Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
DA ‘doen onmiddellik stappe’ teen George se stadshoof

Die DA gaan onmiddellike stappe doen teen George se burgemeester, Melvin Naik, na aanleiding van ’n forensiese verslag.

Geordin Hill-Lewis, die DA se kiesafdelingshoof in George, sê in ’n verklaring die DA in die Wes-Kaap het die bevindings van die verslag bestudeer na bewerings van bedrog, wanadministrasie, korrupsie en ernstige wanpraktyke in die George-munisipaliteit.

Die ondersoek is gelas deur Anton Bredell, Wes-Kaapse LUR vir plaaslike regering.

Die verslag bevat twee ernstige bevindings oor Naik wat verband hou met beweerde korrupsie en inmenging in die administratiewe proses.

Melvin Naik Foto: Verskaf

Die bevindings word gestaaf deur erkentenisse deur betrokke individue en omstandigheidsgetuienis. Daar is ook getuienis dat relevante dokumente van die ondersoekers weerhou is, lui die verklaring.

Die DA is daartoe verbind om ’n skoner en meer verantwoordbare regering te bied as enige ander party in die land. Elke kieser en belastingbetaler moet vertroue hê dat waar die DA regeer, openbare geld nie wanaangewend sal word nie.

Anton Bredell

Waar ’n DA-regering hiermee tekortskiet, sal daar opgetree word om die standaard te handhaaf en die publiek se vertroue te herstel, luidens die verklaring.

Daarom het die DA se provinsiale uitvoerende komitee besluit dat die DA Dinsdag aan Naik sal skryf om hom in te lig van sy voorneme om hom te skors, hom kans te gee om redes te verskaf vir waarom dit nie gedoen moet word nie, en om hom aan te kla ingevolge die DA se grondwet.

Volgens Hill-Lewis sou hy Dinsdag met Naik en die DA se koukus in George vergader om verdere gepaste optrede te bespreek.

Luidens die verklaring hou die beweerde oortredings in die verslag ernstige strafregtelike strawwe in. Naik ontken die bewerings teen hom en die bewerings is nie in ’n hof bewys nie, maar die bevindings is gedetailleerd en word gestaaf. In sommige gevalle weerspreek die getuienis die burgemeester se ontkennings, lui die verslag.

Daarom kan die DA nie langer wag vir die Valke (wat reeds vir byna twee jaar besig is met ’n ondersoek oor bewerings rakende die George-munisipaliteit) om op te tree nie. Daar kan ook nie gewag word vir die uitkoms van enige uiteindelike strafregtelike verrigtinge nie (hoewel dit moet voortgaan).

Luidens die verklaring moet daar daadwerklik opgetree word om die DA-administrasie in George te herstel.

Danksy Bredell en die DA in die Wes-Kaap is die bewerings ondersoek en getuienis aan die lig gebring. Dit wys die DA se verbintenis tot skoon regering, selfs al beteken dit om teen kollegas op te tree.

’n Beroep word op alle partye in George se stadsraad gedoen om die DA se pogings te ondersteun om korrupsie in George uit te roei, luidens die verklaring.

Meer oor:  Anton Bredell  |  Melvin Naik  |  George  |  Korrupsie  |  Bedrog
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.