Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
‘DA kan al in 2019 regering oorneem’
Op die DA se Kersgeselligheid by die Siesta-aftreeoord in Bloemfontein wat in wyk 20 van prof. Fief van der Merwe val. Van links is Mercia van der Walt (87), prof. Fief van der Merwe, DA-wyksraadslid vir wyk 20 in Bloemfontein, Corrie Barnard (81), dr. Annelie Lotriet, voorsitter van die DA in die Vrystaat, Pat Cloete (65) en Pieter Lotriet, DA-wyksraadslid vir wyk 21 in Bloemfontein. Foto: Marietjie Gericke

Die DA kan reeds in 2019 die regering van Suid-Afrika word en nie eers in 2024 soos wat die party aanvanklik gedink het nie, het Annelie Lotriet, DA-voorsitter in die Vrystaat, Maandag by die Siesta-aftreeoord in Bloemfontein gesê.

Sy was die geleentheidspreker op ’n Kersgeselligheid in wyk 20 van prof. Fief van der Merwe in Bloemfontein. Dié geselligheid is vir bejaardes gehou.

Die ANC’s se onderrokke hang nou behoorlik uit.
Annelie Lotriet

Lotriet het gesê al hoe meer swart kiesers skaar hulle by die DA omdat hulle besef daar kan nie met die swak ANC-regering voortgegaan word wat daarvoor verantwoordelik kan wees dat Suid-Afrika se kredietgradering tot rommelstatus verlaag word nie.

Aan die politieke front was die afgelope jaar interessant, het sy gesê. “Die opposisie het al hoe sterker in die parlement begin vertoon en Mmusi Maimane, DA-leier, se mosie van wantroue in pres. Jacob Zuma het baie druk op die ANC geplaas, alhoewel almal geweet het dat die mosie nie kon slaag nie.”

Jackson Mthembu, ANC-hoofsweep, het hom ook teen Zuma uitgespreek, maar wanneer gestem word, stem die ANC almal saam en het ANC-lede nie die moed van hul oortuiging om vir die mosie van wantroue in Zuma te stem nie. Tog help so ’n mosie om die geloofwaardigheid van die ANC te verswak. “Die ANC’s se onderrokke hang nou behoorlik uit.”

Daar is altyd ’n paar radikale lawaaimakers, maar ons moenie toelaat dat dit ons ontspoor nie.
Annelie Lotriet

Sy het gesê al die gebeure in die parlement het gehelp om die grond voor te berei vir verandering. Die DA het met die onlangse munisipale verkiesing sy visier op Nelson Mandelabaai gehad en het nooit kon dink dat hy ook in koalisie in Tshwane en Johannesburg sal kan regeer en ook ’n munisipaliteit in Limpopo en Metsimaholo in die Vrystaat kan wen nie.

Sy het hoop vir die toekoms.

“Dinge is op grondvlak aan die gebeur en hoe meer paniek vir die ANC gesaai word, des te beter.

“Suid-Afrikaners moet hulle ook nie op hol laat jaag deur die onaanvaarbare uitsprake wat Julius Malema, leier van die EFF, kwytraak nie. Die DA het hom reeds by die Menseregtekommissie (MRK) verkla, want dit wat hy sê, is haatspraak en veroorsaak rasseverwydering.

“Malema moet in die bek geruk word. Maar dit wat hy sê, moet ons nie beïnvloed nie. Sowat 99% van die land se inwoners is vredeliewende mense wat in ’n veilige plek wil woon en werk. Daar is altyd ’n paar radikale lawaaimakers, maar ons moenie toelaat dat dit ons ontspoor nie. Ons moet eerder handevat en ons saam beywer vir ’n gemeenskap en ’n volk wat stabiliteit en hoop vir ons en ons nageslag verseker.”

Meer oor:  Da  |  Fief Van Der Merwe  |  Bloemfontein  |  Politiek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.