Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
DA kan nalatenskap van apartheid só help regstel
Die nuutverkose tydelike DA-leier, John Steenhuisen (naaslinks), die tussentydse nasionale voorsitter, Ivan Meyer (naasregs), saam met Helen Zille (links), voorsitter van die party se federale raad, en die DA-woordvoerder Solly Malatsi. Foto: Bonolo Selebano

Die DA onder die leierskap van John Steenhuisen glo dat die nalatenskap van apartheid deur doelgerigte regstelling reggestel moet word.

“Maar ons hoef ons nie na growwe rasse-klassifikasie te wend om dít te doen nie,” het Steenhuisen Sondagmiddag tydens ’n nuuskonferensie gesê.

Dit was kort nadat hy tydens ’n spesiale sitting van die party se federale raad van 160 lede by hul Bruma-hoofkantoor in Johannesburg tot die nuwe tussentydse DA-federale leier verkies is.

Dr. Ivan Meyer is hiertydens as tussentydse nasionale voorsitter verkies. Steenhuisen en Meyer sal die poste beklee totdat die DA aanstaande jaar ’n kongres hou en permanente leiers verkies word.

Hul verkiesing volg ná Mmusi Maimane en Athol Trollip se skokbedankings verlede maand kort nadat Helen Zille as die nuwe voorsitter van die party se federale raad verkies is.

Dr. Ntsikelelo Breakfast, ’n politieke ontleder aan die Universiteit Stellenbosch, meen Steenhuisen en Meyer se verkiesing is ’n beduidende teken dat die DA “finaal van ras as ’n bepalende faktor in DA-beleid afgesien het”. Hy beskou dit ook as ’n totale verwerping van die rasgedrewe ideologiese rigting waarin Maimane die party wou lei.

Meyer het tydens die perskonferensie gesê die DA is oppad om sy identiteit duideliker te maak in terme van sy liberale waardes, terwyl dit ook weer met kiesers in verbinding wil tree omdat dit is waaroor die politiek gaan.

“Ons moet absolute duidelikheid gee oor wat die beleid van die party is. Niks meer twyfel nie, ’n duidelik visie, verstaanbare duidelikheid,” het Meyer gesê.

Dit is in reaksie op beskuldigings dat die DA onder Maimane nie uit een mond oor veral regstellende of grondhervormingsbeleid gepraat het nie.

Steenhuisen het dit egter duidelik gemaak dat sy party se regstellingsbeleid voortaan direk die armstes, waarvan meeste swart is, sal teiken.

“Die feit is dat 25 jaar van rasgebaseerde regstellingsbeleid dinge veel erger vir armes en werkloses gemaak het. Regstelling moet arm Suid-Afrikaners se lot verbeter, nie die elite verryk nie.”

Steenhuisen meen dit is onwaar dat net rasgebaseerde beleid mense uit armoede kan lig.

“Ons sal ’n party wees wat gekenmerk word deur vrygewigheid, empatie en diepe toewyding om armoede te beveg. En ons sal ’n party wees wat elke persoon sien vir hul ware waarde en onbeperkte potensiaal, nie net as ’n demografiese statistiek nie.”

Hy het gesê as liberalisme oor individuele vryhede gaan, is die DA se hoogste prioriteit om te baklei vir die substantiewe vryheid van alle Suid-Afrikaners – “omdat jy nie ’n waardeerbare lewe kan lei as jy honger is, swak opgevoed, in ongesonde toestande woon en vir jou veiligheid vrees nie”.

“Daarom moet die stryd teen armoede die kern vorm van alles wat ons doen.

“Die DA wat ek lei, sal nie hieroor aarsel nie. Ons sal dié doelwit om armoede te bestry nastreef waar ons ook al is; as opposisie en in regering,” het Steenhuisen gesê.

Breakfast het voorts gesê ras in Suid-Afrika kan egter nie geïgnoreer word nie en dat die DA sal sukkel om meer swart steun te kry wat nodig is as hulle steeds die ANC as regering wil onttroon.

Breakfast meen die DA en ander opposisiepartye se interne probleme fragmenteer hulle ook verder. “Die gevolg is dat dit die ANC versterk.”

Prof. Erwin Schwella, ’n politieke ontleder by die Hugenote-kollege en Universiteit van Tilburg in Nederland, meen die DA moet op die kort termyn terugbeweeg na sy boodskap van goeie regering en dit konsolideer.

Op lang termyn moet hul boodskap volgens hom wees om ’n nie-rassige Suid-Afrika na te streef waar mense op verdienste en nie op grond van velkleur verkies word nie. Terselfdertyd moet die DA ook met deurdagtheid, deernis en omgee wys dat hy nie Suid-Afrika se verlede vergeet nie, sê Schwella.

Meer oor:  John Steenhuisen  |  Da  |  Tydelike Leier
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.