
Die DA-LP’s Mbulelo Bara, Lindy Wilson en Siviwe Gwarube, asook die party se hoofsweep – Natasha Mazzone, praat Maandag oor die NGV by die parlement.Foto: Llewellyn Prince
Die DA het ’n klag by die parlement ingedien omdat die openbare sittings oor die Wetsontwerp op die Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) volgens die party vir politieke gewin gekaap word.
Die party het dít Maandag bekend gemaak toe hy sy geskrewe voorlegging oor die wetsontwerp, asook dié van meer as 80 000 Suid-Afrikaners wat in ’n aanlynpetisie ingewin is, aan die parlement oorhandig het.
Lindy Wilson, DA-LP, het op ’n nuuskonferensie gesê dat die openbare sittings in sekere provinsies gekaap is toe onder meer “bedrieglike pamflette met waninligting daarop uitgedeel is om die publiek te mislei”.
’n Klag is by Cedrick Frolick, voorsitter van komitees in die Nasionale Vergadering, ingedien.
Die portefeuljekomitee oor gesondheid het reeds openbare sittings in Mpumalanga, die Noord-Kaap, Limpopo en dele van KwaZulu-Natal gehou.
Wilson sê wat tot dusver duidelik oor die sittings is, is dat Suid-Afrikaners nie behoorlik ingelig is oor die inhoud van die “gebrekkige” NGV-wetsontwerp nie en mislei word omdat hulle dink die NGV sal die sukkelende openbare gesondheidstelsel onmiddellik regruk.
“Dit sal nie.”
Die DA het glo gesien hoe deelnemers aan die sittings in sekere provinsies in hul massas en geklee in politieke gewaad na die verhore aangery is
Volgens haar het die DA gesien hoe deelnemers aan die sittings in sekere provinsies in hul massas en geklee in politieke gewaad na die verhore aangery is wat dit meer soos “politieke saamtrekke laat lyk het net om die NGV-wetsontwerp te steun”.
“Afgevaardigdes het op die sittings ook duidelik hul toesprake voorgelees, omdat baie daarvan dieselfde was.”
Dr. Sibongiseni Dhlomo, voorsitter van die portefeuljekomitee, kon nog nie vir kommentaar oor die DA se bewerings bereik word nie omdat die komitee juis met openbare sittings in die Endumeni-munisipaliteit, KwaZulu-Natal, besig was.
Dhlomo het mense Sondag in ’n verklaring daaraan herinner dat hulle nog tot Vrydag geskrewe voorleggings oor die wetsontwerp kan maak. Hy het ook die versekering gegee dat alle insette in ag geneem sal word.
Dit strek veel verder as die eng politieke belange van enige organisasie. Dit gaan oor die toekoms van die land.
Natasha Mazzone
Intussen het Natasha Mazzone, DA-hoofsweep, op Maandag se nuuskonferensie gesê die DA behou hom die reg voor om die grondwetlikheid van die wetsontwerp deur sy regspan te laat bepaal sodra die parlementêre proses afgehandel is.
“Dit strek veel verder as die eng politieke belange van enige organisasie. Dit gaan oor die toekoms van die land.”
Siviwe Gwarube, DA-woordvoerder oor gesondheid, het die NGV as rampspoedig beskryf en bygevoeg dat die DA die enigste party is wat dit daadwerklik beveg.
Volgens haar sal die DA verseker dat alle voorleggings wat Maandag ingedien is, oorweeg word.
“Ons wil hê die land se gesondheidstelsel moet werk. Ons moet egter verseker dat ons dit doeltreffend en met die inwoners van die land in gedagte doen. Ons moet toesien dat die weg na universele gesondheidsorg nie belemmer word deur swak beleid en, nog erger, wetgewing nie.”