Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
DA-leier soek nou skuldige wat beweer hy wou moor

Die DA het hom kwytgeskeld van beweringe dat hy beplan het om sy vernaamste teenstander te laat vermoor, maar Bonginkosi Madikizela, wat die naweek as Wes-Kaapse leier van die DA herkies is, wil hê wetstoepassingsagentskappe moet steeds die beweringe ondersoek.

Daar is beweer Madikizela wou Masizole Mnqasela, speaker van die Wes-Kaapse wetgewer, deur ’n moordkomplot uit die weg ruim.

Madikizela, die Wes-Kaapse LUR vir vervoer, het dit uit die staanspoor ontken. Hy sê hy begin nou met regstappe.

“Ons moet uitvind wie die bron van en die motief agter die bewerings was. Die reg moet nou toegelaat word om sy gang te gaan,” het Madikizela gesê.

Bonginkosi Madikizela.

’n Fluitjieblaser met die naam Zizi beweer Madikizela het op ’n vergadering op 18 September by ’n hotel in

Kaapstad gesê hy sal Mnqasela laat “uithaal”.

Helen Zille, voorsitter van die DA se federale raad, het Vrydag, ’n dag voor die kongres, gesê die federale uitvoerende gesag het die aantyging teen Madikizela ondersoek en bevind dit is onwaar.

Die kongres is Saterdag aanlyn gehou en leiers vir die volgende drie jaar is verkies. Albert Fritz, LUR van gemeenskapsveiligheid in die Wes-Kaap, is tot adjunkleier verkies.

Jaco Londt is die nuwe provinsiale voorsitter en die drie ondervoorsitters is JP Smith, Grant Twigg en Geordin Hill-Lewis. Eric Marais is die nuwe voorsitter van finansies.

Die vier bykomende lede is Peter Helfrich, Carl Pophaim, Zimkhitha Sulelo en Lorraine Botha.

Madikizela sê dis duidelik die DA-lede wat gestem het, het nie die beweringe geglo nie.

Hy sê hy is dankbaar hy is onderwerp aan die DA se interne prosesse waarin die beweringe getoets is.

“Dit was nie bloot ’n geval of hulle my glo of nie, die beweringe moes getoets word. Ek is baie dankbaar dat die party dit gedoen het,” sê Madikizela.

“Ons as politieke leiers het die verantwoordelikheid om ernstige beweringe behoorlik te ondersoek.”

Madikizela sê dit was deel van sy verkiesingsmanifes om as Wes-Kaapse leier verkies word en dat hy nou alles in die stryd sal werp om die party te verenig wat verlede jaar bykans uitmekaargeskeur is weens binnegevegte.

“Ons moet nou weer daarop fokus om die DA te herbou in die aanloop tot volgende jaar se plaaslike verkiesing.

“Dit is van deurslaggewende belang dat die DA ná dié verkiesing al die plaaslike rade in die Wes-Kaap beheer,” het Madikizela gesê.

“Ons het verlede jaar baie kiesers verloor wat vroeër vir ons gestem het. Ons moet daardie kiesers terugwen.

“As ’n party wil groei, moet hy eers sy steun konsolideer. Ons moet seker maak ons kry die kiesers wat ons verlaat het terug. Ons moet ook aan hulle wys dat ons waardes nie verander het nie,” het Madikizela gesê.

Die DA moet eers stabiliseer om weer aanloklik te wees vir kiesers in die Wes-Kaap.

Prof. Erwin Schwella, ’n regeerkundige van die Hugenote Kollege in Wellington, sê soos dikwels in al die politieke partye in die land gebeur, was die binnepolitiek in die aanloop tot die verkiesing baie afbrekend.

“Die proses het egter ondanks die agtergrondgeruis sy verloop geneem, die leier en sy span is verkies en alles is deeglik besluit, genotuleer en in werking.”

Schwella sê die DA se interne regsprosesse is veel beter as dié in baie ander partye se kodes en reglemente.

Cameron Dugmore, ANC-leier in die Wes-Kaap, het Madikizela in ’n verklaring met sy verkiesing gelukgewens, maar sê dit sal nie die verdelings in die DA genees nie.

Hy stel ook voor Madikizela moet afstand doen van die “Helen Zille-kabaal” ten einde die armoede, ongelykheid en werkloosheid in die Wes-Kaap behoorlik te takel.

Voorts wil die ANC hê die wetgewer moet die beweringe teen Madikizela bespreek.

Meer oor:  Bonginkosi Madikizela  |  Sluipmoord  |  Politiek  |  Da
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.