Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
DA-komitee gaan kyk of Maimane oortree het

Die DA se federale finansies-komitee gaan kyk of sy leier, Mmusi Maimane, enige reëls verbreek het ten opsigte van die gebruik van ’n motor wat ’n geskenk van die omstrede sakeman Markus Jooste was.

Mmusi MaimaneFoto: DAILY SUN

Thomas Walters, adjunkvoorsitter van die DA se federale raad, het Maandag gesê Maimane het self dié ondersoek aangevra. Die komitee sal werk onder voorsitterskap van dr. Dion George, ’n senior DA-LP.

Dít volg nadat Rapport Sondag berig het Maimane het in 2018 die motor gebruik in ’n tyd dat DA-LP’s Jooste in die parlement oor die kole gehaal het oor die bedrog by Steinhoff. Jooste was Steinhoff se uitvoerende hoof.

Maimane moes vroeër in September ook vure doodslaan toe dit aan die lig kom dat hy ’n huis in Claremont, Kaapstad, in sy parlementêre belangeverklaring gelys het as sy eiendom, terwyl dit aan Wessel Jacobs, ’n sakeman van Durban, behoort.

Maimane het Sondag die jongste onthulling op Twitter as ’n smeerveldtog deur “lamsakkige” individue teen hom beskryf.

Walters sê dit is normale praktyk in die DA dat die

federale finansies komitee die jongste beweringe ondersoek omdat “dié komitee enige kwessies hanteer wat betrekking het op die hulpbronne en die regulasies van die party”.

Hy het beklemtoon dié proses is nie ’n tugondersoek nie, nóg ’n veronderstelling van skuld. “Dit is om te kyk of die leier enige reëls oortree het.”

“Dit is suiwer om die feite te bepaal in ’n atmosfeer van duidelike anonieme lekkasies. As jy kyk die narratief wat geskep word, is dit belangrik om die feite te bepaal en dat dit ook later aan die publiek weergee geword. Dit gaan vir ons oor die feite en nie die narratief wat daarop gemik is om die beeld van DA te skaad nie.”

Die komitee sal ná sy ondersoek ’n verslag saamstel.

“As daar enige rede is om te glo dat die reëls verbreek is, sal dit na die toepaslike liggaam in die party verwys word vir besluitneming,” het Walters gesê.

Intussen het verskeie provinsiale DA-leiers Maandag hul steun vir Maimane as DA-leier uitgespreek.

Joe McGluwa, DA-leier in Noordwes, meen dit is onaanvaarbaar dat DA-lede die media gebruik in ’n poging om met mekaar af te reken, terwyl interne party-prosedures gebruik kan word om onderlinge geskille by te lê.

“Ek is hoogs ontsteld dat senior mense koerante toe hardloop. Dit is duidelik ’n soort posisionering vir die komende leiersverkiesing in 2021. Mense moet egter onthou dat 2021 is nog baie ver is en mense moet kalm bly. Ons het baie werk om te doen.

As mense ambisies het om DA-leier te word, is hulle in die DA vry om daardie ambisies by die volgende DA-verkiesingskongres te toets.

“Ons het Mmusi gekies en dit sal so bly tot in 2021 tot daar weer ’n (interne DA-leierskaps-)verkiesing is.”

Andrew Louw, DA-leier in die Noord-Kaap, het gesê DA-lede het die reg om vrae te vra oor sekere dinge, maar dat dit nie moet grens aan persoonlike aanvalle nie.

“As mense ambisies het om DA-leier te word, is hulle in die DA vry om daardie ambisies by die volgende DA-verkiesingskongres te toets.”

Jacques Smalle, DA-leier in Limpopo, het gesê daar is geen inligting wat vir hom daarop dui dat enige reëls oortree is nie.

Nqaba Bhanga, Oos-Kaapse DA-leier, meen daar is mense in die DA wat die party se fokus wil aflei van sy poging om ’n Suid-Afrika vir almal te bou. “Ons in die Oos-Kaap sal nie toelaat dat mense dit doen nie.”

Jane Sithole, DA-leier in Mpumalanga, het gesê sy is “100% agter die nasionale leierskap”.

Intussen het dr. Pieter Groenewald, VF Plus-leier, Maandag gesê sy party steun oproepe dat alle LP’s ondersoek moet word om te bepaal of hulle enige skenkings ontvang het of enige sake gedoen het met omstrede maatskappye.

Die vakbondfederasie en ANC-alliansievennoot Cosatu sê hy is nie verras oor die onthullings oor Maimane en Jooste nie “omdat die DA en Maimane al lank soos vakbondverteenwoordigers vir die private sektor in Suid-Afrika optree”.

Meer oor:  Da  |  Mmusi Maimane  |  Markus Jooste  |  Thomas Walters
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.