Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
DA dien klag in by polisie teen ANC se Harare-afvaardiging

Die DA het Woensdagmiddag in Worcester in die Wes-Kaap ’n strafregtelike klag ingedien teen die senior ANC-afvaardiging wat verlede week in ’n lugmagvliegtuig na Harare is vir gesprekke met die regerende Zanu-PF-party oor die krisis in Zimbabwe.

Dit volg net ’n dag nadat die ANC toegegee het hy het verkeerd opgetree en sal opdok vir die koste van die vlug.

Kobus Marais, DA-woordvoerder oor verdediging, het bevestig hy het die verklaring ingedien.

Kobus Marais, die DA se woordvoerder oor verdediging en militêre veterane, voor die polisiekantoor in Worcester waar hy ’n klag ingedien het teen die ANC-afvaardiging wat verlede week in ’n lugmagvliegtuig na Harare gereis het.

Hy het vroeër in ’n verklaring gesê soos enige Suid-Afrikaner wat misdaadrekords het omdat hulle die Covid-19-inperkingsmaatreëls oortree het, moet die tien lede van die ANC-afvaardiging wat onwettig na Harare gevlieg het, ook die gevolge dra.

“Hulle het toegegee hulle het ’n misdaad gepleeg en moet nou strafregtelik aangekla word,” sê Marais.

Hy sê Fikile Mbalula, minister van vervoer, het dit duidelik gemaak hy het ingevolge die vlak 2-inperkings nie toestemming gegee vir die afvaardiging se reis nie.

Marais sê Mbalula het alle navrae verwys na Nosiviwe Mapisa-Nqakula, minister van verdediging en militêre veterane, wat amptelike toestemming by pres. Cyril Ramaphosa gekry het om in dieselfde tyd ’n amptelike besoek aan Oppah Muchinguri Kashiri, haar Zimbabwiese ampsgenoot, te bring.

Mapisa-Nqakula was ook ’n lid van die ANC-afvaardiging en die afvaardiging het saam met haar in die Falcon 900-vliegtuig gereis.

Die DA het vroeër reeds geëis dat Mapisa-Nqakula die trekpas kry.

“Dit gaan ook oor staatsbronne wat nie misbruik mag word nie.

Marais sê Mapisa-Nqakula en Lindiwe Zulu, minister van maatskaplike ontwikkeling, is albei lede van die nasionale Covid-19-bevelsraad en was instrumenteel in die opstel van die regulasies vir die inperkings. Hulle moes geweet het dit wat die ANC-afvaardiging gedoen het, is verkeerd.

Die feit dat die ANC erken het hy is skuldig en sal betaal vir die koste, moet Ramaphosa nie daarvan weerhou nie om die verslag wat hy van Mapisa-Nqakula aangevra het, openbaar te maak.

Die ANC-afvaardiging is gelei deur Ace Magashule, sekretaris-generaal van die ANC. Gwede Mantashe, voorsitter van die ANC en minister van minerale hulpbronne en energie, was ook saam.

Dr. Pieter Groenewald, leier van die VF Plus, het vroeër gesê die ANC is nie bo die reg verhewe nie om eers al die reëls te wil oortree en dan “hoogheilig te verklaar hy sal regmaak” wanneer hy uitgevang word.

Wanneer die wet oortree word, moet daar gevolge en vervolging wees, ook vir die ampsdraers van die ANC.

Die rekening sal afhang of dit as ’n vlug teen terugbetaling gereken sal word of nie.

Wayne Duvenhage, uitvoerende hoof van die Organisasie teen Belastingmisbruik, het Woensdagoggend in ’n onderhoud met eNCA gesê die groot vraag is of die ANC die geld sou betaal het as hy nie uitgevang is nie.

“Die ander vraag is, wie gaan verantwoordelik gehou word vir wat gebeur het.

“Die ANC het geweet hy tree verkeerd op en hulle het geen reg gehad om op die vliegtuig te klim nie. Ons wil aanspreeklikheid hê omdat dit hier gaan oor die skeiding van die grense tussen staat en party,” sê Duvenhage.

“Dit gaan ook oor staatsbronne wat nie misbruik mag word nie. Die vraag is nou of die ANC ook ander soortgelyke saamrygeleenthede gehad het.”

Die nasionale tesourie het nog nie geantwoord of hy betrokke sal wees in die vasstelling van die koste wat die ANC moet betaal nie.

’n Navraag is ook aan die Suid-Afrikaanse Inkomstediens gerig of die nodige doeane-vereistes vir buitelandse reise nagekom is.

Die antwoorde sal bygewerk word sodra dit ontvang word.

‘Salomo se wysheid nodig om ANC se koste te bepaal’

Wie ook al moet bepaal wat die ANC moet opdok vir die saamrygeleentheid van sy senior afvaardiging verlede week na Harare sal die “wysheid van Salomo” moet hê.

Só sê Erika Gibson, die veteraan militêre skrywer, nadat die ANC Maandag aangebied het om te betaal vir die onkoste van sy afgevaardigdes.

“Die rekening sal afhang of dit as ’n vlug teen terugbetaling gereken sal word of nie,” het Gibson Woensdag verduidelik.

“Die terugbetalingsvlugte is gewoonlik waar ’n ander departement as die departement van verdediging ’n lugmagvliegtuig sou gebruik – byvoorbeeld om die departement van landbou se mense na ’n landelike gebied te neem of waar die lugmag met die verspreiding van Covid-19-voorraad gehelp het.

“Al die verskillende soorte vliegtuie van die lugmag het só ’n tarief. Dit word gewoonlik aan die hand van riglyne van die tesourie bereken.

“Dit word dan deur die ministerie van verdediging en militêre veterane goedgekeur, maar omdat die minister self betrokke is, glo ek nie sy sal dié rekening hanteer nie,” sê Gibson.

“Daar is ’n tarief wat deur die nasionale tesourie goedgekeur is wat een departement dan oorplaas na die weermag se bedryfsrekening toe.

“Onthou die lugmag mag nie fisiek vergoeding ontvang nie.

“Met die interdepartementele oorplasing gaan die geld dus net op papier van een departement na die weermag toe,” sê sy.

As ’n buite-instansie moet betaal, gaan die geld na die sogenaamde B7-rekening. Dit is die rekening van die sentrale regering waar alle inbetalings in een poel gegooi word.

Die ander vraag is, wie gaan verantwoordelik gehou word vir wat gebeur het.

“Die geld word dan volgens behoefte bestee en kom gewoonlik nooit by die weermag uit waar ’n vliegtuig byvoorbeeld ter sprake is nie.

“Sou die ANC dus byvoorbeeld R100 000 terugbetaal, sal die geld in die fonds van die sentrale rekening gestort word. Dit kan byvoorbeeld gebruik word om toilette by ’n skool te bou of watter projek ook al op die gegewe tyd die hoogste prioriteit sou hê.”

Gibson sê dat Mapisa-Nqakula en haar departementele gevolg in elk geval met amptelike toestemming van die president op pad was na Harare en die koste dus reeds daar was, sal waarskynlik in berekening gebring word.

“Maar wat ook ’n rol kan speel, is dat sy kon gevlieg het in die kleiner Falcon 50 wat goedkoper is.

“Die kruks is dus hoe die president en sy onmiddellike groepering gaan besluit om die rekening te definieer.

“Dit is dáár waar Salomo se wysheid gaan inkom. Ek vermoed hy sal waarskynlik by die nasionale tesourie vir riglyne vra.

“Wat ook al besluit word, daar sal waarskynlik kritiek wees,” meen Gibson.

Meer oor:  Nosiviwe Mapisa-Nqakula  |  Kobus Marais  |  Pieter Groenewald  |  Worcester  |  Vlug  |  Da  |  Anc  |  Zimbabwe  |  Strafregtelike Klag  |  Lugmagvliegtuig
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.