Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
DA draai teen SEB

Mmusi Maimane, DA-leier, het die wiele aan die rol gesit sodat die party kan wegbeweeg van ’n beleid wat rasgegronde regstellende maatreëls onderskryf. Volgens Solly Malatsi, DA-woordvoerder, het Maimane die opdrag gegee dat ’n splinternuwe beleid oor groei en regstelling geskep word omdat rasgegronde beleid “nie daarin geslaag het om werkloosheid, armoede en ongelykheid sinvol te pak nie”.

Die nuwe beleid sal geformuleer word deur ’n kommissie oor groei en regstelling, wat pas gestig is.

“Sodra die werk van hierdie kommissie afgehandel is, sal die kommissie ’n beleidsvoorstel by die party se volgende federale raadsvergadering in Oktober maak,” sê Malatsi.

Maimane het Woensdag in die parlementêre debat oor die presidensie se begroting pres. Cyril Ramaphosa gevra om breëbasis- swart ekonomiese bemagtiging (SEB) te skrap.

“Breëbasis-SEB het geen ekonomiese inklusiwiteit opgelewer nie. Dit is ’n vyeblaar vir regstelling en doen niks vir 99% van Suid-Afrika se uitgesluite burgers nie,” het Maimane getier.

Verskeie DA-LP’s, soos John Steenhuisen, hoofsweep, en Mike Waters, voormalige adjunkhoofsweep, het op sosiale media goedkeurend op Maimane se toespraak gereageer.

Toe Rapport Malatsi vra of die DA nou wel wegbeweeg van ’n rasgegronde beleid oor bemagtiging, het Malatsi gesê: “Eerder as om van die grond af boontoe te werk en te fokus op onderwys, vaardighede en opleiding asook geografiese agterstande, is die huidige model van rasgegronde regstelling deur politici, groot ondernemings en nepotisme gekorrupteer.

“Regstelling gaan oor veel meer as ras soos wat dit vervat is in die huidige breëbasis-SEB-model. Dit het sowel werkloosheid as ongelykheid vererger.

“Die DA staan vir werklike regstelling wat spreek tot die ware oorsake van benadeling. Nie regstelling wat die Guptas, Duduzane Zuma en Andile Ramaphosa toelaat om winsgewende transaksies te beklink op grond van hul velkleur nie.”

Malatsi hou vol dat Maimane sedert 2016 “konsekwent” is oor SEB.

In die aanloop tot die algemene verkiesing op 8 Mei het die DA dikwels na die relevansie van ras in regstelling verwys, al het die party gesê hy verwerp die ANC se regstellende model. Die DA het gesê breëbasis-SEB het misluk want dit is nie breedgebaseerd nie en eerder ’n elite-verrykingskema. Die DA het aandeleskemas beoog tot voordeel van “honderdduisende”.

Gwen Ngwenya, die party se voormalige beleidshoof, het in Januarie bedank ná ’n openbare twis oor die party se hantering van SEB. Sy het in Business Day geskryf die inkomstegaping tussen wit en swart het die afgelope 20 jaar toegeneem, want SEB skep nie vir gewone mense welvaart nie.

Ngwenya is op sosiale media deur liberale DA-LP’s hiervoor geprys, maar talle ander lede van die koukus was woedend en Ngwenya het verlede maand as LP bedank.

Toe Maimane die afgelope week ’n nuwe rigting inslaan, het Ngwenya op Twitter gesê “hierdie beleidstandpunt is waarvoor ons so lank baklei het. Dit moet verwelkom word, maar hy het baie om te verduidelik.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.