Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
DA gaan meer sê oor ‘vrot appels’ in komitees
John Steenhuisen, DA-hoofsweep, gaan Maandag vra dat opposisiepartye groter deelname in parlementêre komitees kry. Foto: Jaco Marais

Inligting oor die sogenaamde vrot appels wat Dinsdag as voorsitters van die parlementêre oorsigkomitees verkies gaan word, gaan deur die DA bekend gemaak word.

Planne om groter deelname van opposisiepartye in die komitees te verkry, gaan ook Maandag deur John Steenhuisen, DA-hoofsweep, by die parlement aangekondig word.

Al 33 die parlementêre oorsigkomitees vergader Dinsdag vir die eerste keer om nuwe voorsitters – waarvan sommige omstrede is en by staatskaping betrek word – te verkies. Ace Magashule, ANC-hoofsweep, het vroeër die name van dié kandidate aangekondig.

Onder dié wat komiteevoorsitters gaan word, tel ’n paar oudministers wat nie weer in pres. Cyril Ramapahosa se kabinet ingesluit is nie.

Hulle sluit in adv. Bongani Bongo, voormalige minister van staatsveiligheid, Mosebenzi Zwane, oudminister van minerale bronne, en Faith Muthambi, voormalige minister van kommunikasie sowel as staatsdiens en administrasie.

Ook Tina Joemat-Pettersson, oudminister van energie, keer terug na die Nasionale Vergadering as ’n komiteevoorsitter sowel as Supra Mahumapelo, oudpremier van Noordwes.

Bongo, wat tot voorsitter van die portefeuljekomitee oor binnelandse sake verkies gaan word, is in 2017 in omstredenheid gehul toe hy daarvan beskuldig is dat hy die parlement se Eskom-ondersoek in die wiele wou ry omdat hy na bewering die getuienisleier met ’n blanko tjek wou omkoop.

Versoeke het reeds opgeklink dat Zwane, wat die portefeuljekomitee oor vervoer gaan lei, voor die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping moet verskyn oor sy beweerde rol in die kaping van Eskom asook weens die openbare beskermer se vroeëre bevinding oor die rol wat hy gespeel het om te verseker dat die omstrede Gupta-familie die Optimum-steenkoolmyn van Glencore kon aankoop.

Muthambi, wat die nuwe voorsitter van die portefeuljekomitee oor samewerkende regering en tradisionele sake gaan word, is onder meer in haar hoedanigheid as oudminister van kommunikasie deur die DA daarvan beskuldig dat sy die SAUK tot in die grond bestuur het.

Mahumapelo, wat die portefeuljekomitee oor toerisme gaan lei, is ook onlangs in getuienis voor die Zondo-kommissie by korrupsie betrek. Dele van Noordwes, waarvan hy die premier was, was verlede jaar vir ’n ruk lank in gewelddadige protesbetogings vasgevang weens sy weiering om as premier te bedank.

Joemat-Pettersson, wat die portefeuljekomitee oor polisie gaan lei, was ook voorheen die minister van landbou, bosbou en visserye. Vrae het vroeër ontstaan oor die verkoop van Suid-Afrika se strategiese voorraad ruolie ter waarde van R5 miljard terwyl sy die minister van energie was.

Meer oor:  Faith Muthambi  |  Ace Maga­Shule  |  Politiek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.