

Lotriet sê die “integriteit van die Grondwet” is op die spel. Daarom sal die DA seker maak dat die stem van elke Suid-Afrikaner in berekening gebring word om te keer dat art. 25 gewysig word.

Die rede waarom grondhervorming die afgelope 24 jaar misluk het, was die gebrek aan aksie aan die kant van die regering, sê Lotriet.

Dr. Pieter Groenewald, VF Plus-leier, sê die proses van grondhervorming is tot dusver in die wiele gery deur korrupsie en administratiewe onbevoegdheid – en nie deur die beginsel van gewillige verkoper, gewillige koper nie.

Hy sê in ’n verklaring meer as 100 000 mense het vroeër ook ’n soortgelyke petisie van die VF Plus teen onteiening sonder vergoeding gesteun.

“Private eiendomsreg is ’n internasionaal erkende basiese mensereg en dit moet deur die Suid-Afrikaanse Grondwet beskerm word in ooreenstemming met die Verenigde Nasies (VN) se Handves en Internasionale Deklarasie van Menseregte.”

Die groep, wat homself die Eiendomsreg-alliansie (Property Rights Alliance) noem, sê hy verteenwoordig “honderdmiljoene mense oor die wêreld heen”.

Die ondertekenaars van die brief sluit in kenners wat organisasies in die VSA, Venezuela, Brittanje, Pole, Georgië, Spanje, Kanada, Peru, Argentinië, Ierland, Japan, Bulgarye en Italië verteenwoordig.

Jasson Urbach, direkteur van die Vryemarkstigting, het dit ook onderteken.

Die groep waarsku vir Ramaphosa dit is gevaarlik om art. 25 van die Grondwet te verander. Hulle waarsku ook die wysiging aan die Grondwet bedreig die eiendomsreg en die menseregte van Suid-Afrikaners.

Die groep noem Zimbabwe en Venezuela as voorbeelde van wat die gevolg kan wees van onteiening sonder vergoeding.

Daar is verskeie ander maniere hoe substantiewe grondhervorming gedoen kan word om die historiese ongeregtighede reg te stel, sê hulle.

Die groep se waarskuwing volg sowat ’n week nadat Mike Pompeo, die Amerikaanse minister van buitelandse sake, gewaarsku het onteiening sonder vergoeding sal groot skade aan die Suid-Afrikaanse ekonomie aanrig.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.