Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
DA kap NW-premier oor ‘onverklaarde” sakebelange

Die DA in Noordwes beskuldig dr. Job Mokgoro, premier, dat hy onder eed gejok het toe hy glo onlangs nie sekere sakebelange in die provinsiale wetgewer verklaar het nie.

Mokgoro het dit Vrydag ontken by monde van Vuyisele Ngesi, sy woordvoerder, en sê hy “verwerp die DA se aantygings met die minagting wat dit verdien”.

Mokgoro ontken nie dat hy ’n direkteur van JFKS Consulting was nie, maar sê dit was voordat hy (in Junie 2018) Noordwes se premier geword het.

Dr. Job Mokgoro, Noordwes se premier.Foto: Susan Cilliers

Volgens Ngesi het die maatskappy laas in 2015 sake gedoen. “Die maatskappy het ook nooit sake met die Noordwes-regering gedoen nie, wel met (onder meer) munisipaliteite in die Wes-Kaap en die Vrystaat, asook die Nigeriese regering.”

Ngesi sê Mokgoro het die afgelope vier jaar “nie ’n sent” van JFKS Consulting ontvang nie. “Die premier se enigste inkomste is die salaris wat hy vir sy amp kry. Hy daag die DA uit om bewyse te verskaf van enige betaling (van JFKS) wat hy ontvang het en waarvoor en hoeveel dit was.”

Freddy Sonakile, die DA se hoofsweep in Noordwes, sê in ’n mediaverklaring die party vra nou die openbare beskermer (OB), asook die speaker en integriteitskommissaris van die Noordwes-wetgewer om Mokgoro se betrokkenheid by JFKS én die soort sake wat die maatskappy doen, te ondersoek.

Volgens Sonakile het Mokgoro slegs sy betrokkenheid by twee ander maatskappye verklaar wat in die proses is om gederegistreer te word.

“Mokgoro het egter nié sy belange in JFKS Consulting verklaar nie. Die maatskappy bestaan al sedert 2011. Die premier word steeds as ’n aktiewe direkteur van die maatskappy gelys. Ons wil weet watter transaksies daar tussen die maatskappy en enige regeringsdepartemente is.”

Sonakile sê wetgewing vereis van die premier om al sy geldelike belange te verklaar wanneer hy die amp betree, asook enige belange wat hy ná die aanvaarding van sy amp bekom. Die provinsiale wetgewer in Noordwes se etiese kode vereis ook dat lede van die wetgewer hul belange verklaar.

“Mokgoro het nie hierdie reëls en etiese vereistes nagekom nie,” sê Sonakile.

Volgens hom het Mokgoro ook nie in 2016, toe hy ’n lid van die provinsiale parkeraad was, sy betrokkenheid by JFKS verklaar nie. “Dit skep ernstige vrae. Wat steek die premier weg oor hierdie spesifieke maatskappy?”

Meer oor:  Noordwes  |  Politiek  |  Premier  |  Da
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.