Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
DA het plan vir SA se grense, sê Maimane

Mmusi Maimane, DA-leier, het sy beroep op die nasionale regering herhaal om Suid-Afrika se grense te versterk en te beveilig, en gevra dat die regering moet seker maak hy het ’n databasis van elke persoon wat in die land woon.

Mmusi Maimane. Foto: Argief

Maimane is Woensdag vergesel deur Solly Msimanga, DA-premierskandidaat vir Gauteng, en ander senior partylede, vir ’n besoek aan die Princess Clinic in Roodepoort, wes van Johannesburg.

Maimane het gesê hy was nog nooit skaam om die kwessie van grensbeskerming in die land op te haal nie.

“Ons het nie-burgers wat in die land woon. Daar is geen land in die wêreld waarvan die grense so poreus is soos ons s’n nie. Ons kan nie die plek van herkoms van nie-burgers hier identifiseer nie. Ons moet die grense beveilig,” het Maimane gesê.

“Suid-Afrikaners en immigrante moet behoorlik geregistreer wees. Binnelandse sake moet verseker dat hy sy werk doen en almal in die land dokumenteer.”

Maimane het gesê dat sy party nie xenofobiese geweld teenoor vreemdelinge duld nie en dat die DA aanvalle op buitelanders – wat wettig of onwettig in die land is – as ’n strafregtelike daad beskou.

Hy het gesê sy party het ’n plan voorgestel vir hoe om al die grense om Suid-Afrika te bestuur.

Maimane het die inwoners van Alexandra in Johannesburg verseker dat Herman Mashaba, burgemeester, hulle Maandag sal besoek om na hul griewe te luister.

Hy het ’n beroep gedoen op mense wat na bewering onbillik voordeel getrek het uit die multimiljardrand-Alexandra-hernuwingsprojek (AHP) om na vore te kom.

“Daar moet ’n deeglike ondersoek gedoen word na wat met die AHP gebeur het. Ons doen ’n beroep op die ANC om nie saamtrekke en protesaksies in Alexandra te hou nie. Die ANC het die afgelope twee jaar die mense van Alexandra in die steek gelaat.

“Alexandra is ’n langtermynprojek. Ons erf die ANC se gemors. Ek is in kennis gestel dat daar ook protesaksies in Tshwane en Soweto sal wees. Hulle teiken DA-munisipaliteite. Ons het ’n plan om Alexandra te vernuwe,” het hy gesê.

Alexandra is ’n langtermynprojek. Ons erf die ANC se gemors.
Mmusi Maimane

Msimanga het gepraat oor gesondheidsorg in die provinsie en het gesê daar is behoefte aan nog 12 hospitale in Gauteng. Daarbenewens is daar 2 000 verpleegkundiges in die provinsie wat opgelei is, maar nie opgeneem is in die gesondheidsorgstelsel nie.

Hy het gekla oor die sentralisering van ambulansdienste in Gauteng, en het belowe dat dit onder sy leierskap gedesentraliseer sal word.

“Ons moet die proses bespoedig om te verseker dat daar ’n funksionerende gesondheidsorgstelsel in Gauteng is. Ons hospitale moet hoofde hê wat aanspreeklik gehou kan word, en wat hul eie begrotings het om hulpbronne te bekom.”

Msimanga het gesê die DA het die polisie ingelig dat die onlangse protesaksie in Alexandra polities gemotiveerd was.

Meer oor:  Da  |  Mmusi Maimane  |  Solly Msimanga  |  Roodepoort
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.