Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
DA: Het US-rektor oudregter ‘verlei’?

Die proses wat gelei het tot die verkiesing van oudregter Edwin Cameron as kanselier van die Universiteit Stellenbosch (US) is verdag en verg verdere ondersoek, sê die DA-LP Leon Schreiber.

Oudregter Edwin Cameron, kanselier van die US. Foto: Elizabeth Sejakee

Schreiber se oproep volg nadat dit hierdie week aan die lig gekom het dat prof. Wim de Villiers, die Maties-rektor, vir Cameron gevra het om hom as kanselier verkiesbaar te stel op dieselfde tyd dat Cameron besig was om die konstitusionele hof se uitspraak oor die posisie van Afrikaans by die US te skryf.

Die drukgroep Gelyke Kanse het die hof gevra om die universiteit se taalbeleid, wat Engels die voertaal maak, as onkonstitusioneel te verwerp, maar het sy saak verloor.

Schreiber, die DA se kiesafdelingshoof vir Stellenbosch wat verlede week as lid van die US se institusionele forum bedank het, het onder meer die Regterlike Dienskommissie, die US en die US se ombudsman gevra om De Villiers en Cameron se optrede te ondersoek. “Dit is opsigself verregaande dat De Villiers vir Cameron in die eerste plek genader het om kanselier te word terwyl die US die respondent in ’n saak voor die konstitusionele hof was,” sê Schreiber. “Wat egter nog meer skokkend is, is dat De Villiers skynbaar aangehou het om Cameron te probeer verlei met die kanseliersamp selfs nadat die regter aanvanklik die aanbod van die hand gewys het en voordat hy dit later op De Villiers se aandrang aanvaar het.

“Wat egter nog meer skokkend is, is dat De Villiers skynbaar aangehou het om Cameron te probeer verlei met die kanseliersamp selfs nadat die regter aanvanklik die aanbod van die hand gewys het.”

“De Villiers se optrede skep die uiters kommerwekkende indruk dat die rektor van die US gepoog het om sy mag om die kanselier aan te wys misbruik het, in ’n poging om ’n regter van die konstitu­sionele hof op ’n onbehoorlike wyse te beïnvloed.”

In korrespondensie wat die afgelope week aan die lig gekom het, blyk dit dat Cameron, wat op 25 September as kanselier aangewys is, al op 2 Julie deur De Villiers gekontak is.

Op 2 Augustus skryf Cameron in ’n e-pos aan De Villiers dat dit vir hom “prakties nie denkbaar is” om die kanselierspos te oorweeg nie.

“Ek sit juis omring van die dokumentasie in die saak wat ons volgende week aanhoor, en, watter kant toe ook, sal my posisie in die beregting daarvan hopeloos gekompromitteer word sou ek die nominasie aanvaar,” skryf die oudregter.

Op 10 Augustus spreek De Villiers sy teleurstelling in ’n e-pos aan Cameron uit, maar voeg by dat hy Cameron se posisie verstaan.

Daarna het De Villiers ook Cameron se nominasie met adv. Jan Heunis, president van die US-konvokasie en die man wat vir Gelyke Kanse in die konstitusionele hof opgetree het, bespreek.

Op 29 Augustus skryf Heunis aan Cameron dat daar geen teenkanting sou wees as Cameron die nominasie as kanselier aanvaar nie (wat hy ook aan De Villiers kopieer).

Cameron skryf dan op 30 Augustus aan De Villiers dat, “in die lig van hierdie positiewe verwikkelinge”, hy nou wel beskikbaar is vir die nominasie.

Hy is eindelik op 25 September as kanselier deur die kieskollege, waarvan De Villiers voorsitter is, tot kanselier verkies.

Die ander vier kandidate was die adjunkvoorsitter van Agri SA, Christo van der Rheede, die joernalis Ruda Landman, die voormalige Nasa-ingenieur Japie van Zyl en voormalige adjunkminister van tegnologie Theo Alant.

De Villiers het by navraag gesê hy het beslis nie met die regsproses ingemeng nie. “Ek is tevrede dat ek in absolute goeie trou opgetree het, en dat die verkiesingsproses korrek verloop het. Trouens, regter Cameron se nominasie vir kanselier het voortgegaan met die instemming van Gelyke Kanse.”

Cameron het by navraag ook verwys na Heunis se brief van 29 Augustus waarin hy aangedui het daar geen beswaar teen Cameron se nominasie sou wees nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.