Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
DA gaan ‘aanhou grawe’ oor R55 m. vir Nkosazana
Hardie Viviers. Foto: Argief

Die DA in die Vrystaat sal aanhou grawe en druk toepas totdat die waarheid uitkom oor bewerings dat die Mangaung-metro R55 miljoen geskenk het vir Nkosazana Dlamini-Zuma se ANC-verkiesingsveldtog in 2017.

“Ons sal druk toepas tot ons die waarheid weet en die ANC tot verantwoording dwing,” sê Hardie Viviers, koukusleier van die DA in die metro.

Dit gaan oor bewerings dat die metro dié geld aan die NDZ-17-Zuma/Ace Magashule-kamp vir die verkiesing van die ANC-president sou geskenk het.

Olly Mlamleli, burgemeester, en Mxolisi Siyonzana, speaker en streekvoorsitter van die ANC in Mangaung, ontken egter dat die metro die R55 miljoen geskenk het.

Siyonzana sê “dink mense regtig dat ons in die benarde geldelike posisie waarin die metro is nog sulke skenkings kan maak? Boonop gee die metro nie skenkings vir enige politieke party nie.”

Mlamleli sê sy kan in alle erns sê daar was nooit so ’n skenking uit haar burgemeestersfonds nie.

“As dit so is, is die kwessie van die skenking nie by my verby nie en weet ek nie daarvan nie.”

Op WhatsApp-groepe word beweer terwyl pres. Cyril Ramaphosa deur die openbare beskermer gekruisig word oor wie almal geld geskenk het vir die CR17-veldtog, het verskeie munisipaliteite, waaronder die Mangaung-metro, die Guptas, die Ace Magashule-trust, staatsdepartemente en mense wat met die regering verbind word, geld geskenk aan die NDZ17-veldtog vir Dlamini-Zuma, wat gesteun is deur Ace Magashule, sekretaris-generaal van die ANC.

Zolile Mangcotywa, hoofsweep van die metro, sê hy het op Facebook die bewerings gesien dat die metro die geld sou geskenk het, maar dit is die eerste woord wat hy daarvan hoor.

Paseka Nompondo, sekretaris van die Vrystaatse ANC, ontken ook dat enige Vrystaatse staatsdepartement of munisipaliteit geld vir die NDZ17-veldtog gegee het.

Qondile KhedamaFoto: Argief

Hy het die WhatsApp-boodskappe as “onsin” afgemaak, terwyl Qondile Khedama, kommunikasiebestuurder van die metro, dit net as ’n geskinder oor die radio bestempel het.

Volgens die WhatsApp-boodskappe sou Magashule R60 miljoen uit sy Ace Magashule Trust gegee het.

Pule Mabe, woordvoerder van Magashule, het ook by navraag gesê “as ’n saak van beginsel skenk staatsdepartemente nie geld aan interne politieke partyveldtogte vir leierskapsposte nie”.

Hy sê hulle versoek enigiemand met sulke inligting met die nodige bewyse om dit aan die relevante owerhede bekend te maak.

“Ons interne prosesse met die benoeming van leiers op alle vlakke van die organisasie is waterdig en verwyderd van enige manipulasie.”

* Volgens inligting verskaf deur ’n betroubare bron het verskillende finansiële hoofde van Vrystaatse staatsdepartemente en munisipaliteite op die negende verdieping van die Bram Fischer-gebou van die Mangaung-metro voor die verkiesing vergader. Hulle het “kaders” ook gebel en geld is beskikbaar gemaak om mense met taxi’s en ander vervoermiddels na die ANC-kongres by Nasrec aan te ry.

Maar niemand kon dié bewerings wat teenoor Netwerk24 gemaak is, bevestig nie.

Khedama het dit by navraag ook ontken.

“Waarom sou die mense na die Bram Fischer-gebou van Mangaung gekom het as die ANC groot kantore in Bloemfontein het en waar baie van die kantore leegstaan? Dit maak nie sin nie.”

Meer oor:  Hardie Viviers  |  Mangaung
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.