Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
DA ‘gereduseer tot ’n nisparty’
trollip
Athol Trollip omhels vir Mmusi Maimane nadat albei hul bedanking as DA-leiers aangekondig het. Helen Zille staan agter hulle. Foto: Simon Sonnekus

’n “Kopskoot” vir die DA waarvan die party moeilik sal herstel.

Só het ’n politieke kenner Woensdag die bedanking van Mmusi Maimane as DA-leier en Athol Trollip as DA-voorsitter beskryf. Ontleders verwag dat die DA onderweg is om ’n nisparty te word met ’n suiwerder ideologiese benadering.

Daniel Silke, onafhanklike politieke ontleder, sê die bedankings van Maimane en Trollip is ’n “kopskoot” vir die DA. Die party sal dit “uiters moeilik vind” om daarvan te herstel.

“Die party sal deur ’n moeilike tydperk gaan om hom uit die gemors te trek waarin hy hom bevind. Die party is ook teen die toue weens Herman Mashaba se bedanking as burgemeester van Johannesburg.

“Hul projek op plaaslikeregeringsvlak word bedreig, so ook hul aantrekkingskrag vir nuwe kiesers en in die geval van Trollip hul vermoë om hul teikenmark te behou. Die gevolge sal diep dwarsdeur die party gevoel word.”

Oor die moontlike sukses al dan nie van ’n nuwe party wat moontlik uit die bedankings kan vloei, het Silke gesê daar is ruimte vir ’n party in die politieke sentrum. “Daardie sentrum voel ietwat ontnugter. Ek dink daar is ’n mark vir ’n gemagtigde politieke beweging in Suid-Afrika. Soos ons gesien het, is dit uiters moeilik om ’n nuwe party te begin – dit vereis baie hulpbronne en persoonlikhede om só projek te onderneem.”

Die party sal deur ’n moeilike tydperk gaan om hom uit die gemors te trek waarin hy hom bevind. Die party is ook teen die toue weens Herman Mashaba se bedanking as burgemeester van Johannesburg.

Silke sê dit is in dié stadium moeilik om ’n voorspelling oor die DA te maak. “Ek dink hulle sal gereduseer word tot ’n nisspeler – minstens vir eers. Dit is te vroeg om die DA af te skryf, maar ’n moeilike pad lê voor weens al hul moeilikheid.”

Prof. Somadoda Fikeni, politieke ontleder verbonde aan Unisa, sê Maimane en Trollip se bedankings is ’n groot slag vir die DA se pogings om hom te bemark as ’n party vir almal en homself te bevry van die “albatros van ras”.

Die party staan voor ’n leierskapkrisis weens die persepsie dat Helen Zille, wat tans die mees senior lid van die party is, omstrede is en dat sy die oorsaak is van al die uitdagings van die party.

“Die DA is letterlik sonder behoorlike leierskap en wie gaan die regspersoon aanstel wat oor die partyleierskap moet besluit? Waarskynlik Helen Zille.”

Oor die bespiegeling van ’n wegbreekparty wat dalk uit die skuiwe kan vloei, sê Fikeni die idee is waarskynlik om ’n politieke ruimte te beset wat nie tans beset word nie. “Dit is ’n ruimte vir ’n party wat beskou sal word as allesomhelsend, wat ’n opposisie vir die DA sal wees, steeds sekere liberale beginsels sal hê, maar wat ook sekere sosiale kwessies sal takel waarmee die DA nie gemaklik was nie.”

Sommige van die huidige swart leiers in die DA kan moontlik by so ’n party betrokke raak, asook diegene wat van die skip sal spring omdat hulle nie op die DA se kongres die mas opkom nie. “Ek dink die DA sal uiteindelik krimp en kan ook sy status as amptelike opposisie verloor. As dit skeur, sal die party wat daaruit wegbreek, die EFF of ’n ander formasie uiteindelik dalk daardie rol vervul,” meen Fikeni.

Prof. Erwin Schwella, politieke ontleder van Bellville verbonde aan die Tilburg-universiteit in Nederland en die Wellington-kollege, sê met Maimane en Trollip se bedankings het die party in ’n sekere sin sy verbindingskrag vir een groepering – die liberale deel – sterker gemaak, terwyl die groepering wat uit die Nuwe Nasionale Party gekom het, ook gemakliker is.

“Die gedeelte wat meer na die sosiaal-demokratiese kant neig, is besig om te gaan. Ons moet egter weet dat nie almal sal gaan nie. Daar sal ’n stewige groepering van swart ondersteuners agterbly. Daar is swart mense in Suid-Afrika wat liberaal en selfs konserwatief is, maar dit is ’n kleiner groepering. Daar sal ook ’n groep mense agterbly uit belange-oorweging – diegene wat voordele kry uit poste in die regering of poste in die party,” sê Schwella.

Hy verwag die DA gaan ná die verskuiwing konsolideer om ’n suiwerder ideologiese benadering. “Dit sal ’n kleiner, maar ’n suiwerder groepering wees. Hulle moet daarvandaan kyk hoe hul pad vorentoe sal uitspeel.”

Meer oor:  Da  |  Mmusi Maimane  |  Helen Zille  |  Athol Trollip
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.