Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
DA is nié ‘klub vir wit mans’ wat De Lille uitstoot

Patricia de Lille sal Dinsdagmiddag weet of sy weer burgemeester van Kaapstad sal wees. Volg ons regstreekse dekking hier.


Grant Twigg, voorsitter van die DA in die Kaapse metro (in die middel) saam met DA-koukuslede van die Kaapse metro wat Maandag op ’n mediakonferensie hul saak oor Patricia de Lille gestel het.Foto: Jaco Marais

DA-koukuslede in die Kaapse metro wat vertroue in Patricia De Lille verloor het, sê hulle is nié ’n “wit kabaal” of “witmansklub” nie.

’n Groep van 30 DA-raadslede het Maandagmiddag byeengekom en ’n mediakonferensie gehou waar van die lede oor hul ervarings met Patricia de Lille gepraat het.

Grant Twigg, voorsitter van die DA in die Kaapse-metro, het gesê die rede waarom die raadslede met die media wou gesels, is om te wys dit is nié ’n “wit kabaal of witmansklub” wat teen De Lille opstaan nie.

Twigg het gesê Mmusi Maimane, leier van die DA, was bewus daarvan dat die groep raadslede ’n mediakonferensie hou.

Dít is wat die lede sê:

Twigg:

“In die laaste verkiesing het die DA 66,6% van die stemme in die Kaapse metro gewen – dit is nie ’n individu wat dit vermag het nie.

“By meer as een geleentheid is daar een persoon wat die oorwinning vir haarself geëien het. Die uitslag is deur die werk van al die DA-raadslede vermag.”

Angus McKenzie, raadslid vir Bonteheuwel:

“Ek was die een wat die mosie van wantroue teen De Lille aangevra het wat deur 70% van die DA-koukus ondersteun is.

“Die redes is: Dat De Lille die stabiliseringseenheid en die ondersoekeenheid binne die direktoraat van veiligheid en sekuriteit ontbind het. Hierna het die bendegeweld in die gemeenskappe vererger.”

Franchesca Walker, raadslid vir Elsiesrivier:

“Wanneer ’n mens van buite af na die koukus kyk, lyk dit baie goed, maar binne word jy verkleineer.

“As ’n nuwe raadslid wil ek ’n burgemeester hê wat my onder haar vlerk neem.

“Ek is regtig gatvol vir die burgemeester. Ek is nie deel van ’n ‘wit kabaal’ nie. Ek is ’n trotse bruin vrou.”

Rob Quintas, raadslid vir Houtbaai:

“Sekere inligting is van ’n bepaalde groep inwoners van Houtbaai weerhou. Toe ek daaroor gevra het, is gesê dit was om hulle te keer om nie ‘histeries’ te word nie.

“Amptenare, selfs dié met doktorsgrade, is as ‘dom, nutteloos, lui en leuenaars’ uitgekryt.

“Om te boelie en viktimiseer is nié die eienskappe van ’n leier nie.”

Siseko Mbandezi, proporsionele DA-raadslid:

“Op 26 Julie 2017 het ek die burgemeester persoonlik van die probleme in die departement van vervoer en stedelike ontwikkeling vertel.

“Ek het gedink omdat De Lille die vegter teen korrupsie in die wapenskandaal was, is sy dié bakleier teen korrupsie. Sy het nie opgetree nie.

“My vertroue in haar is gebreek. Sy is nie verantwoordbaar nie en het daarin misluk.”

Zimkhitha Sulelo, proporsionele DA-raadslid:

“Daar is ’n ander kant aan die ‘mense se burgemeester’. Mense moet hulself afvra of sy mense of besighede eerste stel.”

Brandon Golding, DA-raadslid vir die Tuine en omliggende buurte:

“Baie van die komitees in die Kaapse metro het geen tande nie. Mag is gesentraliseer na die burgemeester toe. Komitees het die laaste tyd nie verordeninge geformuleer en beleid gevorm nie.

“Ons is eenkant toe geskuif en letterlik as stemgepeupel gebruik.

“Subrade is met die verandering in gedelegeerde mag niks anders as wind nie. Ons raadslede het geen invloed op besluite oor beplanning nie.”

Grant Twigg (middel voor), voorsitter van die DA in die Kaapse metro, praat met JP Smith wat agter staan. Foto: Jaco Marais

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.