Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
DA-kongres gaan voort, ondanks sprake van ‘moordkomplot’

Die DA se beplande provinsiale kongres om ’n leier in die Wes-Kaap te kies, sal voortgaan, al is daar gerugte van ’n moordkomplot, sê Helen Zille.

Zille, DA-voorsitter van die federale raad, sê dié besluit is deur die voorsittende beamptes van die kongres geneem nadat die party se federale bestuur Donderdagaand vergader het.

Dié leierskapstryd om die toppos in die DA in die Wes-Kaap het ’n nadraai gehad nadat een van die kandidate sy mededinger van ’n moordkomplot beskuldig het.

Helen Zille, DA-voorsitter van die federale raad. Foto: Sarel van der Walt

Gerugte het die afgelope maand die ronde gedoen dat die huidige partyleier, Bonginkosi Madikizela, glo agter ’n komplot sit om die speaker van die Wes-Kaapse wetgewer, Masizole Mnqasela, wat meeding om dieselfde leierskapspos, te vermoor.

Volgens die gerugte het ’n fluitjieblaser glo gehoor hoe daar na bewering op ’n vergadering ’n gesprek was oor hoe om van Madikizela se “kompetisie” ontslae te raak.

Zille sê die federale uitvoerende gesag het dié ernstige aantyging as onwaar bevind nadat hy dit ondersoek het.

“Die federale regskommissie het die bewering as heeltemal onwaar bevind. Die bron van die valse gerug, ’n man wat slegs as Zizi bekend is, is deur die federale regskommissie opgespoor, waarna hy ’n beëdigde verklaring afgelê het,” sê Zille.

Zizi sê in dié verklaring dat hy op 18 September ’n vergadering in ’n restaurant in Kaapstad “waargeneem” het, waar hy dele van die gesprek gehoor het. Hy het toe tot die gevolgtrekking gekom dat een van die kandidate (Madikizela) planne teen die ander kandidaat (Mnqasela) beraam.

Zizi het Mnqasela in kennis gestel, waarna Mnqasela die polisie se BBP-beskermingseenheid oor die beweerde komplot ingelig het sodat ondersoek na die bewerings ingestel kan word.

Masizole Mnqasela, speaker van die Wes-Kaapse wetgewer, en ’n kandidaat vir die pos as leier van die DA in die provinsie. Die provinsiale DA kies die naweek sy nuwe leiers. Foto: Edrea Du Toit

Madikizela is oor die bewerings ingelig nadat misdaadintelligensie die voorval aan Alan Winde, die Wes-Kaapse premier, gerapporteer het.

“Die federale regskommissie het egter ná ’n volledige ondersoek tot die gevolgtrekking gekom dat die ‘moordkomplot’ en vergadering waarna Zizi verwys, nie kon plaasvind nie,” sê Zille.

Sy sê die betrokke restaurant waar Zizi glo die vergadering “waargeneem” het, is sedert die staat van inperking gesluit.

“Dié restaurant was steeds op 18 September gesluit toe die beweerde vergadering oor die moordkomplot glo plaasgevind het,” sê Zille.

Sy sê die regskommissie het dus tot die gevolgtrekking gekom dat die beweerde vergadering nie plaasgevind het nie.

“Zizi se motief om vals inligting aan Mnqasela oor te dra, is in hierdie stadium nog onbekend. Dit is bekend dat Zizi en Mnqasela mekaar ken en mekaar onderskeidelik ‘neef’ en ‘oom’ noem. Die polisie stel ondersoek in, en die DA het sy inligting aan die polisie beskikbaar gestel.”

Bonginkosi Madikizela, leier van die DA in die Wes-Kaap. Foto: Foto24

Die DA sê verder dat hy wil uitvind wat die motief agter Zizi se “openlike vals inligting” is en hoekom hy beoog om die DA en sy kongres skade te berokken.

“Die federale regskommissie het Mnqasela aangespreek omdat hy versuim het om die inligting wat aan hom verskaf is, voldoende te beoordeel voordat hy dit aan die polisie en die premier oorgedra het.”

Die federale regskommissie het Madikizela ook aangespreek omdat hy die bewering openlik ontken het voordat dit in die openbare domein was en dus verder só versprei het.

’n Verligte Madikizela het by navraag gesê hy is bly die kwessie is opgelos.

“Niemand verdien om deur te maak wat ek die afgelope tyd moes deurmaak nie: om jou onskuld te bewys terwyl jy weet die aantygings teen jou is onwaar.”

Madikizela sê hy gaan nie die uiteinde van die drama net so aanvaar nie.

“Die mense wat agter hierdie smeerveldtog sit, moet aanspreeklik gehou word. Ek sal voortgaan met my lastersaak teen dié wat my valslik beskuldig het.”

Mnqasela kon nie vir kommentaar bereik word nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.