Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
DA, EFF glo handgemeen oor art. 25 in Thohoyandou

Die polisie moes Saterdagmiddag in Thohoyandou, Limpopo, ingryp toe DA- en EFF-lede haaks geraak het by die laaste openbare sitting oor of art. 25 van die Grondwet gewysig moet word sodat grond sonder vergoeding onteien kan word.

'n Stampvol saal in Mokopane waar 'n sitting oor grondonteiening Donderdag gehou is. Foto: Marietie Louw-Carstens

Geoffrey Tshibvumo, DA-voorsitter in Limpopo, beweer hy is deur EFF-lede buite die Thulamela-gemeenskapsaal, waar die openbare sitting gehou is, aangerand, berig News24.

EFF-lede was ontstoke omdat ’n DA-lid volgens hulle glo ’n ekstra spreekbeurt gekry het. Tshibvumo is nie beseer nie.

Soos met die sittings in Mokopane, Tzaneen en Marble Hall was die Thulamela-gemeenskapsaal in Thohoyandou stampvol en het nie almal ’n spreekbeurt gekry nie.

Vincent Smith, voorsitter van die komitee, sê hulle is verbaas oor die reuse-aantal mense wat die vier openbare sittings in Limpopo bygewoon het.

“Ons vra om verskoning omdat die sale waar die sittings gehou is te klein was. Grond is ’n hoogs emosionele kwessie en daar was enkele ontwrigtings, maar die sittings was suksesvol,” sê Smith.

Smith het die publiek daaraan herinner dat die sittings nie ’n referendum is waar getel word hoeveel mense ten gunste van of teen die wysiging van art. 25 van die Grondwet is nie, maar dat die gehalte van mense se redes in ag geneem word.

Die meerderheid inwoners van Limpopo wil hê dat art. 25 van die Grondwet gewysig moet word omdat “grond wat deur kolonialisme en apartheid weggevat is nou teruggegee moet word”.

Geoffrey Tshibvumo, DA-voorsitter in Limpopo. Foto: Verskaf

Arm swart mense glo ook grond sal hulle ekonomiese vryheid gee. “Diegene wat nie grond het nie, is oortuig hulle het vaardighede om grond te bewerk,” sê Smith.

Dit is meestal wit mense in Limpopo wat teen die wysiging van art. 25 is. Hulle meen onteiening sonder vergoeding sal die ekonomie laat ineenstort, beleggers afskrik en voedselsekerheid bedreig.

Smith sê mense wat teen die wysiging is. meen die Grondwet maak reeds voorsiening vir onteiening sonder vergoeding, maar “ ’n gebrek aan politieke wil veroorsaak dat grondhervorming die afgelope 24 jaar ’n mislukking was”.

* Die openbare sittings oor of art. 25 van die Grondwet gewysig moet word aldan nie, sal vandeesweek in Mpumalanga en in die Vrystaat gehou word.
Maandag se sitting sal in Mbombela om 11:00 in die AG Communio-saal begin. Die eerste sitting in die Vrystaat sal ook om 11:00 begin in die Samson Sefuthi-gemeenskapsaal in Botshabelo.

Meer oor:  Da  |  Eff  |  Limpopo  |  Thohoyandou  |  Grondkwessie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.