Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
DA-leierskandidate daag mekaar ná komplot-bewerings

Twee van die mededingers om die DA-leierskap in die Wes-Kaap daag mekaar om regstappe te doen ná aantygings van ’n sluipmoordkomplot.

Gerugte doen die ronde dat die huidige partyleier, Bonginkosi Madikizela, glo agter ’n komplot sit om sy mededinger, Masizole Mnqasela, speaker van die Wes-Kaapse wetgewer, te laat vermoor.

Mnqasela het Vrydag gesê hy het nooit die aantygings van ’n komplot teen hom onder die aandag van die nuusmedia of partylede gebring nie omdat dit steeds deur die polisie ondersoek word.

Hy sê in ’n verklaring dit is “betreurenswaardig” dat Madikizela, ook LUR vir vervoer en openbare werke, voortydig die kwessie aan die media en publiek laat uitlek het.

Mnqasela beskuldig Madikizela, wat vir herverkiesing staan, van laster omdat hy glo gelieg het oor die komplot, en die verklikker wat Mnqasela daarvan ingelig het glo betaal het.

Volgens hom het Madikizela aangedui dat hy hom gaan dagvaar.

Masizole Mnqasela, speaker van die Wes-Kaapse wetgewer. Foto: Edrea du Toit

“Ek wag steeds daarvoor en moet tot die gevolgtrekking kom dat dit geen gronde het nie.”

Hy het Madikizela uitgedaag om die regsprosesse te volg om die probleem op te los.

Madikizela het Vrydagoggend in ’n verklaring gesê hy was op 26 Oktober betrokke by ’n tussenverkiesingsveldtog toe hy ingelig is dat die premier hom soek in verband met inligting wat hy van die beskermingsdienste ontvang het.

“Ek kon nie glo wat ek meegedeel is nie. Blykbaar is ek op 28 September in ’n hotel gesien met ’n sak kontant wat aan berugte bendelede oorhandig is om Mnqasela te vermoor.”

Volgens Madikizela het die polisie die inligting bevestig en aangedui dat Mnqasela weens dié bedreiging beter beskerming aangevra het.

Daarna het Madikizela die party deur middel van Helen Zille, voorsitter van die DA se federale raad, van die aantygings in kennis gestel en die kwessie na die party se federale regskommissie verwys.

Hy het ook glo in ’n brief vir Mnqasela gevra dat hy die aantygings terugtrek “omdat hy weet dit nie waar is nie” en het ’n antwoord ontvang dat Mnqasela nie uitlatings daaroor wil maak nie omdat die saak “sub judice” is.

Madikizela het gesê hy is nie bewus van ’n strafregtelike saak nie en het Mnqasela uitgedaag om ’n saak teen hom aanhangig te maak.

Intussen het die federale regskommissie Vrydag sy bevindings bekend gemaak dat die aantygings van ’n sluipmoordkomplot onwaar is.

Dié bevinding is deur Madikizela verwelkom, maar hy voer aan dat hy in oneer gebring is en het ’n lastersaak teen Mnqsela ingedien.

“Niemand verdien om hierdeur te gaan omdat iemand desperaat is om ’n kongres te wen nie.”

Bonginkosi Madikizela, die DA se leier in die Wes-Kaap en LUR vir vervoer en openbare werke. Foto: Malherbe Nienaber

Zille het Vrydag bevestig dat die beplande provinsiale kongres die naweek voortgaan, ondanks die gerugte van ’n komplot.

Sy het in ’n verklaring bevestig dat die federale raad die vorige aand ’n derde verslag van die regskommissie bestudeer het “oor een van die ernstigste aantygings nog in die DA”.

Tydens die kommissie se ondersoek is die bron van die valse gerugte, ’n ene Zizi, opgespoor en het hy ’n beëdigde verklaring afgelê.

Hy het na bewering die “vergadering” met Madikizela op 18 September gesien en Mnqasela ingelig.

Zille sê die ondersoek het bevind dat die vergadering nooit plaasgevind het nie, dat Madikizela in daardie stadium met ’n aanlyn vergadering besig was en dat die hotel oor die nasionale inperking gesluit is.

Sy het benadruk dat die DA wil vasstel wat die motiewe vir die oorhandiging van die inligting was en dat die polisie die saak verder ondersoek.

Mnqasela en Madikizela is deur die regskommissie oor die vingers getik, eersgenoemde omdat hy nie inligting wat hy ontvang het behoorlik nagegaan het nie, en laasgenoemde omdat hy die aantygings ontken het nog voordat dit in die openbaar was, en dit dus verder laat versprei het.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.