Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
DA hoop OB se ‘skandalige termyn’ is gou verby

Die DA hoop dat die “skandalige” driejaar-termyn van adv. Busisiwe Mkhwebane as openbare beskermer (OB) binnekort tot ’n einde sal kom.

Só het Natasha Mazzone, die DA-hoofsweep, gesê toe sy namens haar party Thandi Modise, speaker van die nasionale vergadering (NV), se aankondiging Vrydag verwelkom het dat Modise die DA se mosie teen Mkhwebane goedgekeur het.

Die DA versoek in dié mosie, wat hy in Desember verlede jaar ingedien het, dat die parlement verrigtinge moet begin om Mkhwebane uit haar pos te verwyder.

’n Reeks verdoemende hofuitsprake teen haar is van die redes waarom die DA vroeër ook gevra het dat sy as OB verwyder moet word.

Oupa Segalwe, Mkhwebane se woordvoerder, het in reaksie daarop Vrydag gesê dat sy nog nie formeel van Modise se besluit in kennis gestel is nie. “Sy het deur nuusberigte daarvan bewus geword. Sy sal binnekort kommentaar daaroor lewer”.

Modise het in ’n verklaring Vrydag gesê dat die NV op 3 Desember verlede jaar nuwe reëls oor die verwydering van ampsdraers van hoofstuk 9-instellings, soos die OB-kantoor, aanvaar het.

Adv. Busisiwe MkhwebaneFoto: CONRAD BORNMAN

Volgens haar is die DA se “konsep- substantiewe mosie” kragtens dié nuwe reëls oorweeg.

Ingevolge dié reëls mag enige LP deur ’n substantiewe mosie ’n art. 194-ondersoek inisieer. As die speaker tevrede is dat dit aan alle vereistes voldoen, moet die speaker so ’n mosie met enige ondersteunende dokumente na ’n onafhanklike paneel verwys wat moet bepaal of daar gronde vir so ondersoek is.

Die speaker moet ook die NV en die president dadelik oor so ’n verwysing inlig.

“Noudat die mosie goedgekeur is, het die speaker aan politieke partye geskryf om benoemings voor te stel om op die paneel te dien . . . Die reëls bepaal dat die paneel gesamentlik oor die nodige regs- en ander bevoegdhede en ervaring moet beskik om die assessering te doen. ’n Regter mag op die paneel aangestel word, maar die speaker moet so ’n aanstelling in oorleg met die hoofregter maak,” het Modise gesê.

Volgens haar het partye nou tot 7 Februarie om hul benoemings in te dien. Die paneel sal hierna aangestel word.

Modise het bygevoeg dat die paneel binne 30 dae ná sy aanstelling ’n voorlopige assessering doen oor die mosie wat die art. 194-ondersoek, en aanbevelings daaroor aan die speaker maak.

Mazzone het Vrydag gesê die DA sê al lank Mkhwebane is nie ’n geskikte en gepaste persoon om die amp as OB te beklee nie en dat sy daaruit verwyder moet word.

Die DA het Mkhwebane se aanstelling van die begin af teengestaan en haar drie-jaar-termyn tot op datum het bewys dat ons reg was . . .

Volgens haar het die speaker reeds aan politieke partye geskryf en is die DA bemoedig dat die proses met die gepaste dringendheid sal voortgaan.

“Die DA het Mkhwebane se aanstelling van die begin af teengestaan en haar drie-jaar-termyn tot op datum het bewys dat ons reg was . . .

“Ons hoop dat die skandelike hoofstuk wat Mkhwebane se bewind aan die stuur van ’n eens trotse hoofstuk 9-instellings was, binnekort tot ’n einde sal kom en dat ons weer met die werk kan begin om ’n sterk en bekwame OB-kantoor te bou wat die oppergesag van die reg kan handhaaf en Suid-Afrikaners teen staatsmisbruik kan beskerm,” het Mazzone gesê.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.