Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
DA kap ANC oor Potch se nuwe administrateur

Die DA het sy bedenkinge oor die aanstelling van ’n “twyfelagtige” administrateur vier maande nadat die JB Marks-munisipaliteit in die Potchefstroom-omgewing onder administrasie geplaas is.

Chris Hattingh, voormalige parlementslid en eertydse DA-leier in Noordwes, meen die feit dat ’n administrateur nou eers aangestel word, daarop dui dat die ANC se administrasieplasing “polities gemotiveerd” was en die regerende party nie haastig is om die “ernstige uitdagings” in die munisipaliteit te pak nie.

Chris Hattingh
Chris Hattingh Foto: Susan Cilliers

Hattingh staan as wyksraadslid vir die DA in ’n tussenverkiesing wat later vandeesmaand in wyk 2 in Potchefstroom plaasvind. Hy het in Mei vanjaar, ná 20 jaar in die politiek, die laaste keer sy kruisie as dienende parlementslid getrek.

Hattingh sê Modisenyane Segapo, JB Marks se pas aangewese administrateur, het misluk as munisipale bestuurder vroeër in die Naledi-munisipaliteit wat die Vryburg-omgewing bedien. “Daar was in sy tyd wanbestuur by dié munisipaliteit en dis onder administrasie geplaas. Toe hy daar weg is, het die munisipaliteit

R107 miljoen se onregmatige besteding en R32 miljoen se verkwiste besteding gehad.”

Dineo Thapelo, woordvoerder van Noordwes se departement vir plaaslike regering, het vroeër gesê dis ’n “tydrowende proses” om administrateurs aan te wys omdat hulle dikwels mense van buite is wat ook ander werk doen.

Sy het in reaksie op die besware teen Segapo ontken dat hy ’n geskiedenis van swak prestasie by Naledi het.

“Die munisipaliteit het in sy tyd as munisipale bestuurder vanaf 2012 tot 2016 ’n ongekwalifiseerde ouditmening gekry.

“Die munisipaliteit het vir vyf agtereenvolgende jaar 100% van sy munisipale infrastruktuur-toelaag bestee, prestasiebonusse van R50 miljoen gekry, en sy vullisterrein is as die beste in die land bestempel.”

Volgens Thapelo het Naledi se gemiddelde inkomste per maand in Segapo se tyd van R4 miljoen tot R16 miljoen gestyg.

Die JB Marks-munisipaliteit is in Mei onder administrasie geplaas. ANC- en EFF-raadslede in die munisipaliteit het aanvanklik só daarteen geskop dat ’n spesiale vergadering met onder andere dr. Job Mokgoro, Noordwes se premier, gereël is.

Die ANC en EFF het gemeen alles verloop klopdisselboom by JB Marks. Op die vergadering met die provinsiale regering is daar egter besluit dat die munisipaliteit wel onder administrasie geplaas sal word ingevolge artikel 139 (b) (1) van die Grondwet omdat daar steeds talle uitdagings is. Die DA en VF Plus verwelkom die administrasieproses weens beweerde korrupsie en ’n afwaartse spiraal van diensleweringsprobleme op verskeie vlakke.

“Ons daag die ANC-beheerde provinsiale regering nou uit om JB Marks se opgehoopte onregmatige, onreëlmatige en verkwiste uitgawes van R1 miljard te pak deur ’n behoorlik gekwalifiseerde, ervare administrateur met ’n bewese geskiedenis aan te stel,” sê Hattingh van die DA.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.