Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
DA dien klagte in oor Simelane, Shaik se aanstellings
Lindiwe Sisulu
Lindiwe Sisulu Foto: Elizabeth Sejake

Die DA gaan ’n klagte by die Staatsdienskommissie indien om die aanstelling van Menzi Simelane en Mo Shaik as die spesiale raadgewers van Lindiwe Sisulu, minister van menslike nedersettings, water en sanitasie, te laat ondersoek.

Voorts wil dié party ook ’n aansoek kragtens die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting (Paia) indien om vas te stel hoeveel belastingbetalersgeld bestee word op die salarisse van dié twee, sowel as ander aanstellings in Sisulu se kantoor.

Emma Powell, ’n DA-woordvoerder oor menslike nedersettings, water en sanitasie, het dít Vrydag bekend gemaak nadat Sisulu in ’n parlementêre antwoord bevestig het dat sy die twee as raadgewers aangestel het.

Sisulu sê voorts die salarisse en kwalifikasies van personeel is ingevolge wetgewing vertroulik. Sy sê egter alle instellings is ingevolge riglyne van die ministeriële handboek gemaak.

Shaik
Mo Shaik

Powell het Vrydag in ’n verklaring gesê belastingbetalers gaan nou amptelik die “waarskynlik buitensporige salarisse betaal van Simelane en Shaik, wat albei by staatskaping geïmpliseer word”.

“Wat meer kommerwekkend is, is die feit dat die meerderheid van die aanstellings in Sisulu se departement se nasionale snelreaksie-taakspan blykbaar bondgenote is in haar veldtog om ANC-adjunkpresident te word.”

Powell verwys in haar verklaring ook na berigte in Mail & Guardian in November verlede jaar waarvolgens Sisulu en ’n adviseur glo druk op haar departement geplaas het om mense wat gehelp het met haar 2017-veldtog om adjunkpresident van die ANC te word, in bogenoemde taakspan aan te stel. Die taakspan reageer op die droogtekrisis in Suid-Afrika.

“Dit beteken dat belastingbetalersgeld wat vir Suid-Afrika se droogteverligtingsprogram gebruik kon word, nou die salarisse van mense soos Simelane, Shaik en lede van Sisulu se persoonlike politieke veldtog betaal.

“Simelane was oudpres. Jacob Zuma se destydse aanstelling as nasionale direkteur van openbare vervolgings wat berug en bekend is vir sy bande met staatskaping. Sy aanstelling is later deur die konstitusionele hof as irrasioneel verklaar.

“Shaik aan die ander kant het ’n betreurenswaardige rol in die Bulelani Ngcuka-‘apartheidspioendebakel’ gespeel en is skandelik bekend daarvoor dat hy in ’n senior ondersoekende hoedanigheid op die kruin van staatskaping was. ’n Tyd toe hy self erken het dat hy geweier het om openlik voorspraak te maak vir ’n ondersoek na die Gupta-familie,” sê Powell.

Powell wou in ’n ander parlementêre vraag ook by Sisulu weet watter spesifieke bevoegdhede Bathabile Dlamini, president van die ANC-vroueliga en omstrede voormalige minister van maatskaplike ontwikkeling, het wat haar aanstelling as tussentydse voorsitter van Sisulu se departement se regulatoriese owerheid oor maatskaplike behuising regverdig.

Die agentskap het ’n jaarlikse begroting van R1 miljard.

Sisulu het in haar parlementêre antwoord gesê Dlamini beskik oor “diepgaande praktiese kennis van ’n wye reeks maatskaplike ontwikkelingskwessies wat sy oor die jare verkry het deur haar deelname aan verskillende organisasies en strukture oor maatskaplike ontwikkeling”.

Volgens Sisulu sal Dlamini ook “goeie bestuur” by die agentskap herstel.

Meer oor:  Menzi Simelane  |  Lindiwe Sisulu  |  Mo Shaik  |  Politiek  |  Klagte
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.