Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
DA in Mangaung kla by OB oor aanstelling van ombudsman

Die DA het Donderdag ’n klag by die openbare beskermer (OB) teen die Mangaung-metro se stadsbestuurder, adv. Tankiso Mea, ingedien omdat hy versuim om ’n ombudsman vir die munisipaliteit aan te stel, terwyl die raad lank gelede reeds so ’n besluit geneem het.

Dirk Kotzé, DA-raadslid, sê die DA het ’n klag by die OB se kantoor ingedien omdat Mea versuim het om uit te voer wat die raad besluit het, en oor wanadministrasie by die metro.

“Die raad het reeds op ’n vergadering op 18 Mei 2018 besluit dat ’n ombudsman vir die raad aangestel moet word. Artikel 156 van die Grondwet bepaal duidelik dat ’n munisipaliteit regulasies moet administreer vir die effektiewe administrasie binne die jurisdiksie-gebied van die munisipaliteit,” sê Kotzé.

Hy sê die totstandbringing van ’n onafhanklike ombudsman sal die metro help om sy wetlike mandaat te vervul om verantwoordbare, demokratiese en deursigtige regering vir die inwoners van Mangaung daar te stel.

“Die ombudsman sal die bevoegdheid hê om klagte te ondersoek wat die kliëntediensdepartement ondersoek, spesifiek dié wat nie binne 60 dae opgelos word nie. Dit is sake wat handel oor swak dienslewering en onbehoorlike of onbillike optrede. Die ombudsman sal dan aanbevelings kan doen.”

Die stadsbestuurder en finansiële hoof het die taak gekry om besparings op die huidige begroting van Mangaung te bewerkstellig sodat ’n ombudsman aangestel kan word. Die finansiële hoof het ook die taak gehad om ’n bedryfsbegroting vir die ombudsman op te stel binne die kantoor van die speaker, Mxolisi Siyonzana, of binne die kantoor van Olly Mlamleli, die burgemeester.

“Na meer as ’n jaar ná die goedkeuring het die raad geen verslag van die stadsbestuurder gekry oor die aanstelling van ’n ombudsman nie.”

Na meer as ’n jaar ná die goedkeuring het die raad geen verslag van die stadsbestuurder gekry oor die aanstelling van ’n ombudsman nie.

Kotzé sê ’n begroting van R267 miljoen is aan die kantoor van die burgemeester toegeken. Altesaam 120 politieke aanstellings se salarisse word uit dié begroting betaal en die seun van die voormalige premier, Ace Magashule, is een van hulle.

Hy sê volgens die onlangse OG-verslag is dienslewering in die metro besig om te faal. “Inwoners van die metro kla daagliks oor dienste wat nie gelewer word nie.”

Kotzé sê die DA sal die stadsbestuurder verantwoordelik hou vir die besluite wat die raad geneem het.

Mea is vir kommentaar genader, maar het nie sy foon beantwoord nie.

Siyonzana sê hy het die punt om ’n ombudsman aan te stel verlede jaar na die raad gebring. “Maar dit is ’n senior aanstelling met ondersteunende personeel, meubels, kantore en toerusting soos telefone en so meer om seker te maak dat die kantoor van die ombudsman behoorlik funksioneer.

Die metro sukkel tans met sy finansies. Die aanstelling van ’n ombudsman is steeds in die pyplyn, maar die geld daarvoor moet eers verkry word.”

Siyonzana sê ’n kantoor vir die ombudsman kan tussen R15 miljoen en R20 miljoen per jaar kos.

Meer oor:  Dirk Kotzé  |  Manganung-Metro  |  Tankiso Mea
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.