Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
DA gekant teen enige nuwe kernkragplan vir SA

Die DA sal enige nuwe voorstel om kernkrag weer deel van Suid-Afrika se energiemengsel te maak, heftig teenstaan.

Die party wil daarom aan Tito Mboweni, minister van finansies, en Gwede Mantashe, minister van minerale bronne en energie, skryf om by hulle daarop aan te dring dat geen nuwe kernkragbouprogram vir die land op die tafel geplaas moet word nie.

Dít is omdat dit volgens Kevin Mileham, DA-woordvoerder oor energie, te lank sal neem om so ’n bouprogram te voltooi in die lig van die huidige probleme by Eskom en ’n ekonomie waarin daar dringend nuwe lewe geblaas moet word.

Mboweni het die afgelope Vrydag in Davos, Switserland, aan joernaliste gesê dat Suid-Afrika weens die Eskom-krisis weer ernstig, maar “op ’n oop en deursigtige wyse” oor kernkrag moet begin dink.

tito mboweni
Tito Mboweni Foto: Gallo Images

Volgens Mboweni fouteer die regering deur nie sy beleidsposisie oor energie waarop daar besluit is, behoorlik te kommunikeer nie.

“Dit is eintlik baie revolusionêr in die sin dat ons ’n redelik komplekse energiestelsel in Suid-Afrika het. Dit sluit onafhanklike kragverskaffers in, wat ’n massiewe verwikkeling in Suid-Afrika is.

“Dit sluit ook hernubare energie in. Ek is seker julle het die minister gehoor wat gesê het dat ons ook ernstig oor kernkrag – maar op ’n oop en deursigtige wyse – moet begin dink, omdat die energiebehoeftes van Suid-Afrika baie groot is.

“Veral gegewe die feit dat die energiebehoeftes van Suid-Afrika uiteindelik die energiebehoeftes van Suider-Afrika is weens die verweefde verhoudinge van die streek se politieke ekonomie en die rol van Eskom in byvoorbeeld die streek se energiemengsel,” het Mboweni in Davos gesê.

Netwerk24 het vroeër berig hoe Mantashe in Oktober gesê het dat kernkrag ook deel van die land se geïntegreerde hulpbronplan (IRP) is, maar dat dit slegs teen ’n tempo en omvang gebou sal word wat bekostigbaar is.

Mileham sê in ’n verklaring dat Mboweni se voorstel dat kernkrag teruggebring word, die werklikheid waardeur die land in die gesig gestaar word, ontken.

Volgens hom moet so ’n besluit heroorweeg word omdat Eskom totaal wanfunksioneel is, honderdmiljarde rande se skuld het en al gewys het dat hy nie grootskaalse projekte kan hanteer.

Suid-Afrika kan ook nie ’n nuwe kernkragbouprogram op kort- of langtermyn bekostig nie, terwyl die land ook reeds baie van sy tegniese kernvaardighede aan ander lande verloor het.

“Selfs die hartklop van Suid-Afrika se kernbedryf, die Kernenergiekorporasie van Suid-Afrika (Necsa) is nie meer in ’n posisie om so ’n program te dryf nie omdat dit tegnies insolvent is en bedryfsprobleme het.”

Hy meen ook ’n nuwe kernkragbouprogram sal te lank neem en nie die onmiddellike probleem oplos nie.

Meer oor:  Tito Mboweni  |  Kevin Mileham  |  Energie  |  Kragplan  |  Da
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.