Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
DA-leierstryd: Zille sal uitslag ‘uiteraard’ aanvaar

As sy nie die nuwe voorsitter van die federale raad van die DA word nie, sal sy die uitslag aanvaar.

Só sê Helen Zille, die vorige DA-leier, en een van vier kandidate vir dié pos.

Die nuwe voorsitter word Sondag op die party se federale raadsvergadering in Bruma, Johannesburg, verkies.

Dié verkiesing en die voorafgaande raadsvergadering word beskou as een van die belangrikste tot nog toe in die party se geskiedenis.

Helen Zille
Atholl Trollip
Mike Waters
Thomas Walters

Die verkiesing word Saterdag voorafgegaan deur ’n bespreking van die verslag van ’n hersieningspaneel wat ondersoek ingestel het na die DA se swak vertoning in die algemene verkiesing in Mei.

Hoewel daar vier kandidate vir die pos van voorsitter van die federale raad is, is Zille en Atholl Trollip, die huidige DA-voorsitter, waarskynlik die groot gunstelinge om James Selfe op te volg.

Mike Waters, adjunkvoorsitter van die federale uitvoerende komitee, en Thomas Walters, adjunkvoorsitter van die federale raad, is die ander twee kandidate.

Hoewel haar ondersteuners hoopvol is dat Zille sal wen, sê kenners dit is baie moeilik om die uitslag te voorspel.

’n Opvolger moet vir Selfe gevind word omdat hy voortaan in die nuwe pos van hoof van die DA se eenheid vir staatsbestuur sal dien.

Zille, wat tot die algemene verkiesing premier van die Wes-Kaap was, het onlangs eers haar naam in die hoed gegooi. Dit het ’n fladdering in die DA-duiwehok veroorsaak.

Toe sy Vrydagmiddag gevra is of sy die uitslag sal aanvaar as sy sou verloor, het Zille aan Netwerk24 gesê: “Ja, uit die aard van die saak. Ek is ’n demokraat.”

Die uitslag van die verkiesing word Sondag omstreeks 12:00 verwag.

Zille het vroeër gesê sy het besluit om haar verkiesbaar te stel omdat die DA deur ’n traumatiese tyd is, en die afwaartse spiraal in die party voortduur.

“Ek is oortuig as die DA misluk, sal Suid-Afrika se demokrasie misluk. Ons moet weer op ’n ferm

grondslag kom met duidelike rigting gesteun deur ’n professionele, bekwame administrasie.

“Ek is bereid om ’n ondersteunende rol te speel om dit te help bereik. Ek is lief vir die DA en kan nie sit en toekyk hoe die party deur ’n krisis gaan nie,” het sy gesê.

Trollip, vorige burgemeester van die Nelson Mandelabaai-metro in Port Elizabeth, se standpunt is dat die verskillende faksies in die party verskillende vertolkings het van wat die DA probeer bereik.

“Die DA verteenwoordig die enigste realistiese alternatief tot die mislukte ANC.

“Faksies kom voor wanneer daar swak leierskap en swak dissipline is. Ek glo ek kan albei dié tekortkominge

pak.”

Die DA het in die verkiesing heelwat steun aan veral die VF Plus afgestaan, en gesukkel om swart steun by veral die ANC weg te rokkel.

Trollip meen die DA kan dié steun terugwen.

Sedert die verkiesing het die VF Plus twee munisipale wyke, in Stilfontein en Potchefstroom in Noordwes, by die DA afgeneem en in ander tussenverkiesings oor die land heen ’n groot duik gemaak in die DA se steun.

In die hersieningspaneel se verslag word onder meer voorgestel Mmusi Maimane, die DA-leier, moet bedank, sowel as Paul Boughey, die party se uitvoerende hoof.

Boughey het Donderdag aangekondig dat hy ná vyf jaar die tuig gaan neerlê.

Maimane skop vas.

Sowetan het Vrydagmiddag berig die DA se provinsiale leiers in die Oos-Kaap, KwaZulu-Natal, Vrystaat, Limpopo en die Noord-Kaap steun Trollip.

‘Waters of Walters nie dalk beter vir DA?’

Hoewel Helen Zille en Atholl Trollip die gunstelinge is om Sondag verkies te word as nuwe voorsitter van die DA se federale raad, wonder hy of dit nie eerder in die DA se belang sal wees as Mike Waters of Thomas Walters voortaan dié pos beklee nie, sê die politieke ontleder Theo Venter van die Noordwes-Universiteit.

“Die DA sê hy wil dié naweek hergroepeer. Die groot vraag wat die DA homself moet afvra is of dit nie dalk in die party se beste belang is om eerder ’n ‘fasiliterende voorsitter’ te kies as ’n ‘dominante voorsitter’

om Mmusi Maimane (die partyleier) by te staan nie.”

Trollip en Zille is albei dominerende persoonlikhede, terwyl Walters en Waters dit nie is nie, sê Venter.

Venter sê dis baie moeilik om te voorspel wie sal wen, maar sy gevoel sê vir hom dit sal Zille wees omdat sy ’n bewese rekord op die hoogste vlak het.

Sy kollega Piet Croucamp sê op sy beurt hy sal verbaas wees as Zille wen. Hy meen die swart, bruin en Indiër-lede in die federale raad sal vir Trollip, wat baie na aan Maimane is, stem, en die wit lede vir Zille.

“Dit is amper onmoontlik om te voorspel omdat jy nie weet watter faksievorming daar agter die skerms plaasvind nie,” sê Croucamp. – Sarel van der Walt

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.