Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
DA eis minister se afdanking ná foto van ‘ete'

Stella Ndabeni-Abrahams, omstrede minister van kommunikasie en digitale tegnologie, moet strafregtelik aangekla en afgedank word en ook alle Suid-Afrikaners om verskoning vra indien sy wel die inperkingsregulasies verontagsaam het.

Dít was Dinsdag die eise van die DA en die IVP nadat foto’s van Ndabeni-Abrahams op sosialemedia platforms opgeduik het waarin sy die afgelope Sondag die ewe omstrede Mdu Manana, voormalige adjunkminister van hoër onderrig en opleiding, by sy huis in Fourways, Johannesburg, besoek en middagete saam met hom en sy familie geëet het.

Dít terwyl streng regulasies alle Suid-Afrikaners tot 16 April verbied om hul huise te verlaat, tensy dit vir noodsaaklikhede is, om die verdere verspreiding van Covid-19 te beperk.

Derduisende gewone Suid-Afrikaners is tot dusver in hegtenis geneem omdat hulle die inperkingsreëls oortree het.

Een van die Instagram-foto’s wat Stella Ndabeni-Abrahams, minister van kommunikasie, in die moeilikheid het.Foto: Instagram

Pres. Cyril Ramaphosa het nadat hy Dinsdag oor die foto’s van Ndabeni-Abrahams uitgevra is aan joernaliste in Johannesburg gesê dat hy daarvan bewus is en haar beveel het om hom daaroor te kom sien.

“Ek sal ’n gesprek met haar hê oor die impak wat sulke foto’s het op wat ons probeer doen. Ons wil ’n duidelike boodskap aan al ons mense gee dat sosiale distansiëring belangrik is. Dat ons by die huis moet bly en nie uitgaan om ander te besoek nie. As iemand moet uitgaan, moet dit werksverwant wees,” sê Ramaphosa.

Ndabeni-Abrahams se kantoor het nie Dinsdag op versoeke vir kommentaar oor die foto’s gereageer nie.

Besoek was 'werksverwant'

Intussen beweer Manana Dinsdagmiddag in ’n verklaring, wat deur sy Mduduzi Manana-stigting uitgereik is, dat Ndabeni-Abrahams se besoek werksvervant was.

“Op 5 April 2020 het ek ’n oproep van Ndabeni-Abrahams gekry wat my ingelig het dat sy ’n perseel in die Fourways-gebied besoek het waar ’n aantal studente aan die Covid-19- digitale dienste werk en dat hulle beskermende toerusting soos maskers, handskoene en handreinigers benodig wat my stigting aan gemarginaliseerde gemeenskappe uitdeel,” lui die verklaring.

“Ek het die minister versoek om by my huis om te kom en die materiaal op te laai, wat sy met graagte gedoen het. Met haar aankoms was my familie besig met middagete en ek het haar hoflik genooi om by ons aan te sluit. Sy het toe die materiaal geneem en aanbeweeg om haar volgende verpligting na te kom. Sy het die eerste versending na die studente in Fourways geneem en aangedui dat die volgende besoek Woensdag sal wees by die Menlyn-perseel waar ons span dit sal aflewer.”

Manana skryf verder dat hy nou besef dat dit “onverantwoordelik” was om ’n foto te plaas sonder om duidelik konteks te gee en sodoende die indruk te skep dat dit ’n sosiale middagete was. Hy het om verskoning daarvoor gevra.

'Ramaphosa moet voorbeeld stel'

Intussen het Phumzile van Damme, DA-woordvoerder oor kommunikasie, Dinsdag in ’n verklaring gesê dat Ramaphosa ’n voorbeeld as staatshoof moet stel dat wetteloosheid gedurende die pandemie nie geduld sal word nie en dat hy ’n strafregtelike klag teen Ndabeni-Abrahams daaroor moet aanhangig maak.

“Hy moet selfs verder gaan en haar afdank,” sê sy.

“Hy kan nie verwag dat ’n raps op die vingers onder hierdie omstandighede voldoende sal wees nie. Ndabeni-Abrahams moet gaan!”

Die IVP het Dinsdag ook daarop aangedring dat Ndabeni-Abrahams alle Suid-Afrikaners om verskoning moet vra vir haar “spoggerige” verontagsaming van die staat van inperking se regulasies.

“Ministers is nie bo die wet en die regulasies verhewe nie. Middagetes en byeenkomste by vriende of familie is ’n skending van die gepromulgeerde regulasies,” sê Zandile Majozi, IVP-woordvoerder oor kommunikasie.

Vroeër is ook berig hoe Ndabeni-Abrahams in Januarie vanjaar vure moes doodslaan nadat ’n Sondagkoerant toe berig het dat sy en haar man na bewering belastingbetalersgeld “gebruik en/of misbruik het” vir luukse oorsese reise na New York en Genève ter viering van hul huweliksherdenking. Sy het dié beweringe as ongegrond en ’n kwaadwillige smeerveldtog afgemaak.

Manana self moes vroeër as adjunkminister en ANC-LP bedank nadat hy daaraan skuldig bevind is dat hy drie vroue ernstig in ’n nagklub aangerand het.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.