Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
DA dreig Ramaphosa met strafhof oor Zim
Betogers kom op straat byeen in Harare, Zimbabwe, in protes teen die groot verhoging in die petrolprys. Dié foto is Maandag geneem. Foto: AP

Indien pres. Cyril Ramaphosa hande gevou sit oor die menseregtevergrype in Zimbabwe, gaan die DA hom tot die Internasionale Strafhof wend.

Stevens Mokgalapa, die DA se woordvoerder oor internasionale betrekkinge en samewerking, sê indien Ramaphosa versuim om in te gryp en sy ampsgenoot Emmerson Mnangagwa adviseer om die militêre aanvalle op sy burgers stop te sit, gaan hy geen ander keuse hê om by die hof aan te klop nie.

Mokgalapa sê sy party glo sterk die menseregtekrisis waar 12 mense volgens die Zimbabwiese Menseregteforum reeds hul lewe verloor het, is genoeg gronde vir ’n ondersoek deur dié hof.

’n Vrou doen Sondag inkopies in Harare .Foto: Reuters
Mense staan Sondag in Harare in ’n lang ry om hul gasbottels op te vul. Foto: Reuters

Daar is op nóg 78 mense geskiet en 240 mense is aangerand, gemartel of moes onmenslike en vernederende behandeling verduur, volgens die forum.

Dit volg nadat Mnangagwa Saterdag 12 Januarie op televisie verskyn het om ’n buitensporige 150%-verhoging in die brandstofprys aan te kondig. Die volgende dag het Zimbabwiërs die strate ingevaar terwyl Mnangagwa na Rusland vertrek het. Mnangagwa was sedert die onluste nog nie in sy land nie.

Mnangagwa het die brandstofprys glo verhoog in die hoop om die tekort aan valuta te verlig en in ’n poging om die land se ergste ekonomiese krisis in ’n dekade die hoof te bied.

Mokgalapa sê dit lyk of Ramaphosa se regering hande gevou sit oor die krisis in Zimbabwe net soos met oudpres. Thabo Mbeki se mislukte diplomasie in 2008.

Mbeki se rampspoedige beleid jeens Zimbabwe het wyd kritiek gekry.

“Die DA sal nie toekyk terwyl Ramaphosa ’n ‘Stille Diplomasie 2.0’-strategie volg nie, wat sekerlik dieselfde resultate sal lewer as Mbeki se mislukte buitelandse beleid. Dieselfde mense wat Zimbabwiërs onder (oudpres.) Robert Mugabe terroriseer, is steeds in beheer onder Mnangagwa. Zimbabwiërs is ’n nuwe daeraad belowe ná Mugabe ontsetel is, net soos Suid-Afrika toe Jacob Zuma bedank het. Van albei het dadels gekom. Die era van kameraadskap tussen Ramaphosa se ANC-regering en Mnangagwa se Zanu-PF-regering, terwyl menseregte vertrap word, is verby.”

’n Polisiepatrollie Sondag in Harare, Zimbabwe. Foto: Reuters

Mokgalapa sê Ramaphosa word met ’n maklike keuse gekonfronteer.

“Óf hy tree in óf sy regering sal een van die partye wees wat voor die strafhof moet antwoord hoekom hulle versuim het om menseregteskendings te stop.”

Die prokureursorde van Suid-Afrika (LSSA) het ook kommer uitgespreek oor die krisis in Zimbabwe waar die regering ook internettoegang en verskeie sosialemediaplatforms gesluit het.

“Burgers het die vryheid om vreedsaam te vergader sonder vrees vir gewelddadige inhegtenisname of dood. Ons ondersteun vryheid van uitdrukking en glo sterk die sluiting van die internet sny mense van lewensbelangrike inligting af. Die sluiting van die internet herstel nie orde nie; inteendeel, dit doen die teenoorgestelde. Dit ontwrig die vrye vloei van inligting en verberg menseregteskendings van die publiek,” lui ’n verklaring van LSSA.

Intussen is Lindiwe Sisulu, minister van internasionale betrekkinge en samewerking, deur die Suid-Afrikaanse ambassadeur in Zimbabwe, Mphakama Mbete, oor die verwikkelinge ingelig.

“Die minister neem kennis dat die protes in Zimbabwe bedaar het en dat die strate na normaal terugkeer. Die Suid-Afrikaanse regering gaan saam met die Zimbabwiese regering saamwerk om kort- en langtermyn-oplossing vir die ekonomiese situasie te vind.”

Sisulu sê indien die situasie nie die nodige aandag kry nie, kan die huidige ekonomiese uitdagings die politieke en ekonomiese vooruitgang wat die land sedert die verkiesing van Mnangagwa gemaak het, ontspoor.

Meer oor:  Cyril Ramaphosa  |  Zimbabwe  |  Zim-Krisis  |  Strafhof  |  Da
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.