Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
DA in Oos-Kaap bekommerd oor ras en stem
Kiesers staan Woensdag in ’n tou in Motherwell, Port Elizabeth, om te stem. Foto: Lulama Zenzile

Die DA in die Oos-Kaap is bekommerd oor kiesers wat hul stem op ras baseer, sê Nqaba Bhanga, DA-leier in die Oos-Kaap.

Hy sê die kommer spruit uit die toename in steun vir partye soos die EFF en VF Plus.

“Ons kan nie partye wat radikaal optree in beheer hê nie. Partye wat uiteindelik net vir een ras praat, soos die EFF en VF Plus, is ’n resep vir ’n ramp. Suid-Afrika sal deur ras verdeel word. Ons moet saamkom, mense van alle rasse, om saam te werk en Suid-Afrika te bou,” het Bhanga Sondag gesê ná die verkiesingsuitslae vroeër die naweek aangekondig is.

Ná die afgelope week se algemene verkiesing is die DA se setels in die provinsiale wetgewer onveranderd op tien, maar die EFF het van twee na vyf setels gegroei, terwyl die VF Plus hul ook nou by die wetgewer sal aansluit met een setel.

Die Oos-Kaapse wetgewer se politieke prentjie lyk soos volg:

ANC: 44 setels

DA: 10 setels

EFF: 5 setels

UDM: 2 setels

VF Plus: 1 setel

ATM: 1 setel

Yazini Tetyana, voorsitter van die EFF in die Oos-Kaap, het in reaksie op Bhanga se stelling gesê die EFF is ’n organisasie wat op nierassigheid en gelykheid gegrond is.

“Gegrond op die historiese ongeregtighede wat swart mense in Suid-Afrika ervaar het, gee ons nie toe om ’n party te wees wat nie swart mense bevoordeel nie.”

Hy sê die DA se aantygings ontbreek die nodige gebalanseerde analisering. Volgens hom het die EFF se steun in die Oos-Kaap verdubbel danksy hul verteenwoordigers wat onverpoosd op voetsoolvlak gewerk het en weens mense se vertroue in hul manifes.

“Ons het gegroei as ’n organisasie wat alle Suid-Afrikaners verteenwoordig.

“Die realiteit sink nou in dat hulle (die DA) binnekort nommer drie, vier of vyf in Suid-Afrika sal wees, daarom probeer hulle redes soek om hul afname in steun in die verkiesing te regverdig.”

Piet Mey, VF Plus-leier in die Oos-Kaap, sê hul party het baie swart ondersteuners en hulle glo die party sal binnekort ook meer stemme van bruin mense kan wen.

Hy sê hul ondersteuners verstaan waarvoor die party staan en glo dit was een van die hoofredes hoekom hulle ’n toename in steun gesien het.

“Die dae van ’n middelpad is verby. Mense wil stem vir ’n party wat staan vir iets.”

Dié party se siening oor ekonomiese transformasie, taal en grond het volgens Mey kiesers na die party gelok.

Hy erken dit was ’n verrassing om ’n setel in die Oos-Kaapse wetgewer te kry, maar voeg by hulle sal dié setel van dag een af gebruik om korrupsie te bestry en om druk toe te pas dat geld wat aan munisipaliteite gegee word, bestee word en wél op die regte items bestee word.

Mey sê weens hul beperkte finansiële vryheid het hulle slegs enkele takke gehad, maar beoog die party om hul momentum te behou deur uit te brei, ter voorbereiding vir die volgende munisipale verkiesing.

Die dae van ’n middelpad is verby. Mense wil stem vir ’n party wat staan vir iets.
VF Plus

Bhanga sê die DA het ook reeds ’n plan waaraan hulle werk om hul steun vir die volgende munisipale én algemene verkiesing te verhoog.

“Die volgende vyf jaar is baie belangrik om Suid-Afrika te help bou.

“Dit is baie duidelik die ANC is besig om steun te verloor. Kiesers wat vanjaar nie vir die DA gestem het nie, het uitgemis op ’n geleentheid om die ANC uit te stem.

“As ons gewone en nuwe kiesers vir ons gestem het, sou ons die ANC, wat maar 57% nasionaal behaal het, dalk onder die 50% gekry het.

“Maar daar sal met die volgende verkiesing nog ’n geleentheid wees om die ANC te onttroon,” sê Bhanga.

Die ANC in die Oos-Kaap het effens steun verloor en het een setel in die provinsiale wetgewer verloor teenoor die 2014-algemene verkiesing.

Lulama Ngcukaitobi, die ANC se provinsiale sekretaris, kon nie Sondag vir kommentaar bereik word nie.

Gift Ngqondi, provinsiale woordvoerder, het gesê die ANC sal die oggend ’n verklaring uitreik, maar teen Sondagmiddag was die verklaring nog nie beskikbaar nie.

Meer oor:  Nqaba Bhanga  |  Oos-Kaap  |  Stem  |  Ras  |  Da
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.