Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
DA kap Lesufi oor sy kritiek op Afrikaanse kollege

Die DA het Panyaza Lesufi Maandag gekap oor sy kritiek op ’n nuwe Afrikaanse opleidingskollege wat na verwagting volgende jaar sy deure open.

Panyaza Lesufi

Rifiloe Nt’sekhe, nasionale woordvoerder van die DA, het Lesufi aangevat oor ’n twiet waarin hy sê die Afrikaanstalige kollege herinner hom aan apartheid.

“Die publiek raak keelvol vir Lesufi se rassisme. Moedertaalonderrig gaan nie oor kleur of kultuur nie, dit gaan oor gehalte-onderwys. Om dít te bevorder is nie gelyk aan ’n rasgedrewe onderwysstelsel nie,” het Nt’sekhe gesê.

Lesufi het Sondag gereageer op ’n Twitter-gebruiker, Reinhard777, wat ’n video geplaas het van ’n groep mans wat besig is om met grawe te merk waar konstruksie gaan plaasvind.

“Ek haat rassisme wanneer ek dit sien! ’n Rasgegronde instelling in ’n nie-rassige samelewing sal nie slaag nie. Moet ons asseblief nie aan apartheid herinner nie,” het Lesufi getwiet.

Solidariteit het in Junie die NetWerk-projek, wat ’n geïntegreerde plan is om skoolopleiding, beroepsvoorbereiding en -leiding in Afrikaans te ondersteun ten bedrae van R4,5 miljard, aangekondig. Die bou van ’n beroepsopleidingskollege is deel van die plan.

Nt’sekhe het Lesufi herinner aan sy nederlaag in die konstitusionele hof in 2018 toe hy probeer het om die Hoërskool Overvaal, ’n Afrikaans-medium-skool, te dwing om 55 Engelstalige leerlinge in te neem.

“Die LUR het sy vingers al vantevore verbrand,” het sy onder meer gesê.

Ek is besorg. Dit is baie gevaarlik, ons probeer ’n nierassige samelewing bou.

Netwerk24 het Lesufi genader om kommentaar en hy het gesê hy “het nie tyd vir die DA nie”.

“Ek is besorg. Dit is baie gevaarlik, ons probeer ’n nierassige samelewing bou. Hulle wil ons terugvat, want hulle is nie tevrede met universiteite wat hul taalbeleid verander nie,” het Lesufi gesê.

Dirk Hermann, uitvoerende hoof van Solidariteit, het Lesufi as ’n onverantwoordelike leier beskryf en die bestaansreg van só ’n kollege verdedig.

“Sol-Tech (die naam van die kollege) diskrimineer nie teen enigeen op grond van ras nie. Afrikaans is ’n inklusiewe taal. Dit is ’n private kollege wat deur gewone werkers gebou word; dit sê veel meer oor sy (Lesufi) rasagenda as oor gewone werkers wat besluit het om ’n verskil in hul kinders se lewe te maak,” het Hermann gesê.

Meer oor:  Da  |  Panyaza Lesufi
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.