SPESIALE VAKANSIE-AANBOD: Teken in teen net R49 vir jou eerste maand! Word 'n intekenaar
Politiek
‘DA kontak ons nié ná reklamebord’

Mmusi Maimane, DA-leier, het Donderdag by ’n gedenkdiens vir slagoffers van die Life Esidimeni-treurspel in Johannesburg om verskoning gevra aan familielede wat gebelg was oor die gebruik van slagoffers se name op die DA se omstrede reklamebord.

Past. Joseph Maboe sê Mmusi Maimane het nie vir hom en ander familielede van die 143 Life Esidimeni-slagoffers wie se name op ’n DA-reklamebord gepubliseer is, om verskoning gevra nie.Foto: Elizabeth Sejake

Hy het gesê dit is ’n geleentheid om families van “aangesig tot aangesig te ontmoet”. “Dit was nooit my bedoeling om enige iemand seer te maak met die reklamebord wat opgerig is nie. En dis hoekom ons vandag hier is, sodat ek werklik om verskoning kan vra en kan praat met die mense oor hierdie kwessie,” het hy gesê.

Maimane het bygevoeg dat dié families wat kwaad is omdat die DA sonder die families se toestemming die 143 name gebruik het wat op die amptelike lys van sterftes gepubliseer is, teenwoordig is en dat hulle sy verskoning aanvaar het.

Minstens drie familielede sê egter hulle is steeds nie deur die DA gekontak nie en dit maak hulle woedend. Past. Joseph Maboe, Sandra de Villiers en Christine Nxumalo is deel van die families op die amptelike lys. Hulle het ook kontak met ander families wie se geliefdes se name op die reklamebord is.

‘Dis net vir stemme, man.’

“Dis snert. Nie een van ons is deur die DA gekontak of na die diens genooi nie. Ons het die toespraak oor die nuus gesien en toe gehoor dat ons die DA glo vergewe het,” het ’n ontstoke Maboe Vrydag aan Rapport gesê.

De Villiers stem saam.

“As die DA so omgee, hoekom doen hulle dit nou eers net voor die verkiesing? Dis net vir stemme, man,” sê sy.

Mabine Seabe, ’n DA-woordvoerder, benadruk die families is beslis gekontak. “Daar was drie families by die diens, die Molois, Rashida Landis en ’n vrou wie se van Xaba is. Ek weet nie wat haar naam is nie. Ons is in kontak met hul komitee,” het hy Vrydag gesê.

Sandra de Villiers. Sy sê die DA het haar nooit gekontak om haar van aangesig tot aangesig om verskoning te vra nie.Foto: Deon Raath

Hy weet ook nie wat die name is van hul geliefdes wat geraak is nie en hul name is nie op die reklamebord nie. Maar hy sê dit is nie die punt nie: Hulle het die DA vergewe en dit gaan oor geregtigheid.

Volgens Nxumalo, een van die voorsitters van die oorspronklike ouerkomitee, lyk dit of dié drie families na wie die DA verwys, lede is van ’n nuwe komitee wat gestig is ná die arbitrasieproses verlede jaar om families met hul skadevergoedingseise teen die staat te help.

Elke familie wat by die arbitrasieverhoor betrokke was, is intussen met gemiddeld R1,2 miljoen vergoed.

Al 1 711 pasiënte wat egter uit vier Life Esidimeni-hospitale geskuif is, kon nie voor die arbitrasie bereik word nie. Daarom is ’n nuwe proses nou aan die gang. Nuwe eise moet by die Gautengse premier, David Makhura, se kantoor ingedien word, waar die geldigheid daarvan bevestig word.

Nxumalo is betrokke by die proses. Sy sê van die drie families wat by die gedenkdiens was, is net Rashida Landis se kind, wat na nieregeringsorganisasies geskuif is maar nie oorlede is nie, op die lys van 1 711 pasiënte.

Die Molois se seun Fannie is nie op die lys nie en daar is ’n moontlikheid dat hy nie ’n Life Esidimeni-slagoffer is nie omdat hy oorlede is voordat pasiënte uit die Life Esidimeni-fasiliteit in Germiston (waar hy versorg was) geskuif is.

Seabe sê egter die Molois se kind se naam ís op die amptelike lys en hul storie is verteenwoordigend van al die Life Esidimeni-slagoffers.

“En ons gaan nie ophou baklei voordat almal vergoed is vir hul pyn en die mense wat verantwoordelik was vir die massamoord aan die pen ry nie.”

Oor die ander families wat nie gekontak is nie, het Seabe net gesê dat Maimane Donderdag ook vir hulle om verskoning gevra het.

suzanne.venter@rapport.co.za

Meer oor:  Mmusi Mai­Mane  |  Life Esidimeni  |  Da
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.