Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
EFF is klaar met DA

Die DA en die EFF se saamvaarbootjie het (skynbaar) nou wel gesink.

Julius Malema. Foto: Felix Dlangamandla

Die skaakmatsituasie in die Tshwane- en Johannesburg-metroraad waar geen party ’n volstrekte meerderheid het nie, gaan verskerp nadat die EFF hom Dinsdag onttrek het aan die samewerkingsooreenkoms wat hy met die DA gehad het.

Julius Malema, EFF-leier, het Dinsdag op ’n mediakonferensie in Johannesburg gesê sy party gaan in geen munisipaliteit meer saam met die DA stem nie, nadat dié party die EFF se aandrang om die burgemeesterstoel in Tshwane te vul, verwerp het.

Malema het gesê die EFF sal voortaan net insette lewer in raadsvergaderings, maar buite stemmings bly.

“Ons het die besluit geneem dat ons nie meer in enige munisipaliteit in Suid-Afrika vir die DA sal stem nie. Ons sal ook nie saam met die ANC stem nie. Ons sal aan die debat deelneem, insette lewer en as enigiets stemming vereis, sal die EFF hom daarvan weerhou om te stem,” het Malema gesê.

In die Johannesburg-metro, met sy 270 raadslede, het die ANC 121 setels, die DA 104 en die en die EFF 30.

In Tshwane, met sy 214 setels, het die ANC 89, die DA 93 en die EFF 25.

In Johannesburg is 136 stemme nodig vir ’n meerderheid en in Tshwane 108.

Dit beteken dat die DA en sy koalisievennote die steun van die ANC mag nodig hê om gewone raadsbesluite deurgevoer te kry.

Ons sal tot 2021 die opposisie bly, ons wil nie in ’n koalisie met die DA ingaan nie.
Kgosi Maepa, leier van die ANC-koukus in Tshwane

Ná die munisipale verkiesing in 2016 het die EFF ’n deurslaggewende rol daarin gespeel dat DA burgemeesters in Tshwane, Johannesburg en die Nelson Mandelabaai-metro’s kon aanwys.

James Selfe, federale voorsitter van die DA, het Dinsdag die EFF se besluit as “ongelukkig” beskryf.

“Dit is jammer dat die EFF die standpunt ingeneem het ten koste van miljoene Suid-Afrikaners wat in 2016 vir verandering gestem het,” het Selfe gesê.

“As die EFF sou voortgaan soos hy beplan, sal dit al die goeie werk wegkalwe wat koalisiepolitiek in die verlede teweeggebring het en dit sal vooruitgang in die toekoms belemmer. Dit sal bloot die ANC versterk om korrupsie terug te bring in die metro’s waar ons verandering gebring het.”

Kgosi Maepa, leier van die ANC-koukus in Tshwane, het Dinsdag gesê hoewel die ANC nie voorsien dat hy in koalisie met die DA sal gaan nie, bewys die EFF se stap dat die koalisie in Tshwane “misluk het”.

James Selfe. Foto: Melinda Stuurman

“Ons sal tot 2021 die opposisie bly, ons wil nie in ’n koalisie met die DA ingaan nie. Die DA en die EFF het die mense van Tshwane in die steek gelaat, soos wat die ouditeur-generaal (OG) in sy verslag (oor munisipaliteite) gesê het, dat Tshwane een van die munisipaliteite is wat die swakste gevaar het,” het Maepa gesê.

Jolidee Matanga, ANC-woordvoerder in Johannesburg, het gesê dat die party op ’n kwessie-tot-kwessiegrondslag nie sal huiwer om saam met die DA te stem nie, veral nie as dit gaan oor dienslewering tot voordeel van die inwoners nie. “Ons het dit al voorheen gedoen,” het Matanga gesê.

Dr. Somadoda Fikeni, politieke ontleder, sê die EFF se besluit om uit die strategiese ooreenkoms met die DA te onttrek sal “ernstige gevolge” inhou om begrotings in rade sonder ’n volstrekte meerderheid deurgevoer te kry.

“Daar is geen twyfel nie dat wat reeds ’n minderheidsregering (in dié rade) is, verder daardeur gestrem en verlam gaan word. As die DA-raadslede gemene grond kan vind met ANC-raadslede, sal die EFF frustreer wat ook al die DA probeer doen,” sê Fikeni.

“Dit sal die lewe moeilik maak vir enigiemand in die regering.”

Nog ’n politieke ontleder, Xolani Dube, sê Malema bluf net en hy glo nie dat die EFF-leier die besluit tot raadsvergaderings sal deurvoer nie.

“Ek kan Julius eenvoudig nie meer ernstig opneem nie. Hy sê alewig dinge wat hy nie kan deurvoer nie. Hy is geensins anders as (oudpres.) Jacob Zuma nie. Sy aansien in die politiek is verwater en hy soek na iets om te sê,” sê Dube.

tshwane-raad
Meer oor:  Da  |  Eff  |  Julius Malema  |  James Selfe  |  Tshwane  |  Johannesburg
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.