Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Zille: Gaan Mashaba bedank?
Helen Zille Sondagmiddag op ’n mediakonferensie in Johannesburg nadat sy tot voorsitter van die DA se federale raad verkies is. Langs haar sit Mmusi Maimane, DA-leier.Foto: Sarel van der Walt

Die DA moet daarteen waak dat daar nie twee gelyke magsentrums in die party ontstaan ná die verkiesing van die voormalige DA-leier Helen Zille tot voorsitter van dié party se federale raad nie.

Dié waarskuwing kom van prof. Dirk Kotzé, ’n politieke ontleder van Unisa.

Die DA se federale raad het die 68-jarige voormalige Wes-Kaapse premier Sondagoggend in Johannesburg in ’n verkiesing bo Athol Trollip, Mike Waters en Thomas Walters tot dié belangrike pos verkies.

Haar verkiesing het reeds rimpelings veroorsaak.

Herman Mashaba, DA-burgemeester van Johannesburg, hou Maandagoggend ’n mediakonferensie  waarop hy moontlik sal sê of hy die DA gaan verlaat of nie.

News24 berig Mashaba het die naweek met sommige DA-leiers vergader en gesê hy sal bedank as Zille wen. Hy het vroeër al gedreig hy sal loop as die party oorgeneem word deur “regse elemente”.

eNCA berig hulle het betroubaar verneem dat Mashaba sy bedanking gaan aankondig.

Daar word druk bespiegel Zille kan ’n doring in die vlees van die partyleier, Mmusi Maimane, wees.

Maimane en die DA is onder groot druk sedert die DA se sukkel-vertoning in vanjaar se algemene verkiesing toe hy baie steun aan die VF Plus afgestaan en nie groot getalle kiesers by die ANC kon afrokkel nie.

Dit is belangrik dat Zille haar nou beperk tot haar nuwe rol agter die skerms en nie betrokke raak by beleidsdebatte in die DA nie.
Dirk Kotzé

Kotzé sê dit is belangrik dat Zille haar nou beperk tot haar nuwe rol agter die skerms en nie betrokke raak by beleidsdebatte in die DA nie.

“Sy is nou die fasiliteerder en nie een van die groot deelnemers nie. Dit is haar instink om te wil deelneem en een van die groot rolspelers te wil wees.

“Dit sal nie ’n maklike taak wees om James Selfe (wat ná 19 jaar uitgetree en ’n nuwe pos in die party sal opneem) se skoene te vul nie. Hy het as voorsitter agter die skerms die hande van drie leiers (Tony Leon, Zille en Maimane) omhoog gehou.

“Helen Zille se groot toets is of sy dieselfde kan doen,” sê Kotzé.

“Sy moet haarself daarvan weerhou om ’n nuwe magsentrum in die DA te word wat op ’n gelyke basis is as dié van Maimane.”

Die politieke ontleder Ralph Mathekga het gesê die DA sal die hertoetrede van Zille moet verduidelik in die lig van haar onlangse houding en bespiegeling dat sy die “ou DA” verteenwoordig.

“Die DA het myns insiens nou met Zille ’n vreemde rigting ingeslaan,” sê Mathekga.

Zille self het ná haar verkiesing op ’n mediakonferensie gesê sy sal in haar baan bly en fokus op haar rol op die agtersitplek.

“Ek sal in my baan bly en deelneem waar dit van my verwag word. Ek weet presies wat die posbeskrywing van my nuwe pos is en wat van my verwag word.”

Die voormalige DA-leier sê dit sal haar werk wees om seker te maak al die party se ratte werk saam.

Prof. Amanda Gouws van die Universiteit Stellenbosch se departement van politieke wetenskap sê Zille was die mees bekwame kandidaat.

Gouws sê Zille se verkiesing sal Maimane se lewe nog moeiliker maak en sy vermoed die DA gaan meer steun verloor, veral onder bruin en swart kiesers. “Helen Zille se twiets (oor kolonialisme) is nog vars in hul geheue.”

Theo Venter, politieke ontleder en beleidspesialis by die Noordwes-Universiteit se sakeskool, sê hy glo die DA het die beste uit twee omstrede kandidate (Zille en Trollip) gekies.

Venter meen Zille is die kandidaat wat die herstrukturering van die DA die beste sal kan hanteer en help om die stemme wat die party verloor het, terug te kry.

* Leon, Zille se voorganger as DA-leier, het Sondagaand gesê hy wil nie kommentaar lewer nie, maar wel gesê hy wens Zille “sterkte toe met dié groot taak”.

* Maimane het op die mediakonferensie aangekondig die DA sal reeds volgende jaar in die aanloop tot die bestuursverkiesing in 2021 ’n beleids- en leierskapskonferensie hou.

Meer oor:  Herman Mashaba  |  Helen Zille  |  Politiek  |  Da
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.