Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
DA en EFF druk nog arm oor 2 rade

’n Groot botsing dreig tussen die DA en die EFF want die EFF weier om af te sien van sy eis om ’n nuwe uitvoerende burgemeester in die Tshwane-metroraad te verkies.

John Moodey, DA-leier in Gauteng, het Donderdag gesê die burgemeesterspos in Tshwane sal “onder geen omstandighede” aan die EFF oorhandig word nie.

Die EFF dreig om sy steun aan die DA-geleide rade te onttrek, wat kan beteken dat ’n ANC-koalisie albei rade sou kon oorneem.

Dali Mpofu, nasionale voorsitter van die EFF, en dr. Mbuyiseni Ndlozi, EFF-woordvoerder, het laat blyk moeilikheid lê vir die DA voor.

“Ons kan dit op ’n mooi manier doen of nie.

“Die mooi manier sal wees as ons daaroor kan praat en kan ooreenkom hulle regeer Johannesburg en ons Tshwane, of omgekeerd.

“Ons vra vir geen gunste nie,” het Mpofu gesê.

“As hulle nee sê, sal ons sê goed, dan laat val ons die rade en gaan vir nuwe verkiesings. Laat die kiesers dan besluit.”

Ndlozi het ook met nuwe verkiesings gedreig. Hy glo die DA sal dit wil vermy want sy steun daal tans.

Solly Malatsi, DA-woordvoerder, het Vrydag gesê die besprekings tussen die partye gaan voort.

“Die EFF was nie ’n formele koalisievennoot nie en die status quo bly dieselfde.”

James Selfe, voorsitter van die DA se federale uitvoerende raad, sê die DA vergader reeds met die EFF en vergader Woensdag met koalisievennote. Die DA se federale raad het verlede week net ’n verslag oor die kwessie bespreek.

Julius Malema, EFF-leier, het ná die 8 Mei-verkiesing gesê sy party soek die uitvoerende burgemeesterspos vir Tshwane asook lede in die burgemeesterskomitee, maar die DA kan Johannesburg behou.

Theo Venter, politieke ontleder verbonde aan die Noordwes-Universiteit, sê die EFF se dreigement van nuwe verkiesings hou nie steek nie.

“As die EFF nie vir die DA stem nie, het hulle twee keuses.

“Óf hulle bly buite stemming óf hulle stem teen die DA.

“In laasgenoemde geval is die samewerking met iemand anders, waarskynlik die ANC, en ek weet nie of hulle tans gereed is om dit te doen nie.”

Meer oor:  John Moodey  |  Dali Mpofu  |  Tshwane-Metroraad  |  Burgemeester
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.