Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
DA gebruik Jonas se verklaring in sy Gupta-saak
Mcebisi JonasFoto: DENVOR DE WEE, VISUAL BUZZ SA

Mcebisi Jonas, adjunkminister van finansies, se jongste beëdigde verklaring in die siviele ho­f­aansoek wat Pravin Gordhan, minister van finansies, vroeër teen die Guptas ingedien het, sal ook in ’n strafregtelike hofsaak teen dié omstrede vriende van pres. Jacob Zuma gebruik word.

David Maynier, DA-woordvoerder oor finansies, het Vrydag gesê hy sal die beëdigde verklaring wat Jonas Donderdag by die hooggeregshof in Pretoria ingedien het, insluit by die strafregtelike saak wat hy in Maart 2016 by die polisie in Kaapstad teen die Guptas aanhangig gemaak het.

In dié saak het Maynier korrupsieklagte teen al drie Gupta-broers en teen Zuma se seun Duduzane ingedien.

Die Valke ondersoek dit.

Jonas het in 2016 vir die eerste keer in die openbaar gesê die Guptas het hom die pos van minister van finansies aangebied.

Jonas was na dié onthulling ook betrokke by adv. Thuli ­Madonsela, destydse openbare beskermer, se ondersoek en verslag oor staatskaping.

Volgens Maynier is Jonas ook die sleutelgetuie in die strafregtelike saak en is sy jongste beëdigde verklaring daarom relevant.

“Die adjunkminister se beëdigde verklaring sluit sy weergawe in van die vergadering wat op 23 Oktober 2015 by die Gupta-woning in Saxonwold, Johannesburg, met Ajay Gupta gehou is.

“Die adjunkminister beweer dat die Gupta-familie hom toe onder meer die pos as minister van finansies, R600 miljoen in ’n bankrekening van sy keuse, asook R600 000 kontant as hy ’n sak gehad het om dit in te dra, aangebied het.”

Die adjunkminister beweer dat die Gupta-familie hom toe onder meer die pos as minister van finansies, R600 miljoen in ’n bankrekening van sy keuse, asook R600 000 kontant as hy ’n sak gehad het om dit in te dra, aangebied het.
David Maynier, DA-woordvoerder oor finansies

Fin24 berig dié vergadering het plaasgevind net meer as ’n maand voordat Nhlanhla Nene as minister van finansies afgedank en deur Des van Rooyen vervang is.

Maynier het gister gesê Jonas se bewerings is ernstig en kom neer op prima facie-bewyse van korrupsie.

Volgens hom het hy sedert hy die aanklagte ingedien het ’n aantal aanvullende beëdigde verklarings, wat ook ’n afskrif van Madonsela se staatskapingsverslag insluit, by die strafregtelike saak gevoeg omdat dit relevant tot die Valke se ondersoek is.

Jonas se jongste beëdigde verklaring is ingesluit by Gordhan se hofaansoek wat hy in Oktober verlede jaar ingedien het om ’n verklarende bevel van die hooggeregshof te kry oor wanneer en of die nasionale tesourie gemagtig is om by die banke se sake in te gryp.

Dit was nadat die land se vier grootste banke hul bande met al die Guptas se maatskappye verbreek het en die familie Gordhan toe gesmeek het om in te gryp.

Ajay Gupta het verlede Vrydag in ’n eedsverklaring in die hooggeregshofaansoek ontken hy het met Jonas vergader.

Hy het Jonas ook “blatant oneerlik” genoem.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

NETWERK24 Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.