Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
DA-leier se veldtog oorleef toe ‘sluipmoord’
Bonginkosi Madikizela toe hy in 2017 die eerste keer tot Wes-Kaapse leier van die DA verkies is. Regs van hom is Albert Fritz, wat gister tot adjunkleier verkies is.

Bonginkosi Madikizela is gister vir ’n tweede termyn tot provinsiale leier van die DA in die Wes-Kaap verkies, ondanks ’n poging om hom by ’n beweerde sluipmoordkomplot teen sy vernaamste teenstander te betrek.

Madikizela, ook Wes-Kaapse LUR vir vervoer, het Masizole Mnqasela, Wes-Kaapse speaker, Wendy Philander, Wes-Kaapse LPW, en Pieter van Dalen, oud-LP, uitgestof.

Sy verkiesing kom ’n dag nadat die DA se federale regskommissie bevind het daar is geen meriete in ’n bewering dat Madikizela ’n sluipmoord op Mnqasela beplan het nie.

’n Fluitjieblaser genaamd Zizi het beweer Madikizela het op ’n vergadering op 18 September by ’n hotel in Kaapstad gesê hy sal Mnqasela laat “uithaal”.

Helen Zille, voorsitter van die DA se federale raad, het in ’n verklaring gesê die regskommissie het gevind geen vergadering is op 18 September gehou nie en Madikizela was op die genoemde tyd in ’n aanlyn vergadering besig. Die hotel waar die beweerde vergadering sou plaasgevind het, was boonop gesluit.

Die polisie ondersoek steeds die bewerings.

Die verhouding tussen Madikizela en Mnqasela het in so ’n mate versuur dat die twee mekaar die afgelope week met regstappe gedreig het.

Madikizela het Vrydagoggend gesê hy is op 26 Oktober deur Alan Winde, Wes-Kaapse premier, oor die aantygings teen hom ingelig.

“Ek kon nie glo wat ek meegedeel is nie. Blykbaar is ek op 18 September in ’n hotel gesien met ’n sak kontant wat aan berugte bendelede oorhandig is om Mnqasela te vermoor,” lui sy verklaring.

Hy het in reaksie daarop vir Zille van die gebeure in kennis gestel.

Masizole Mnqasela

Senior afgevaardigdes in die party het die afgelope week aan Rapport gesê die “vuil veldtogte” van Mnqasela en Madikizela het groot ongelukkigheid in die party veroorsaak, met senior DA-leiers wat glo na ’n ander kandidaat gesoek het wat die twee kon uitdaag.

Winde is blykbaar selfs genader, maar hy wil fokus op sy huidige amp.

Philander, wat Vrydag aan Rapport gesê het sy is deur DA-vroue gevra om haar naam in die hoed te gooi, het voorverlede week haar kandidatuur bekend gemaak. Die afgelope week het ’n hele paar senior afgevaardigdes aangedui dat hulle haar steun.

In sy oorwinningstoespraak het Madikizela gevra vir eenheid as “ons wil ernstig wees om alle munisipaliteite in die Wes-Kaap te regeer”.

“Ons kort ’n stabiele party. Kom ons los die veldtogte vandag en maak seker dat ons van môre begin saamwerk.”

Albert Fritz, LUR vir gemeenskapsveiligheid, is tot adjunkleier verkies en Jaco Londt tot provinsiale voorsitter. ¦ In Noordwes het die DA ook gister leiers gekies. Leon Basson, LP en die party se woordvoerder oor water en sanitasie, is onbestrede tot provinsiale leier verkies nadat Joe McGluwa vroeër vanjaar aangedui het dat hy nie ’n derde termyn wil dien nie.

Freddy Sonakile is sy adjunk, terwyl Luan Snyders tot provinsiale voorsitter verkies is.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.