Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
DA hof toe oor speaker en oudspeaker se skorsing
Lebogang Maile, Gautengse LUR vir behuising, stedelike beplanning en samewerkende regering en tradisionele sake, praat Donderdag op ’n mediakonferensie in Midrand. Foto: Christiaan du Plessis

’n Politieke storm het Donderdag om Lebogang Maile, Gautengse LUR vir plaaslike regering en tradisionele sake, losgebars nadat hy besluit het om by die sake van die Tshwane- en die Johannesburgse metroraad in te meng.

Maile het Woensdag aangekondig hy skors die DA-lede Katlego Mathebe, die speaker van Tshwane, asook Vasco da Gama, voormalige speaker van Johannesburg, vir onderskeidelik ses en drie maande, sonder betaling.

Maile het ’n ruk gelede gedreig om Tshwane onder administrasie te plaas, asook Johannesburg toe dit nog onder beheer van die DA was. Hy het Donderdag ontken hy tree in die belang van die ANC op.

“Dis geen geheim dat ek vir die ANC werk nie. Daar is egter ook die wet wat van my vereis om korrek op te tree. Ons glo ons besluit voldoen aan wetlike beginsels en ons weet dat ons dit in die belang van die inwoners doen,” sê Maile.

Volgens hom spruit die skorsings daaruit dat die DA-speakers die etiese kode vir raadslede oortree het deur onder meer demokratiese prosesse te dwarsboom en in eiebelang op te tree.

Die DA en die VF Plus het in afsonderlike verklarings Maile daarvan beskuldig dat hy sy magte oorskry.

“Die LUR is besig om van plaaslike regering ’n partypolitieke speelbal te maak deur slegs in te gryp by munisipale rade waar die ANC nie die meerderheid steun geniet nie,” lui ’n verklaring van die VF Plus.

John Steenhuisen, DA-leier, het in ’n verklaring Maile se optrede as “onwettig” gebrandmerk en het aangedui sy party sal hom tot die hof wend in ’n poging om die skorsings ter syde te laat stel.

“Die DA sal nie ingee aan die boelietaktieke van LUR Maile nie . . . Ons het ook aan die LUR geskryf en hom genooi om sy onwettige besluit terug te trek,” sê Steenhuisen.

Mathebe se skorsing baan die weg vir die ANC en die EFF om beheer van die Tshwane-metro by die DA weg te neem. Die ANC hou reeds die leisels in Johannesburg nadat die DA se bewind daar verlede jaar tot ’n einde gekom het.

Raadslede van die EFF en die ANC op ’n spesiale raadsvergadering van die Tshwane-metroraad op 16 Januarie. Foto: Christiaan du Plessis

Dr. Kgosi Maepa, ANC-voorsitter in Tshwane, meen sy party sal binnekort van die DA ontslae raak omdat Mathebe nie meer die komende raadsvergadering op 30 Januarie sal mag bestuur nie.

Hoewel Mathebe haar amp as speaker behou, kan sy ingevolge die skorsing nie raadsvergaderings bywoon nie.

“Die stadsbestuurder sal die raadsvergadering bestuur waar ons ’n tussentydse speaker sal verkies. Ons sal dan wantrouemosies teen Mathebe, Stevens Mokgalapa (die uitvoerende burgemeester) en ander hooggeplaastes in die DA instel,” sê Maepa.

’n Spesiale raadsvergadering op 16 Januarie het ineengestort nadat Mathebe en raadslede van die ANC en die EFF nie kon saamstem oor die volgorde van die agenda nie.

Sakkie du Plooy, van die VF Plus, burgemeesterskomiteelid vir gemeenskap- en sosiale ontwikkelingsdienste, beskryf die onlangse verwikkelinge in die metro as ’n “sinlose politieke oorlog”.

Die ANC en die EFF is die sondaars wat die raadsvergaderings in chaos laat verval.

“Die ANC en die EFF is die sondaars wat die raadsvergaderings in chaos laat verval. Hulle mors ons tyd. Ja, dienslewering is nie 100% nie, maar dis beter in vergelyking met ander munisipaliteite. Daar is straatligte wat nie werk nie, maar ons werk baie hard en ons het nog baie om te doen,” sê Du Plooy.

Mike Moriarty, voorsitter van die DA in Gauteng, sê dienslewering word nie tans deur die chaotiese raadsvergaderings geraak nie omdat die munisipaliteit apart van die politieke sy funksioneer.

Intussen sê Christo van den Heever, hoofsweep van die DA in die Tshwane-metroraad, Maile het geen mandaat om in te meng by die sake van die komitee vir hoofswepe in die metro nie.

Maile sê hy gaan Maandag met die hoofswepe van alle partye vergader om oor die pad vorentoe te praat.

“Die LUR is besig om die reëls van die Grondwet te oortree omdat dit aan munisipaliteite die reg gee om self oor gemeenskappe te regeer terwyl die mag van die provinsiale regering beperk word,” sê Van den Heever.

Volgens hom is daar geen deeglike ondersoek na die optrede van Mathebe gedoen nie.

Politieke ontleders bevraagteken Maile se ontkenning dat die skorsings nie met politiek verband hou nie. Tog meen hulle uit ’n politieke oogpunt sal dit beter vir die DA wees om sy beheer af te staan.

“Die DA moet wegloop, die gemors vir die ANC los en op die volgende plaaslike munisipale verkiesing fokus. Hoewel die ANC en die EFF dit as ’n helse geleentheid beskou om te regeer, sal die DA beter daaraan toe wees in die opposisiebanke,” sê Theo Venter, politieke ontleder van die Noordwes-Universiteit se Sakeskool.

Ralph Mathekga, ’n onafhanklike politieke ontleder, sê die feit dat die DA beheer oor Nelson Mandelabaai en Johannesburg verloor het, en nou sukkel om beheer oor Tshwane te behou, is ’n groot terugslag vir die party.

“In 2016 het hulle beheer van die metro’s geneem en dit as ’n vastrapplek vir verdere groei in die provinsie beskou. Tog kon die party nie dit regkry om sy politieke mag te konsolideer nie. Dit is nou die eerste grootskaalse projek waarin die DA klaaglik misluk het,” sê Mathekga.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.